Tag Archives: Messiaanse verwagting

Sagaria 3

Vandag se hoofstuk is hiendervleismooi, né?

Sagaria sien ‘n gesig waar die hoëpriester van daardie tyd, Jesua, voor die Engel van die Here staan (Die term “engel van die Here” verwys in hierdie geval na die Here self).

Die gedeelte meld dat Jesua soos ‘n stuk brandhout uit die vuur gered is. Dit is ook so. Sy Oupa, Seraja, is in Babel doodgemaak. Sy Pa, Josadak, is as balling na Babel weggevoer. Dat Jesua met sy lewe weggekom het, is ‘n wonder!

In die gesig staan die Satan aan die regterkant van die Here – die tipiese plek wat die aanklaer in ‘n troonsaal van die koning sou inneem. Jesua die hoëpriester word as sondig en onrein beskou, maar die teks sê nie hoekom nie.

Die wonder van genade speel af toe die Here vir sy engele opdrag gee om Jesua te reinig en nuwe klere vir hom aan te trek. Dit is genade, want dit is nie deur Jesua se toedoen nie.

Dieselfde lot kom ons natuurlik ook oor. Sonder dat ons dit verdien, kom reinig die Here óns deur sy seun, Jesus Christus. Jesus vervul eintlik hierdie profesie op ‘n baie besonderse manier.

Die Here het byvoorbeeld vir Jesua gesê:

“Daarna het die engel van die Here vir Jesua belowe: “So sê die Here die Almagtige: As jy lewe soos Ek dit wil, as jy die voorskrifte vir my diens onderhou, sal jy die gesag hê oor my huis, die verantwoordelikheid dra vir my heiligdom. Jy sal toegang tot My hê, net soos hierdie engele.” (Sag 3:6-7)

Jesua sou natuurlik nie volledig aan hierdie voorskrifte kon voldoen nie. Hy was maar net ‘n mens. Hy kan onmoontlik al die voorskrifte onberispelik onderhou. Maar Jesus het wel gelewe soos God wil. Gevolglik het Jesus die “gesag oor God se huis verkry”. Hy is nou die kop van die liggaam, die hoof van die Kerk. Jesus het ook vrymoedige toegang tot die Vader. Hy het, om die waarheid te sê, die Satan uitgewerk en nou sy plek aan die regterhand van die Vader ingeneem.

Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat die Een wat nóú aan die regterhand van die Vader sit, geen aanklag teen ons inbring nie! Inteendeel, die vrymoedige toegang wat Hy by die Vader geniet, deel Hy ook aan ons uit.

Voorwaar ‘n wonderlike vervulling van hierdie profesie!

Job 19

Job is in hierdie hoofstuk van die boek aan die woord. Hy sê: “weet dan dat dit God is wat my die onreg aandoen en in sy net gevange hou” (Job 19:6)

Nou moet ons sy woorde mooi bedink: Onthou in die eerste plek dat hy dit sê in teenreaksie op sy vriende wat hom daarvan beskuldig dat al die lyding hom oorkom omdat hy sonde gedoen het. Ons en Job weet dit is nie waar nie. Maar Job is nie bewus van die ooreenkoms wat God met Satan het nie nie. Daarom is Job in hierdie verse net so verkeerd soos sy vriende deur lyding aan God toe te skryf! Op ‘n soortgelyke wyse loop óns die gevaar wanneer ons foutiewelik leed en smart aan ‘n liefdevolle God toeskryf – dít terwyl ons so beperkte perspektief (net soos Job) op die realiteit het.

Job het wél te midde van sy beperkte perspektief, besonderse geloof openbaar. Hy gaan voort om te sê:

“Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer! Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien. Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie. Ek smag daarna met my hele lewe.” (Job 19:25-27)

‘n Losser is iemand wat ‘n slaaf vrykoop of uitkoms vir ‘n weduwee gebring het. Job verklaar dat God sy Losser is. Heimlik wéét hy dat God aan sy kant is en vir hom uitkoms sal bring. In ag genome die feit dat Job eintlik nog onder die indruk is dat dit God is wat hom pynig, is hierdie hunkering van Job merkwaardig. Dit is eintlik geloof wat ons sou verwag by ‘n Nuwe Testamentiese gelowige. Veral omdat Job hier praat van lewe na die dood – iets wat die Ou Testamentiese mens op hierdie stadium nog nie aan geglo het nie. Hulle het geglo almal gaan na “hades” die doderyk wanneer jy te sterwe kom.

Óns as Nuwe Testamentiese gelowiges sou met ander woorde Job 19:25-27 in ‘n voller lig kon beskou teen die agtergrond van ons “Losser”, Jesus Christus. Mag ons ook midde in ons beproewinge wéét dat God vír ons is. Wie kan teen ons wees?

Rigters 1

Ek waarsku jou nou al: Die geweld in hierdie boek gaan so dik loop dat jy voel jy daaraan kan verstik. Die klimaks van die hele Rigters, vind ons in die laaste vers van die boek: “Elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë” (Rigters 21:25)

Dit is die klimaks van die boek, maar dit is ook die laagtepunt van die boek. Hierdie tema is vervleg deur die hele boek, wat veroorsaak dat die boek die vorm van ‘n afwaartse spiraal aanneem.

Reeds in die eerste hoofstuk – vandag se hoofstuk – sien ons die eerste spore hiervan. Dit voel vir ons of die geweld teen die inwoners van die land, byna ‘n “free-for-all” vir die Israeliete word. Elkeen kan besluit wie hy wil doodmaak en hoe hy dit wil doen.

Mens kry die indruk reeds in die eerste hoofstuk, dat die volk hulle vergryp aan geweld. Dit is natuurlik baie maklik om in hierdie strik te trap: As daar ongeregtigheid teenoor jou begaan is, dan rasionaliseer jy jou eie verkeerde optrede om dit reg te stel. Ons sien hierdie tipe dinge elke dag in ons land afspeel. Die gevolg is dat wetteloosheid toeneem en eskaleer.

As jy eers jou aan wetteloosheid oorgegee het, dan word die volgende misstap net nog makliker en makliker. Dit is wat gebeur met mense wat nie meer die Wet (Die Here se wil) as hulle rigsnoer gebruik nie.

Kom ek en jy bid vandag dat ons prima plek aan die Here se Woord in ons lewens sal gee. Dat dit die rigsnoer in ons lewe sal bly. Dat ons nooit ons sonde sal rasionaliseer of regverdig nie.

Hou verder in gedagte, soos wat die boek in sy afwaarste spiraal beweeg en op ‘n laagtepunt eindig, dat geen menslike leier ooit waarlik vir ons kan uitkoms gee nie. Die boek eindig met ‘n dors na iets meer. Daardie versugting na ‘n Messias word uiteindelik deur Jesus beantwoord! Hy is gans anders as enige menslike leier.

Lukas 7

Johannes se volgelinge kom by Jesus aan om namens Johannes seker te maak of Jesus werklik is wie hulle gehoop het Hy is.  Miskien het hulle gedink sou Jesus al teen hierdie tyd met sy politieke veldtog begin het? Miskien is dit gewone twyfel soos wat ons almal van tyd tot tyd oorkom.

Ek is altyd verbaas hoekom Jesus nie net Johannes direk geantwoord het nie. Maar Jesus antwoord met die woorde: Luk 7: 21 “Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig“.

Wat agter hierdie antwoord sit is die Messiaanse profesieë in die Skrif. Jesus versterk nie Johannes se geloof deur sy ego te streel nie, maar deur hom weer na die Skrif toe te neem.

Is dit nie presies die teenoorgestelde wat ons vandag doen nie? Ons dink die teengif vir twyfel is nog kennis, nog boeke. Jesus se medisyne was Skrif.

Jesaja 9

Ek is altyd verbaas hoe belangrike rol name in die antieke wêreld gespeel het. Vir hulle was name nie maar net iets waarmee jy iemand anders mee roep nie. ‘n Naam het die karakter van iemand beskryf. Neem byvoorbeeld net hoe belangrik die onderskeie name is wat die verwagte Messias in Jesaja 9 mee beskryf word…

Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.

  • Wonderbare Raadsman: Hierdie Messias sal nie raad van ander benodig nie, want God is sy raadgewer.
  • Magtige God: Die Messiaskoning is God se direkte verteenwoordiger op aarde.
  • Ewige Vader: Soos dit ‘n koning betaam, sorg hierdie Messiaskoning vir sy onderdane soos ‘n Vader.
  • Vredevors: Elkeen wat onder sy heerskappy staan, sal ware harmonie ken.

Dit is vier name – vier titels – van die Messias wat baie betekenisvol selfs vir ons vandag is.