Tag Archives: Identiteit

1 Kronieke 5

“Maar hierdie stamme was ontrou aan die God van hulle voorvaders en het oorgeloop na die gode van die landsbevolking wat ter wille van hulle deur God uitgeroei is. Daarom het die God van Israel vir koning Pul van Assirië, dit is Tiglat-Pileser, aangehits, en dié het hulle as krygsgevangenes weggevoer” 1Kron 5:25-26

Ons lees in vandag se hoofstuk van hoe die stam Ruben, Gad en Manasse Oos van die Jordaan geleef het. Ons lees van een oorlog na die ander, ter wille van oorlewing. Die Here help hulle deur elkeen en beskerm hulle. Hy is die behouer van hulle lewe.

En dan aan die einde van die hoofstuk lees ons dat hulle, ten spyte van alles, gaan staan en oorloop het na ander afgode!?

Dit is nie juis lekker om te lees van al die moord en doodslag nie. Mens sou met reg kon vra “Wat maak ons vandag met al die bloedvergieting in die Bybel?”.

Maar vir nou is dit eintlik belangrik om te sien dat hier ‘n storie agter ‘n storie afspeel. Ons lees indirek van God se volgehoue getrouheid (Hy help hulle deurgaans), en dan sien ons sy dienaars se ontrouheid. God se betroubaarheid en die mens se onbetroubaarheid word dus op ‘n baie prominente manier teenoor mekaar gestel.

Wanneer God uiteindelik sy hand terugtrek, neem die Assiriese koning hulle oor. In die proses verloor hulle hul bestaansreg en identiteit.

Ons is maar net soos die volk. Ons gehoorsaamheid laat veel te wense oor. Eintlik verdien ons ook om ons bestaansreg en identiteit te verloor.

Maar God het in ons tyd iets nuuts gedoen! Hy het sy Seun vir ons gestuur. Sy seun sou nie net namens ons sterf vir ons foute nie, maar ook namens ons lewe. Vandag vind ons ons bestaansreg en identiteit in Jesus! Hy het dit alles namens ons verdien.

Ons is swak, maar Hy is sterk. Maar omdat daar ‘n band tussen ons en Jesus bestaan, maak Hy ons deel van sy sirkel. Hy laat toe dat ons in sy oorwinning deel. Ons pluk die vrugte van dit wat Jesus vir ons bereik het.

Anders as die stamme van Ruben, Gad en Manasse, kan ons God die Vader se volgehoue guns en beskerming geniet, níe omdat ons so toegewyd leef nie, maar omdat Jesus gehoorsaam was tot in die dood.

1 Kronieke 4

“Jabes het voorrang geniet bo sy broers. Toe sy ma hom die naam Jabes gegee het, het sy gesê: “Ek het hom met smart in die wêreld gebring.”
Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.”
God het laat gebeur wat hy gevra het.”

Die afgelope paar dae spandeer ons tyd in die geslagsregisters. Ek weet dit kan partykeer vervelig voel. Dit het immers nie dieselfde prioriteit in óns kultuur, as in die kultuur van die mens in die Ou Nabye Ooste nie.

Maar telkens verras die geslagsregisters my tog. Dan vind mens ‘n juweel wat alles die moeite werd maak. Vandag sien ons die gedeelte oor Jabes wat so tussen alles weggesteek lê.

Jabes het eintlik net 3 dinge van die Here gevra:

  • Dat die Here sy seën oor hom sal uitstort.
  • Die die Here sy grondgebied sal vergroot.
  • Dat die Here hom sal beskerm.

Jabes se gebed is eenvoudig en ongekompliseerd. Die Here het gedoen wat hy gevra het.

Ek is dikwels ietwat versigtig vir Jabes se gebed. Sy gebed maak my ongemaklik omdat dit vir my voel ons hoor die “American dream” daarin: ‘n gróót lewe met baie geld en min weerstand en probleme. Wie wil nie so ‘n lewe hê nie?

Maar werk ek vir God of werk Hy vir my? Ons dink te maklik dat God tot ons diens is. Ek dink nie dat Jabes se gebed in sy tyd bedoel het, wat ons vandag in ons selfgerigte kultuur daarmee hoor nie.

Maar nogtans beteken sy gebed vir ons baie. Die feit dat sy Ma hom met smart in die wêreld gebring het en dit in sy naam verewig het, was ‘n geweldige klad op sy identiteit. Hy moes dit soos ‘n lelike ettiket om sy nek die res van sy lewe saamdra. Dit was eintlik roekeloos en liefdeloos van sy eie Ma.

Maar die Here het daardie wond van verwerping genees en sy lewe op ‘n ander koers geplaas. Die leed wat ander ons aandoen, het nie die laaste sê oor ons uiteinde nie. Die Here hoor ons gebede.

En om daardie rede is Jabes se gebed uiters kosbaar vir ons: As ek my lewe aan die Here toevertrou, het Hý die laaste sê oor die uitkoms daarvan.

Jesaja 12

“Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding. Op dié dag sal julle uitroep: “Loof die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend en verkondig dat sy Naam groot is.” (Jes 12:3)

Laat ek net gou “recap”: Gister het ons gesien dat die Here beloof dat Hy nuwe lewe uit die dooie, verbrande stomp Isai sal laat ontspring. Vandag sien ons die loflied wat by die mense onstaan vanweë hierdie uitkoms wat die Here bring.

En dan gebruik Jesaja ‘n baie mooi metafoor: Hy sê dat die volk “water sal skep uit die fonteine van redding”. Hy gebruik ‘n beeld waarmee almal van sy tyd mee bekend was:Dors en die verkryging van water

Hy sê hulle was dors na uitkoms. Maar soos wat jy jou emmer laat sak en vanuit ‘n put water skep en nuwe krag kry, so is die redding wat die Here vir hulle bewerk, water wat hulle dors les. Hulle verlossing is die BRON waaruit alles verder vorentoe vloei.

Mag die feit dat die Here ook mý verlos het, vir my die krag gee om die lewe hier en nou in die oë te kyk! Mag die redding wat Hy vir my aan die kruis bewerk het, die water wees wat vir my krag gee vir elke dag! Mag my identiteit as “verloste”, die bron wees waaruit ek leef.