Tag Archives: Magsug

1 Konings 1

Klik hier om jou nuwe LEESROOSTER af te laai

Praat van ‘n paleisrewolusie! Vandag lees ons van die onderlinge stryd tussen 2 van Dawid se seuns wat elk hom as koning wil opvolg, Adonia en Salomo.

Mens kan egter nie help om minder van Adonia te hou nie. Hy was magsbehep. Nog voordat sy pa selfs gesterf het, het hy geleef asof sy pa reeds dood is. Sy ambisie om koning te word, het hom ‘n paar strategiese skuiwe laat doen. Hy konkel met die Joab en met die priester Abjatar (vers 7). Dit lyk of hy van vroegs af geleer het hoe om mense om te koop, want hy reël ‘n partytjie waar hy die gaste bederf – alles in ‘n poging om hulle ondersteuning te werf (vers 9). Tog nooi hy doelbewus nie die mense uit wat hy weet hom nie sal ondersteun nie (vers 10).

Adonia is slinks. Hy probeer met skelm strategiese skuiwe politieke veld wen. Teenoor Salomo lyk hy eintlik desperaat. Salomo is totaal afwesig as ‘n karakter wat “aktief” is. Hy is “passief” in die sin dat hy nie na mag gryp soos Adonia nie. Uiteindelik ontvang hy die koninskap – maar nie omdat hy daarna gegryp het nie – maar omdat die Here dit vir hom gegee het.

Hierdie hoofstuk sit soveel vrae op die tafel:

  • Gryp ek na mag?
  • Vertrou ek die Here of vertrou ek op my strategiese planne?
  • Wie is die Natan in my lewe wat vir my uitkyk? Sonder Natan sou Salomo gedoem wees. In wie se lewe is ek Natan?

Die skuld vir die hele petalje word baie subtiel voor Dawid se deur geplaas. Die outeur sê: “Sy vader het hom van kleins af nooit berispe of vir hom gevra: “Hoekom maak jy so?” nie” (vers 6)

Hierdie vers onderstreep nie net die belangrikheid van tug in ‘n kind se lewe nie, maar ook die belangrikheid van stemme in ons lewe wat kritiese vrae vra wat ons onsself moet kan verantwoord. Onderwerp ons onsself genoeg hieraan?

Rigters 11

Ons het al na Rigters se tema van leierskap verwys. Ons het in hierdie boek deurlopend met leiers te doen wat jou hoop gee, net om weer deur hulle teleurgestel te word. Uiteindelik baan hierdie ontnugtering in politieke leiers, die weg vir ‘n dors na ‘n Messias.

Hoofstuk 11 is ‘n klassieke voorbeeld van hierdie tema: Jefta is volgens die standaarde van daardie tyd ‘n bedenklike figuur. Hoewel sy Pa ‘n gemeenskapsleier is, is sy Ma ‘n prostituut. Sy halfbroers verjaag hom berge toe, en dáár versamel ‘n groep boosdoeners rondom hom. Na alle waarskynlikheid ontaard hulle in ‘n groep struikrowers.

Wanneer die volk egter lastig geval word deur die Ammoniete, besef hulle dat hulle iemand “rof-en-tjommel” nodig het om hulle uit hierdie penarie te kry. Daarom nader hulle vir Jefta met die belofte dat hy hulle leier kan word as hy die Ammoniete sou verslaan.

Jefta val oor sy voete vir so ‘n geleentheid! En dit is hier waar Jefta ons begin verbaas. Hy spring nie net halsoorkop in ‘n geveg met die Ammoniete nie. Op ‘n besonderse wyse openbaar hy ‘n stuk wysheid deur eers diplomatieke gesprekke met die Ammoniete aan te knoop. Sy kennis oor die pad wat die Here met sy volk tot hier geloop het, beïndruk ons baie! Kan hy dalk die langverwagte leier wees was Israel so desperaat nodig het?

Toe die diplomatieke gesprekke misluk, bekragtig die Heilige Gees vir Jefta om oorlog te gaan maak (vers 29). Alles loop vir Jefta tot op hierdie punt voor die wind. En dan maak Jefta ‘n groot fout. Hy lê aan die Here ‘n eed af om die eerste een wat uit sy huis kom om hom tegemoet te gaan, vir die Here as brandoffer te offer. Later blyk dit sy enigste kind, sy dogter te wees. Die verhaal eindig met die tragiese dialoog tussen hulle en die vertelling hoe hy haar moes offer.

Jefta faal liederlik. Hy wat ons die een oomblik met sy kennis oor die Here beïndruk, wys vir ons die volgende oomblik hoe min hy regtig oor die Here weet. Hy weet byvoorbeeld nie eens dat die Here sy volk uitdruklik verbied om hulle kinders te offer nie! So iets is ‘n gruwel vir die Here.

Verder openbaar sy eed aan die Here sy eie selfsug. Hy probeer in sy “onderhandeling” met die Here net homself bevoordeel. Hy gee nie die Here kans om die (afskuwelike) bepalinge van sy eed te wysig nie. En hy dink ook nie aan die (arme) persoon wat deur sy eedswering geïmpliseer word nie. Ál wat vir hom belangrik is, is dat hy slaag. Sy ambisie vir leierskap, ontaard in ‘n ongesonde magsug wat hom onbesonne dinge laat aanvang. Ook Jefta is ‘n nuttelose leier…

Die teks laat mens jouself afvra hoeveel van dít wat ons doen, doen ons ter wille van God se eer en hoeveel gaan eintlik net oor ons eie eersug? Ook kan ons onsself afvra hoe diep ons insig oor die Here is? Ken ons Hom werklik in alle sfere van ons lewe, of is ons kennis van Hom beperk tot net sekere aspekte?