Tag Archives: Ou & Nuwe verbond

1 Konings 18

Sjoe, vandag se stuk laat ‘n mens se tone krul van lekkerkry. Die kragtige manier waarop die Here die Baälprofete verneder het, het geen twyfel in mense se gemoed gelos of die Here ernstig geneem moet word nie.

Partykeer wens mens dat die Here vandag weer so klinkklaar sal afreken met almal wat Hom bespot. Oms wil dan ook soos Elia vuur vanuit die hemel uit afroep.

Maar dan word ons herinner aan die geleentheid toe Jesus se dissipels vuur uit die hemel op die Samaritane wou afroep. Jesus het egter nie met dit akkoord gegaan nie. Ky net wat het gebeur:

Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na ’n ander dorp vertrek. (Luk 9:55-56)

Sou ons kon sê dat die manier waarop God sy grootheid in Ou Testament aan mense bewys, verskil van die manier waarop Hy dit in die Nuwe Testament doen? In die Ou Testament was dit met kragdadige wonders. Maar in die Nuwe Testament bewys die Here sy grootheid deur sy liefde. 

As ons dus vir die wêreld wil wys dat ons God “eg” is (soos Elia gedoen het), dan moet ons nie vuur afroep soos die dissipels nie, maar die Here se liefde aan mense openbaar.

Eksodus 34 (12 April)

Wanneer mens die Ou Testamentiese verhale lees, kan mens nogal maklik dink “Wow!” dit moes wonderlik wees om in daardie tyd te leef en die dinge te sien wat hulle beleef het. Neem nou maar as voorbeeld die feit dat Moses se gesig geskitter het elke keer as hy klaar met die Here gepraat het.

Maar dit is wat dit so interessant maak om die Bybel in sy geheel te lees. Paulus sal byvoorbeeld heeltemal met daardie indruk dat die “ou tyd” beter was, verskil. In 2 Kor 3 skryf hy dat die rede hoekom Moses sy gesig moes toemaak, was omdat hy nie wou hê dat die mense moes sien dat die skynsel aan die afneem was nie (2 Kor 3:13)

Dan kontrasteer Paulus die ou verbond met die verbond waarin ek en jy nou staan, en hy maak die punt dat hierdie verbond soveel beter is. Waar Moses se se heerlikheid afgeneem het, is die heerlikheid waaraan ons deel het besig om toe te neem en toe te neem (2 Kor 3:18)

Ek het dikwels nodig om hierdie weer en weer te hoor: Die toegang wat ons nou tot die Here het (deur die Heilige Gees), is baie meer as wat Moses of enige iemand anders ooit onder die ou verbond gehad het. Ons moenie die ou verbond ophemel nie. Ons moet die nuwe verbond ontdek…

Gebed: Kom ons vra die Here dat Hy ons sal onderrig in die dinge aangaande die Heilige Gees.

Eksodus 32 (9 April)

Hierdie bly darem altyd vir my ‘n mooi stuk met soveel ironie. Die volk probeer goue bul maak – maar die Bybel noem dit ‘n bul-kalf (natuurlik om ‘n bespotting te maak van hul poging voor die Here). Verder neem Aaron ‘n duidelike leidende rol in die maak van die kalf. Maar wanneer daar rekenskap gevra word, noem hy dat hulle die goud net in die vuur gegooi het en dat die kalf vanself daaruit gekom het (v25).

Daat laat my baie aan my eie onwilligheid dink om eienaarskap vir my sonde te neem.

Maar hierdie gedeelte word ook weer later in die Nuwe Testament baie belangrik. Paulus was baie lief daarvoor om die ou verbond en die nuwe verbond teen mekaar af te speel. Hy vergelyk in heelwat van sy briewe die bedeling van die wet met die bedeling van genade.

So noem hy dan ook in 2 Kor 3:6 dat die wet doodmaak maar die Gees lewend maak. Wat bedoel hy daarmee?

Hy verwys na die feit dat die dag toe wet gegee is, moes die leviete 3000 mense doodmaak (Eks 32:28). Maar die dag toe die Heilige Gees uitgestort is, het 3000 mense tot bekering gekom.

Gebed: Vra die Here om jou te help om nie soos Aaron jou sonde te ontken nie, maar dank die Here dat jy nou in ‘n nuwe bedeling mag staan wat lewe gee!

Eksodus 30 (7 April)

Ek lees deur vandag se stuk en word sommer getref deur hoe ryk en hoe diep die Bybel se storielyn is.

In Eksodus 30 lees ons in byvoorbeeld vers 26-29 van die “toebehore” wat gesalf moet word en dan sal dit gewyd wees. Dit sal met ander woorde heilig wees. Dit is nou instrumente soos die tafel, die kandelaar, die wierookaltaar – en dan natuurlik al die gepaardgaande grawe en tange om die vuur te hanteer ens.

Waar ons nou in Eksodus trek, het ons al gesien dat daar in die ou verbond 4 heilige dinge is:

  • Heilige tyd (die Sabbat)
  • Heilige persone (die priesters)
  • Heilige plekke (die verbondstent en later die tempel)
  • Heilige voorwerpe (instrumente soos genoem in oa Eks 30)

Hierdie 4 heilige kategorieë moes eenkant gehou word om altyd te verseker dat daar ‘n skerp verskil tussen die alledaagse en die heilige was. God is heilig en kan nie meng met die “profane” nie.

Maar dan kom Jesus. En Jesus kom krap alles om. Na sy dood – wat versoening bewerk – begin die nuwe testament ‘n klomp begrippe herinterpreteer.

  • Skielik kry jy nie meer die onderskeid tussen “heilige tyd” en “alledaagse tyd” nie. Hebreërs 4:1-11 se boodskap is dat “vandag” ‘n Sabbat is. Elke dag is nou heilige tyd.
  • Skielik kry jy nie in die nuwe verbond sekere mense wat meer heilig is as ander nie. Dit was juis wat so treffend was van die uitstorting van die Heilige Gees. Naamlik dat Hy uitgestort is op mans sowel as vrouens. Volwassenes sowel as kinders. Leiers sowel as Jan-alleman.
  • Jy kry ook nie meer heilige plekke nie. Paulus benadruk dit mos: “Weet julle dan nie dat die tempel nou julle liggame is nie?
  • En die heilige voorwerpe waarvan ons in vandag se stuk lees? Hoe word dit geherinterpreteer? In 2 Tim 2:21 vergelyk Paulus voorwerpe wat vir alledaagde gebruik is, met voorwerpe vir “besondere gebruik” (hoor “heilig“). Hy sê: “As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees” (2 Tim 2:21)

Dit is vir my wonderlik hoe die ou testament se heilige tyd, plek, persone en voorwerpe in en deur Jesus – en die uitstorting van die Heilige Gees – vervul word.

Gebed: Vra die Here om vir jou die grootsheid te laat besef dat ook jy ‘n instrument in sy koninkryk is vir “besondere gebruik”.

Eksodus 20 (5 Maart)

As jy Eksodus 20 lees, kan mens nie help om ‘n gevoel van eerbied te kry nie. Die gee van die Wet (20:1-17) word omarm deur 2 gedeeltes wat die volk se angs beklemtoon (19:20-25 en 20:18-21). Jy kan nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat jy hier met ‘n groot God te make net nie. Uiterste respek is die enigste gepaste reaksie.

En tog los Eksodus 20 jou ook met die gevoel van onvervulling. Enige wet is op die minimum vereiste ingestel. As jy byvoorbeeld net wil gehoor gee aan die wet om jou kinders skool toe te stuur, dan het jy nog nie by hulle die begeerte geskep om leergierig te wees nie. En op een vlak is dit oa ‘n verskil tussen die Ou en die Nuwe verbond. In die Ou verbond sê die wet jy mag nie jou medemens vermoor nie (minimum vereiste). In die Nuwe verbond bemagtig die Heilige Gees ons om ons medemens lief te hê (maksimum prestasie). Dit is soos die teoloog Paul Zahl sê, dít wat die Wet vereis, kan die Wet nie by ons wek nie. Daarteenoor is dít wat die Gees in ons wek, geen Wet oor nie.

Die kort en die lank is dat Eksodus 20 vir ons God se heiligheid onderstreep. En ook ons aan die voorreg herinner om kinders van die Nuwe verbond te mag wees.

Gebed: Sê vir die Here dankie dat Hy sy Heilige Gees in ons harte gestort het, en dat jy jou lewe nou wil inrig aan die hand van hoe die Gees lei en volgens die vrug wat Hy in jou lewe wil bewerk.