Tag Archives: Leierskap

Mark 8

“In daardie selfde tyd was daar weer ’n keer ’n groot menigte mense by Jesus, en hulle het niks gehad om te eet nie. Hy roep toe sy dissipels nader en sê vir hulle: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. As Ek hulle nou sonder kos huis toe stuur, sal hulle langs die pad beswyk. Party van hulle kom van ver af.””

Dit is Jesus wat inisiëer. Dit val my op dat niemand vir Jesus hoef in te gelig het oor die welstand van die groep nie. Jesus was in voeling met hoe dit met die mense gaan.

Ek kom dikwels leiers teë wat “uit voeling” is met mense en díe se behoeftes. Dit gebeur tipies wanneer leiers meer begaan is oor hulle eie agenda as oor die mense vir hulle leiding bied.

Jesus was nie so nie. Hy was totaal in voeling met wat rondom Hom aangaan. Hy inspireer my om ook ingestel te wees op die behoeftes van die mense rondom my.

Op ‘n ander vlak, beteken hierdie gedeelte ook vir my dat Jesus ook van mý situasie bewus is. Hy was nie net op hoogte van sake van ánder mense se behoeftes nie. Hy is vandag ook “in voeling” met wat in my lewe aan die gang is.

Rigters 11

Ons het al na Rigters se tema van leierskap verwys. Ons het in hierdie boek deurlopend met leiers te doen wat jou hoop gee, net om weer deur hulle teleurgestel te word. Uiteindelik baan hierdie ontnugtering in politieke leiers, die weg vir ‘n dors na ‘n Messias.

Hoofstuk 11 is ‘n klassieke voorbeeld van hierdie tema: Jefta is volgens die standaarde van daardie tyd ‘n bedenklike figuur. Hoewel sy Pa ‘n gemeenskapsleier is, is sy Ma ‘n prostituut. Sy halfbroers verjaag hom berge toe, en dáár versamel ‘n groep boosdoeners rondom hom. Na alle waarskynlikheid ontaard hulle in ‘n groep struikrowers.

Wanneer die volk egter lastig geval word deur die Ammoniete, besef hulle dat hulle iemand “rof-en-tjommel” nodig het om hulle uit hierdie penarie te kry. Daarom nader hulle vir Jefta met die belofte dat hy hulle leier kan word as hy die Ammoniete sou verslaan.

Jefta val oor sy voete vir so ‘n geleentheid! En dit is hier waar Jefta ons begin verbaas. Hy spring nie net halsoorkop in ‘n geveg met die Ammoniete nie. Op ‘n besonderse wyse openbaar hy ‘n stuk wysheid deur eers diplomatieke gesprekke met die Ammoniete aan te knoop. Sy kennis oor die pad wat die Here met sy volk tot hier geloop het, beïndruk ons baie! Kan hy dalk die langverwagte leier wees was Israel so desperaat nodig het?

Toe die diplomatieke gesprekke misluk, bekragtig die Heilige Gees vir Jefta om oorlog te gaan maak (vers 29). Alles loop vir Jefta tot op hierdie punt voor die wind. En dan maak Jefta ‘n groot fout. Hy lê aan die Here ‘n eed af om die eerste een wat uit sy huis kom om hom tegemoet te gaan, vir die Here as brandoffer te offer. Later blyk dit sy enigste kind, sy dogter te wees. Die verhaal eindig met die tragiese dialoog tussen hulle en die vertelling hoe hy haar moes offer.

Jefta faal liederlik. Hy wat ons die een oomblik met sy kennis oor die Here beïndruk, wys vir ons die volgende oomblik hoe min hy regtig oor die Here weet. Hy weet byvoorbeeld nie eens dat die Here sy volk uitdruklik verbied om hulle kinders te offer nie! So iets is ‘n gruwel vir die Here.

Verder openbaar sy eed aan die Here sy eie selfsug. Hy probeer in sy “onderhandeling” met die Here net homself bevoordeel. Hy gee nie die Here kans om die (afskuwelike) bepalinge van sy eed te wysig nie. En hy dink ook nie aan die (arme) persoon wat deur sy eedswering geïmpliseer word nie. Ál wat vir hom belangrik is, is dat hy slaag. Sy ambisie vir leierskap, ontaard in ‘n ongesonde magsug wat hom onbesonne dinge laat aanvang. Ook Jefta is ‘n nuttelose leier…

Die teks laat mens jouself afvra hoeveel van dít wat ons doen, doen ons ter wille van God se eer en hoeveel gaan eintlik net oor ons eie eersug? Ook kan ons onsself afvra hoe diep ons insig oor die Here is? Ken ons Hom werklik in alle sfere van ons lewe, of is ons kennis van Hom beperk tot net sekere aspekte?

Rigters 3

In vandag se hoofstuk van Rigters 3 val dit my op dat die volk onmiddelik weer in ontrouheid verval, sodra ‘n leier doodgaan. Beide Otniël en Ehud het tekortkominge as leiers gehad, maar ten minste het hulle leierskap die volk getrou aan die Here gehou. In beide gevalle het die volk egter afvallig geword die oomblik toe die leier tot sterwe gekom het.

Mens kan nie help om te wonder hoe diep die volk se toewyding dan regtig gelê het nie. Was hulle ooit werklik lief vir die Here of was hulle verbintenis aan Hom maar net ‘n eksternalisering van godsdiens?

Net omdat jou kind toe mond kou wanneer jy in die vertrek is, beteken dit nie dat jou kind goeie maniere het nie. Goeie maniere is eers vasgelê – deel van jou kind se mondering – as hy/sy toe mond kou as die ouer níe naby is nie.

Op ‘n soortgelyke wyse was die volk se toewyding oppervlakkig – byna kondisioneel. Net solank die leier daar is om ‘n ogie te hou, bly hulle aan die Here “getrou”. Dit is gedeeltes soos hierdie, wat profesieë soos Esegiël 11 en Esegiël 36 waar daar gepraat word van ‘n “nuwe hart” wat die volk sal ontvang, so betekenisvol maak. Hierdie “nuwe hart” het die eksterne vertoon van godsdiens met ‘n interne gesindheidsverandering verplaas.

Dit bring ons vanoggend by die vraag hoe ons toewyding lyk? Doen ek steeds wat rég is, as niemand daar is om my te sien nie? Het my verhouding met die Here al dieper gevorder as net vel-oppervlak?

Lukas 22

Aarde…hierdie hele hoofstuk van vandag wemel weer van juwele. As ek net één mag kies sal ek sê dat die 3 verse van 24 tot 27 my geraak het:

Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Maar Jesus sê vir hulle: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien. (Luk 22:24-27)

Hierdie is waarskynlik die mees klassieke begronding vir wat ons vandag noem “servant leadership”. Wêreldse leiers probeer die leer van mag en posisie klim. Die een wil belangriker as die ander wees. Jesus sê die ironie is dat wanneer hulle bo uitkom, hulle die mense forseer om hulle “weldoeners” te noem. So asof hulle alles uit onselfsugtigheid vir ander gedoen het.

Daarteenoor is Christenleiers veronderstel om mag af te wys en voorskote aan te trek. Ons moet dienend optree. Dit roer my as Jesus op hierdie punt Homself as voorbeeld voorhou. Hy was inderdaad die verpersoonliking van God se dienskneg.

Die hartseer van dit alles is egter die konteks waarin die openingsverse afspeel: Die dissipels stry oor wie die belangrikste is, die aand voor die belangrikste gebeurtenis in die mens se geskiedenis afspeel – die kruisiging. Hulle is so opgetrek met hulleself en hulle eie egos, dat hulle blind is wat besig is om te gebeur en wat die Here gaan doen.

Is ek nie ook soms so ingesluk in myself dat ek dít wat God wil doen, mis nie? Ek kan net vanoggend bid dat die Here my sal wegkyk van myself en my eie koninkryk, en my konstant sal laat kyk na Hom en sý Koninkryk.

1 Konings 19

‘n Mens se hart gaan regtig uit na Elia as jy hierdie gedeelte lees.

Waar hy in die vorige hoofstuk ‘n reuse oorwinning oor die profete van Baäl behaal het, bevind hy hom in hierdie hoofstuk onder die besembos. Hy is bang vir Isebel en mens kry nogal die indruk dat Elia moeg is. Hy is geestelik gedreineer.

Dit is opvallend om te sien dat hy twee keer by die Here protesteer:

Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” (vers 10 en vers 14)

Die Here was nie onsimpatiek teenoor Elia nie. Die Here hoor hom, want die Here verkwik hom met kos, skuilplek en ‘n vars teofanie (Godsverskyning). Toe Elia egter daarna nóg protesteer, antwoord die Here deur te sê:

“Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe…” en toe kom Elia se nuwe opdrag.

Wat leer ek uit hierdie gedeelte oor geestelike leierskap? Wel, eerstens dat uitbranding ‘n realiteit is. Tweedens dat die Here nie onsimpatiek teenoor dit staan nie. Maar derdens sien ek ook dat die beste manier om weer op die been te kom, is om weer jou opdrag gehoorsaam uit te voer.

Glo my, ek was al daar. Dit is goed om ‘n blaaskans te vat soos Elia onder die besembos. Maar dit is ‘n ander storie om in die woestyn aan te bly. Hoe langer jy “in die woestyn” agterbly, hoe moeiliker raak dit om weer terug te keer.

1 Konings 15

Om ‘n leier van integriteit te wees, vra dat jy deurgaans die regte ding doen – selfs as die regte ding die moeilike ding is.

Asa was so’n koning oor Juda. 1 Konings 15 sê dat hy in die voetspore van sy voorvader Dawid geloop het (vers 11) en vertel dan ook verder wat hy alles gedoen het. Onder andere staan daar…

Hy het ook sy ouma Maäka as koninginmoeder afgesit omdat sy ‘n Asjerabeeld, ‘n walglike ding, laat maak het. Asa het die ding stukkend gekap en dit in die Kedrondal gaan verbrand. (1 Kon 15:13)

Dit moes baie moeilik wees om teen jou eie familie op te tree. Maar dit was die regte ding om te doen.

Op die oomblik vang die geweldige leierskapskrisis van Suid Afrika my baie. Dit is onstellend om te sien hoe leiers een ding sê en ‘n ander ding doen. Ons het leiers van integriteit nodig.

Vandag is daar oral oor Suid Afrika optogte om te protesteer teen president Zuma. Kom ons maak ‘n punt om spesifiek vandag vir ons land te bid.

Maar kom ons waak ook daarteen om te dink dat ‘n geestelike verdieping net by ander mense nodig is. Kom ons bid ook dat onsself mense van integriteit sal wees. Kom ons bid dat verandering by ons sal begin.

1 Konings 12

Vererg jy jou ook soms vir iemand wat jou te nakom? Miskien was die persoon ongevoelig in sy opmerkings teenoor jou? Of miskien voel jy die persoon het nie aandag aan jou gegee nie. Jy voel dalk jy is op meer respek geregtig. Jy voel daar was onbedagsaam teenoor jou opgetree.

Dit is alles tekens van ‘n gekwesde ego. Ons liggeraaktheid verklap aan ons dat ons waardeloos voel, en as ander se optrede daardie persepsie bevestig, dan wil ons onsself handhaaf deur groter respek te vereis of deur daarop aan te dring dat ons méér waardevol is as wat ons voel.

Ons almal lei daaraan tot ‘n meerdere of ‘n mindere mate. Ek inkluis. Ek skrik dikwels vir hoe kwesbaar my eie ego is. Hoe maklik ek seergemaak voel. Hoe maklik ek bedreig voel. Hoe vinnig ek jaloers op iemand anders voel.

Rehabeam en Jerobeam was nie anders nie. Rehabeam was koning Salomo se seun. 

Hy probeer sy gevoel van minderwaardigheid wegsteek, deur te oorkompenseer. Hy sê vir die volk: “Julle het gedink my Pa was erg. Wag tot julle my sien” (vers 10). Sy oordrewe manhaftigheid bereik toe presies die teenoorgestelde as waarvoor hy gehoop het. Die volk verwerp hom en skeur weg! Hoe’s dit vir ‘n ego wat alreeds seer is?!

Die volk kroon toe vir Jerobeam as koning. Maar Jerobeam sit nie in Jerusalem nie, maar in Sigem. Sy ego vrees ook verwerping. Hy is bang dat as die volk 3 keer per jaar Jerusalem toe moet gaan om te offer, dat hulle spyt kry en weer Rehabeam begin aanhang.

Om sý ego te beskerm, bou hy toe twee goue kalwerbeelde (vers 28) aan wie die volk kan offers bring. Sodoende hoef hul nooit weer Jerusalem toe te gaan nie.

So die een leier skeur God se volk. Die ander leier lei hulle van die wal in die sloot. Alles net oor ego’s. 

Hoeveel keer kry die saak van die Here skade omdat my ego ook in die pad kom? Hoeveel keer kry my getuienis skade omdat ek optree vanuit my minderwaardigheid?

1 Sam 14 (24 Aug)

Kan iemand so uit pas wees soos Saul? As die Here ‘n wonderwerk op die voorpunt van die geveg doen (by Jonatan), dan is Saul op die agterhoede. Wanneer hy die skarrel om die ark nader te bring, is dit te laat. Wat sy manne nodig het is om hulle kragte te herwin, maar hy lê ‘n eed af dat niemand iets mag eet nie. Die enigste held in die storie is Jonatan. Maar dit is ook die einste persoon wat negatief deur Saul se eed geraak word, want hy het nie daarvan geweet nie. Ek wonder weer: Kan iemand so uit pas wees met dit wat rondom hom aangaan?

Kom ons vra die Here dat Hy vir ons ‘n fyn sensitiwiteit sal gee om ons konteks reg op te som.

1 Sam 13 (23 Aug)

Mens kry eintlik vir Saul jammer. Hy was soos die Engelse sê tussen ‘n “rock and a hard place”. Die Filistyne was op die punt om hom en sy manne aan te val. Sy manskappe was doodsbang en het begin dros. Samuel het nie op die ooreengekomde tyd opgedaag om die brandoffer te bring nie. Die geveg sou enige oomblik uitbreek en dan het hy nog nie kans gehad om ‘n offer vir die Here te bring en sy guns af te smeek nie. En daarom gaan Saul voort en bring hy self die brandoffer.

Maar al is daar hoeveel dinge wat ons voel versagtende omstandighede is, bly sy optrede ongehoorsaam. Dit laat my sommer dink aan wat druk/spanning/angs aan ons oordeelsvermoë doen. Die Here verwag van ons om ook in die kookwatertye die regte ding te doen – juis dan.

Eseg 32 (17 Jun)

Die hele Eseg 32 handel oor die leier van Egipte – die Farao. Dit is ‘n treurlied wat aanvanklik positief begin en hom as ‘n “leeu” beskryf, maar dit eindig tragies wanneer hy tot ‘n val kom. Dit is die Here wat ingryp en sy val bewerk.

Vir die Farao het leierskap gegaan oor selfverryking en oor jou eie mag en heerlikheid. Die Here sien leierskap eerder as om te dien en lewens te beskerm.

Ons land het op die oomblik ‘n groot probleem met leierskap. Maar dit help nie om vinger te wys na ander nie. Goeie leierskap begin met myself.