Tag Archives: Menseverhoudinge

Levitikus 19

Ek geniet altyd die boek Levitikus vreeslik baie. En vandag se hoofstuk is geen uitsondering nie.

Mens kan maklik verkeedelik dink dat niks in vandag se hoofstuk meer raakvlakke het met vandag se samelewing nie. Maar ons sal verkeerd wees as ons dink dat mens altyd ‘n direkte, een-tot-een, raakvlak moet vind.

Dit gaan veel eerder oor beginsels wat mens moet soek. Kom ek verduidelik…

Vandag se gedeelte begin met die bekende oproep: “Wees Heilig want Ek die Here julle God is heilig.” Lev 19:2

En dan volg daar ‘n rits bepalinge oor hoe ‘n heilige lewe behoort te lyk. Mens moet toegee, die outeur(s) het gevisualiseer dat ‘n heilige lewe baie prakties uitgeleef gaan word. ‘n Heilige lewe sou nie ‘n kloosterlewe wees, waar jy van ander mense afgesonder is nie.

‘n Heilige lewe sou een wees waar jou lewe ten diepste ge-integreer sou wees met die lewe van ander mense rondom jou – en selfs die omgewing waarbinne jy jou bevind.

Ja, die voorbeelde wat in Hoofstuk 19 opgenoem word is volksvreemd vir ons vandag. Daar is tog nie meer iets soos tempelprostitusie vandag nie.

Maar kyk ‘n bietjie wyer. Wat simboliseer die voorbeelde wat opgenoem word? Gou sal jy sien dat dit oor die verhoudinge gaan waarbinne ons staan.

Die oproep begin dus met: “Wees heilig want Ek is heilig”. En dan lyk heiligheid so…

  • Verhouding met God het ‘n effek op jou verhoudinge met medemense. (bv vers 32)
  • Verhouding met God het ‘n effek op jou verhouding met die natuur en omgewing waarbinne jy leef. (bv 23)
  • Verhouding met God het ‘n effek op jou verhouding tot die geesteswereld. (bv 31)

Die groot gedagte is dat ‘n heilige lewe waartoe ons opgeroep word, ‘n lewe is waar jou verhouding met God ten diepste ge-integreer is met elke faset van jou alledaagse lewe.

 

Rigters 12

Vamdag se hoofstuk los maar ‘n frank smaak in my mond. Ons lees dat die Efraimiete na die afloop van Jefta se oorwinning oor die Moabiete, kwaad na hom toe gekom het omdat hulle nie ook by die geveg betrek is nie.

Die geskil tussen hom (en die manne van Gilead) en die Efraimiete eskaleer vinnig en hulle raak sommer slaags. 42 000 Mans van die stam Efraim sterf in hierdie oorlog.

Hierdie burgeroorloog was is tragies. Wanneer een broer teen ‘n ander broer veg, is dit altyd ‘n laagtepunt en niks om op trots te wees nie. Hierdie is nie juis ‘n veer in Jefta se leierskapshoed nie. Veral omdat dit vir ons lyk of Jefta en sy manne hierdie insident gebruik het om ‘n geskil van baie jare tevore te wreek (vers 4).

Is dit nie wat maar met ons ook gebeur wanneer ons nie van harte vergewe nie? As ons weer ‘n verskil met dieselfde persoon optel, is die intensiteit waarmee ons op die nuwe insident reageer, onvanpas. Dit verklap altyd aan ons dat daar onafgehandelde emosie in ons hart skuil. So iets loop altyd uit op sonde – nie noodwendig oorlog soos in Jefta se geval nie – maar ons optrede verheerlik nie die Here nie.

Efraim self was natuurlik nie onskuldig nie. Hulle het in hoofstuk 8 ook vir Gideon verwyt omdat hulle nie in die oorlog betrek is nie. Efraim was veglustig, en dit sluit by die breër tema van geweld aan in hierdie boek.

Efraim se veglusitgheid was ook nie omdat hulle kwansuis uit “lojaliteit” hulle broerstam wou help nie. Hulle wou eintlik net ook deel in die “eer” wat daarin gelê het om ‘n ander volk te wen. Dit is met ander woorde magsug en eersug wat op veglusitgheid uitloop.

En dan gebeur met Efraim die stuk ironie: Hulle wou verhef word, maar toe word hulle verneder deurdat hulle toe teen Gilead verloor. Ons sien hierdie tema van nederigheid vs hoogmoedigheid orals in die Bybel. Psalm 75 sal byvoorbeeld sê: “Moenie jouself verhef nie” – want wie homself verhef kom tot ‘n val. Of Jesus sal sê: “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.” (Luk 14:11). Later sal Jakobus skryf: “Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog” (Jak 4:10)

Mag ek nie net die uiterlike vertoon van nederigheid hê nie, maar ‘n innerlike hartsbesnedenheid. Die Here hou van die nederige persoon, want nederigheid kommunikeer afhanklikheid aan Hom.

Spreuke 17

Spreuke 17:9 het so paar jaar gelede vir my ‘n baie belangrike beginsel geleer. Spreuke 17:9 lui: “Wie ’n verkeerde optrede teenoor homself verontagsaam, soek goeie verhoudinge“.

In kort beteken dit dat ek kan kies of ek aanstoot neem oor iets wat iemand teenoor my doen of sê. Ek kan my wip en opblaas … of ek kan dit ignoreer. Kies ek om my op te ruk, bederf ek net my eie geluk en vertroebel ek my menseverhoudinge. Kies ek om dit te ignoreer, sterf ek eintlik in myself. Ek beskou nie myself as belangrik genoeg om myself te wil handhaaf nie. Dit is baie bevrydend vir my om nie meer te wonder of ek oor iets gekrenk behoort te voel nie.

Aanstoot word nie gegee nie, maar geneem. En ek kies om dit nie te neem nie.

Aan die ander kant gee Spreuke 17 nie vir jou ‘n mandaat om links en reg ongeskik te wees, en mense moet maar net kies om nie aanstoot te neem nie.

Rakende optrede van ander teen ons, kies ons om nie aanstoot te neem nie. Rakende ons optrede teen ander, sê Spreuke “Wie hou van aanstoot gee, hou van rusie” (Spreuke 17:19)

Kosbare stukkie lewenswysheid wat in hierdie hoofstuk saamgevat word.

Handelinge 15

Die fout om iemand af te skryf, sal vir altyd teen die naam van Paulus gehou word.

Johannes Markus het vir Paulus en Barnabas op hul eerste sendingreis in die steek gelaat. Noudat dit tyd is vir die tweede reis, wil Paulus nie weer vir Johannes Markus saamneem nie. Barnabas is egter nie bereid om hom net so af te skryf nie. Ja, Johannes Markus het foute gemaak. Maar hy sien potensiaal in die jong man raak.

En ook maar goed so. Te danke aan Barnabas se belegging in hierdie man se lewe, het Johannes Markus op die ou end die evangelie van Markus geskryf! Dit was die heel eerste evangelie wat neergepen was, en die ander evangelies het dit ook as bron gebruik.

Kom ons sê dit maar net vir mekaar: Paulus was verkeerd. Paulus was te hard. Paulus was verkeerd om Markus af te skryf. Jesus gooi nie ‘n geknakte riet weg nie, en Paulus was ook nie veronderstel om dit te doen nie. Gelukkig het Paulus later sy eie fout ook agtegekom. Ons sien bv in Kol 4:10 dat Johannes Markus later in Paulus se lewe ‘n belangrike rol gespeel het. Daar het dus vergifnis en versoening gekom.

Mag ek daarteen waak om nie mense af te skryf nie. Mag ek ook soos Barnabas aanhou belê in mense wat my in die steek laat.

Handelinge 14

Ek sit baie keer en wonder “tot hoe vêr” moet mens opstaan vir wat reg is? 

Die maklike antwoord is dat mens onverbiddelik daarin moet wees al kos dit wat. Maar in praktyk is dit nie altyd so eenvoudig nie. 

  • Jy glo dalk die pad wat jou tienerdogter inslaan is verkeerd. As jy aanhou hamer daarop bring dit nog verder verwydering tussen julle.
  • Jy glo dalk jou ouers/skoonouers het verkeerd teenoor julle gesin opgetree. As jy die saak bly ophaal omdat jy wil hê dat geregtigheid moet seevier, verloor jy op die ou end gesindheid en kry familiebande seer.

Mens kan nog vele sulke voorbeelde opnoem. Dit is net nie so eenvoudig om te sê dat jy altyd onverbiddelik moet staan vir dat wat jy glo reg is nie.

Een so voorbeeld sien ek in vandag se hoofstuk in Handelinge. Daar onststaan ‘n reuse oproerigheid in die stad Ikonium. Die stad is erg in twee verdeel. Party was vír die Jode, ander was vir die apostels. Dit was ‘n drukpot wat gedreig het om oor te kook (vers 5 en 6).

En toe neem die apostels die besluit om die stad te verlaat. Let wel: die saak waarvoor hulle gestaan het, was nie eens iets soos familieverhoudinge nie. Die saak het gehandel oor die evangelie. As daar al ooit iets was om voor op ste staan, dan was dit dít. 

Hulle besluit om die stad te verlaat, was ook nie ter wille van selfbelang of persoonlike veiligheid nie. Hulle het immers al keer op keer bewys dat hulle bereid is om selfs hulle eie lewe neer te lê vir die evangelie – soos hulle inderdaad weer bereid was om te doen nét in die volgende stad (vers 19).

Die besluit om Ikonium te verlaat, was dus ‘n besluit net ter wille van vrede. Hulle was bereid om die saak waaroor hulle passievol gevoel het, “te laat gaan”, sodat die stad tot bedaring kan kom.

Ek heriner my aan Jesus se woorde: “Geseënd is die vredemakers, want julle sal kinders van God genoem word”.

Hoe sal die verhoudinge met ons huweliksmaats, kinders, kollegas en landsburgers lyk, as ons bereid is om “ter wille van die vrede” net van ‘n saak “af te stap”?

Gen 31 (14 Julie)

Wie sou kon dink dat die bankrot verhouding tussen Jakob en Laban ooit kan herstel?

Die vertroue was laag tussen hierdie pa en skoonseun. Toe Jakob besluit om met Laban se dogters en kleinkinders te verdwyn, het dit amper op nog ‘n verdere konfrontasie uitgeloop. Maar die Here doen ‘n wonderwerk in hulle midde en bring die 2 sterk karakters tot versoening.

Ek sien wel dat dit steeds vir Jakob nodig was om weg van Laban te tree. Partykeer is dit tog nodig om arm verhoudings ietwat verder van jou eie lyf weg te hou. Maar hulle is nie kwaai vriende uitmekaar nie. Die Here het versoening bewerk.

Mag dit ons ook aanspoor om altyd versoening met onwaarskynlike kandidate op te soek.

Gen 30 (13 Julie)

Die tragiese verhaal van wedywering tussen die 2 sussies Lea en Ragel word in hierdie hoofstuk voortgesit. Sodra die een ‘n kind vir Jakob baar, probeer die ander een haar dit nadoen. Selfs slavinne word nader getrek omdat die verhoudings in hierdie familie in ‘n toksiese maalkolk ingesluk is.

Ek wonder of ek ook in verhoudings is waar ek nie onvoorwaardelik geliefd is nie? Is daar sekere mense in wie se teenwoordigheid ek nooit genoeg voel nie?

Nog belangriker: Doen ek dit nie dalk aan ander mense nie? Kommunikeer ek nie dalk aan iemand met my gedrag, dat indien hy/sy nie “presteer” nie, jy nie my liefde waardig is nie?

Mag die Here ons help om nooit mense objekte te maak nie.

Eksodus 39 (18 April)

Die Bybel leer ons nie net dinge oor ons verhouding met die Here nie, maar ook ons verhoudings met mense. So leer die laaste vers van hoofstuk 39 vir my die belangrikheid om dankie te sê.

Moses kon sekerlik aangeneem het dat die vakmanne hulle werk gedoen het omdat hulle móés. Die Here het die opdrag gegee. Die vakmanne het geen keuse gehad nie. Hulle móés eenvoudig gehoorsaam wees.

En tog kies Moses om vir hulle dankie te sê. Hy, die leier, bedank die volgelinge…

Moses was verseker ‘n uitnememde leier.

Wie is daar in my lewe wat ek oorsien en van vergeet? Is daar iemand wat met ‘n dankie sou kon doen?

Eksodus 22 (8 Maart)

Die rits sosiaal-maatskaplike bepalings van hoofstuk 21, vervolg in hierdie hoofstuk. Dit is uiteenlopende regulasies. As ons egter een gemeenskaplike punt soek, sal dit wees dat al die regulasies oor horisontale verhoudings handel. In die volgende hoofstuk sal daar weer oor ons vertikale verhouding met God gepraat word. Maar in hierdie hoofstuk handel dit geheel en al oor my interaksie met ander mense. Laat niemand sê dat menseverhoudinge nie vir die Here belangrik is nie.

Kom ek gaan vandag met hierdie wete my dag tegemoet: Die Here is begaan oor hoe ek die mense behandel wat vandag my pad kruis…

Gebed: Dankie Here dat U my vandag herinner dat my menseverhoudings vir U belangrik is.

Eks 18 (Maart 3)

Eks 18:17 Die verhouding tussen Moses en sy skoonpa is verstommend. Daar is opregte belangstelling en betrokkenheid van die kant van Jetro. En by Moses is daar nie liggeraaktheid as hy deur die ouer (en wyser) persoon gekorrigeer word nie. Hy sien nie Jetro as ‘n bedreiging nie. Moses en Jetro stel vir ons die voorbeeld dat familieverhoudinge gesond kan wees.

Hoe lyk my familieverhoudings? Neem ek dalk soms te maklik aanstoot? Is ek te liggeraak? Laat ek toe dat mense in my lewe inspreek? Is die manier waarop ek in familie se lewe inspreek, sensitief genoeg? Steek ek nie soms my neus in sake wat nie op my betrekking het nie?

Gebed: Kom ons vra die Here om ons met wysheid te seën sodat ons sal weet hoe om in ons familieverhoudings op te tree met balans, erkenning van grense, en tonne respek en sensitiwiteit.