Tag Archives: Identiteit in Christus

1 Konings 12

Vererg jy jou ook soms vir iemand wat jou te nakom? Miskien was die persoon ongevoelig in sy opmerkings teenoor jou? Of miskien voel jy die persoon het nie aandag aan jou gegee nie. Jy voel dalk jy is op meer respek geregtig. Jy voel daar was onbedagsaam teenoor jou opgetree.

Dit is alles tekens van ‘n gekwesde ego. Ons liggeraaktheid verklap aan ons dat ons waardeloos voel, en as ander se optrede daardie persepsie bevestig, dan wil ons onsself handhaaf deur groter respek te vereis of deur daarop aan te dring dat ons méér waardevol is as wat ons voel.

Ons almal lei daaraan tot ‘n meerdere of ‘n mindere mate. Ek inkluis. Ek skrik dikwels vir hoe kwesbaar my eie ego is. Hoe maklik ek seergemaak voel. Hoe maklik ek bedreig voel. Hoe vinnig ek jaloers op iemand anders voel.

Rehabeam en Jerobeam was nie anders nie. Rehabeam was koning Salomo se seun. 

Hy probeer sy gevoel van minderwaardigheid wegsteek, deur te oorkompenseer. Hy sê vir die volk: “Julle het gedink my Pa was erg. Wag tot julle my sien” (vers 10). Sy oordrewe manhaftigheid bereik toe presies die teenoorgestelde as waarvoor hy gehoop het. Die volk verwerp hom en skeur weg! Hoe’s dit vir ‘n ego wat alreeds seer is?!

Die volk kroon toe vir Jerobeam as koning. Maar Jerobeam sit nie in Jerusalem nie, maar in Sigem. Sy ego vrees ook verwerping. Hy is bang dat as die volk 3 keer per jaar Jerusalem toe moet gaan om te offer, dat hulle spyt kry en weer Rehabeam begin aanhang.

Om sý ego te beskerm, bou hy toe twee goue kalwerbeelde (vers 28) aan wie die volk kan offers bring. Sodoende hoef hul nooit weer Jerusalem toe te gaan nie.

So die een leier skeur God se volk. Die ander leier lei hulle van die wal in die sloot. Alles net oor ego’s. 

Hoeveel keer kry die saak van die Here skade omdat my ego ook in die pad kom? Hoeveel keer kry my getuienis skade omdat ek optree vanuit my minderwaardigheid?

Genesis 35 (Jul 18)

Ek voel aangeraak deur vandag se verhaal wat afspeel tussen vers 16 en 18… Ragel gee geboorte aan nog ‘n seun. Maar hierdie keer was dit ‘n baie moeilike bevalling. Ragel se liggaam kry seer. Die vroedvrou probeer Ragel moed inpraat en sê dat die babatjie gelukkig ‘n seuntjie is. Maar Ragel is aan die sterf. Met haar laaste asem noem sy die babatjie “Ben-Oni”. Dit beteken “seun van my ellende”.

Kan jy dink hoe dit vir hierdie kind sou wees om met so ‘n naam deur die lewe te gaan? Tesame met die wete dat hy verantwoordelik is vir die dood van sy eie ma…

Jakob was baie lief vir Ragel. Sy was mos Jakob se “high school sweetheart” van die begin af. Dit sou seker baie natuurlik vir Jakob gewees het om ook hierdie seun te verwerp – die een wat die dood van sy geliefde vrou veroorsaak het. Maar Jakob weet hoe dit voel om te leef sonder die seën van jou pa.

Daarom gee Jabob vir Ben-Oni ‘n nuwe naam. Hy noem hom “Benjamin” – wat beteken “Die seun van my”. Maar dit het spesifiek ‘n baie warm liefdes konnotasie aan die naam.

Doen die Here nie dieselfde met ons nie? Dikwels is ons ook aandadig aan baie seer in ons familie se lewens. Met reg sou daar ook neerhalend na ons verwys kon word. Maar gelukkig is daar vergifnis by ons Vader. Hy ettiketteer nie ons nie met die sleg nie. Hy gee ons ‘n nuwe identiteit in Christus.

Eksodus 19 (Mrt 4)

In Eksodus 19 kom daar as’t ware ‘n nuwe volk totstand. Die Here roep die volk in die lewe en gee vir hulle bestaansreg. Hulle bestaansreg sou geskoei wees op hul identiteit: hul is die eiendom van Yahweh, ‘n koninklike priesterdom. Die idee was dat hulle op ‘n besondere manier afgegrens sou wees van al die ander heidense nasies, om sodoende God te verheerlik.

Petrus sê ons as kinders van die nuwe verbond is ook ‘n nuwe volk, ‘n koninklike priesterdom. Ons is ook op ‘n spesiale manier aan die Here gewy. My bestaansreg vind ek in hierdie nuwe identiteit.

Vind ek my identiteit in dit wat ek moet doen, of méér in dit wat die Here aan my gedoen het? Is die klem in my verhouding met die Here op dit wat ek moet wórd, of dit wat ek moet wéés?

Gebed: Vra die Here om ons te help om raak te sien dat die klem in ons verhouding, altyd meer moet val op dit wat Hy gedoen het en hoe hy ons aan Hom gewy het.

Matteus 4 (28 Feb)

Matt 4: 3 Dit is vir my opvallend dat die heel eerste versoeking wat aan Jesus gerig was, te make gehad het met sy identiteit: “As U die Seun van God is…” Ironies genoeg was die laaste vers van die vorige hoofstuk ook oor Jesus se identiteit, maar hierdie keer uit die Vader se mond: “Dit is my geliefde Seun…

Dit is dus nie toevallig dat Matteus hierdie 2 insidente direk langs mekaar plaas nie: In die een hand is die identiteitsverklaring van die Vader, in die ander hand die identiteitsversoeking van die vyand. Aan watter een sou Jesus groter waarde heg? Kies Hy die verklaring van die Vader, kon Hy rus in die wete dit is Wie Hy is. Kies Hy die versoeking van die vyand, moes Hy presteer en bewyslewer wie Hy is. Jesus trap nie in die slaggat van prestasie met die doel om “te word” nie – Hy wees gewoon Wie Hy is: Die Vader se geliefde Seun.

Te danke aan Jesus, het ek en jy ook ‘n nuwe identiteit (in Christus). Daar sal altyd stemme wees wat daardie identiteit bevraagteken. Heg jy groter waarde aan stemme wat jou wil verlei in ‘n prestasie-gedrewe godsdiens, of gaan jy God glo dat jy – in Christus – ook sy geliefde kind is?

Gebed: Dank die Here vir jou nuwe identiteit in Jesus.