Tag Archives: Leiding van die Here

Numeri 9

Numeri 9 vertel hoe die Here die Israeliete deur die woestyn gelei het. Onthou, hulle blootstelling aan God was betreklik nuut. Die volk kom sopas uit slawerny. Hulle het nie vroeëre ervarings van hoe God lei of wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hulle het op hierdie stadium nie eens ‘n Bybel nie.

In ‘n tyd soos hierdie met COVID-19, mag ons dalk ook voel of ons in ongekarteerde terrein is. Niemand het jou nog ooit voorberei hoe om jou gesin en jou werk deur ‘n pandemie te lei nie.

As daar een ding is wat mens opmerk in Numeri 9, dan is dit die absolute afhanklikheid van Moses teenoor die Here. Mense kom byvoorbeeld na hom toe met versoeke en dan sê hy vir hulle dat Hy eers by die Here sal uitvind (vers 8 en 9). Nog ‘n voorbeeld is hoe gehoorsaam hulle was aan die leiding van die Here as dit kom by die saak of hulle moet verder trek of moet oorbly.

Die Bybel brei vir etlike verse uit oor die verskynsel van die wolk wat bly hang het oor die tabernakel. Parkykeer vir ‘n paar dae, ‘n week, ‘n maand, ‘n jaar – maar partykeer ook net een aand. Die oomblik wat die wolk lig, versit die volk – ongeag of hulle nou net hier aangekom het en of al hulle bronne al uitgeput is. Hulle het absoluut staatgemaak op die leiding van die Here.

Dit is iets wat mens ook kan saamneem met ons in ‘n tyd soos COVID-19. Daar moet by ons die begeerte wees om leiding van die Here te ontvang, en die openheid om van my eie planne af te sien en Syne te aanvaar.

Luister fyn in hierdie tyd.

1 Kon 15

Ek weet nie of jy hierdie gesien het nie, maar in vandag se Bybelgedeelte is daar iets wat my baie laat dink het aan hoe ons die krisis van die Coronavirus hanteer.

1 Konings 15 handel hoofsaaklik oor koning Asa se wel en weë. Sy koningskap word oorwegend positief beoordeel. Hy het immers selfs sy ouma Maäka as koninginmoeder afgesit omdat sy afgodsbeelde gemaak het. Dit is noemenswaardig want dikwels is ons geneig om verkeerdhede oor die hoof te sien sodra dit iemand naby aan ons is wat dit begaan.

Wat wel interessant is, is dat die geskiedskrywer vir ons meld dat Asa in sy ouderdom ‘n kwaal aan sy voete opgedoen het (sien 1 Kon 15:24)

As mens die kruisverwysing opsoek, sien mens dat die boek Kronieke meer oor hierdie insident uitbrei. 2 Kronieke 16:12 lui: “In sy nege en dertigste regeringsjaar het Asa ’n uiters ernstige siekte aan sy voete opgedoen, maar selfs in dié siekte het hy nie die Here geraadpleeg nie, wel die dokters.”

Ek vind dit vreeslik interessant, want ons leef in ‘n tyd wat daar ‘n reuse ophef van die mediese wetenskap gemaak word. En dit is ook reg so. Was dit nie vir die mediese wetenskap nie, het duisende meer mense gesterf.

Maar onlangs het ek ‘n spotprent gesien wat wys dat selfs die “gode” van die onderskeie godsdienste, deesdae na die dokters draai vir hulp. Die spotprent probeer iets verwoord van die verskynsel dat almal nou hul toevlug na die mediese wetenskap neem – en dat die mediese wetenskap as’t ware die nuwe “god” is.

Getrou aan die genre van spotprente, word die vinger gelê op ‘n waarneming wat pynlik akkuraat is.

Vandag se gedeelte herinner my egter daaraan dat dit nie ‘n moderne verskynsel is nie. Selfs die antieke mens het na dokters gegryp vir antwoorde, in plaas van na die Here.

Wat is die slotsom? Beslis nie dat dit verkeerd is om dokter toe te gaan as jy siek is nie. Ook probeer ek nie sê dat siekte – en selfs pandemies soos die Coronavirus – eintlik ‘n straf van God is nie.

Al waarvoor ek pleit is dat die Skrif ons oproep om – saam met ons navraag aan die dokters – ook die Here te raadpleeg. Wat het Hy te sê van die toestand? Net dalk sensitiseer sy Gees ons vir iets wat Hy in hierdie tyd besig is om te doen.

Judas 1

Die boek Judas bestaan uit net 1 hoofstuk, en vandag lees ons dit.

As mens die hoofgedagte van hierdie boek moes opsom, sou dit wees dat die plaaslike kerk op ‘n mespunt staan:

“Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus.” (Judas 1:4)

Die res van die brief kontrasteer die gelowiges met die indringers. Die groot verskil tussen die twee is die manier waarop hulle hulself laat lei. Die dwaalleraars laat hulle deur hulle natuurlike drange beheer (vers 19). Die gelowiges laat hulle deur die Heilige Gees en deur liefde lei (vers 20-21).

Dit is maklik om altyd aan jou “opponent” te dink as iemand wat nie “eg” is nie – iemand wat deur die Satan gebruik word. Maar ek dink altyd aan wat N.T. Wright in sy boek “How God became King” hieroor skryf. Hoewel Wright glo dat daar werklik iets soos ‘n Satan bestaan, waarsku hy dat ons nie te vinnig hom in ander moet soek nie. Die Satan is – aldus N.T. Wright – so uitgeslape dat hy nooit hom so maklik herkenbaar laat sien nie. Hy werk onder die dekmantel. En hoewel dit goedskiks so kan wees dat daar elemente van sy werk in jou opponent teenwoordig kan wees, kan dit in ‘n oogwink net so ongesiens by jou ontstaan. Jy kan dink dat jy jou opponent moet verslaan/ontbloot – maar in die proses begin jy dit dalk sonder liefde doen. Dan werk die Satan net so sterk deur jou as deur jou opponent sonder dat jy dit eers agterkom.

Laat mens dus onthou dat die suiwerheid van die evangelie vandag nog in die Kerk op die spel is. Maar laat ons ook baie versigtig wees in die manier waarop ons dwaling in ander se lewens uitwys. Neem die woorde aan Judas ter harte: “Bly in die liefde van God” (vers 21)

Numeri 9

Daar word in hierdie hoofstuk ‘n woordprentjie aan ons geskilder van ‘n volk wat nie ‘n voet versit het as die Here nie so beveel het nie.

Of hulle verder getrek het en of hulle bly kamp het, het alles van die wolk afgehang wat God op die tabernakel laat neerdaal het. As die wolk begin beweeg het, het hulle kamp opgeslaan. As dit gaan staan het, het hulle uitgespan.

Dit moes wonderlik gewees het om op so ‘n klinkklare manier God se leiding te ervaar. Ek vra myself af op watter manier God vandag my lei? Definitief nie deur ‘n wolk nie. Maar wel deur sy Woord, deur medegelowiges, deur vrede/onrustigheid ens.

Die vraag is seker of ek ewe gehoorsaam reageer op sy leiding? Sien ek sy leiding raak – en as dit sien, gee ek gehoor of steur ek my nie daaraan nie?

Mag ek ‘n lewe kweek wat spreek van sensitiwiteit vir God se Gees – en gehoorsaamheid aan sy leiding.