Tag Archives: Heilige Gees

Romeine 10

“Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim?’ nie,” dit is, om Christus af te bring, “Of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?’ nie,” dit is, om Christus uit die dood terug te bring. Nee, die Skrif sê:“Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.”” Romeine 10:8

Godsdiens het die nare geneigdheid om substitute vir God te skep. Partykeer word die substitute, selfs afgode. Dit is ongelukkig nie net in ander godsdienste wat dit gebeur nie. Selfs in die Christendom skep mense substitute vir God.

Ons is kort-kort opsoek na nog ‘n Mosesfiguur. Soos die volk van ouds wat nie self met die Here wou praat nie, en toe vir Moses gestuur het, so kry ons vir onsself Mosesfigure in ons lewens wat namens die Here met ons moet praat, bid en die wil van die Here moet openbaar.

Maar Paulus sê: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart”. Vir ons wat die Heilige Gees ontvang het, is hierdie woord waar. In plaas daarvan om vandag elders na die Here te gaan soek, word bewus van sy teenwoordigheid – en reageer daarop.

Rigters 11

Ons het al na Rigters se tema van leierskap verwys. Ons het in hierdie boek deurlopend met leiers te doen wat jou hoop gee, net om weer deur hulle teleurgestel te word. Uiteindelik baan hierdie ontnugtering in politieke leiers, die weg vir ‘n dors na ‘n Messias.

Hoofstuk 11 is ‘n klassieke voorbeeld van hierdie tema: Jefta is volgens die standaarde van daardie tyd ‘n bedenklike figuur. Hoewel sy Pa ‘n gemeenskapsleier is, is sy Ma ‘n prostituut. Sy halfbroers verjaag hom berge toe, en dáár versamel ‘n groep boosdoeners rondom hom. Na alle waarskynlikheid ontaard hulle in ‘n groep struikrowers.

Wanneer die volk egter lastig geval word deur die Ammoniete, besef hulle dat hulle iemand “rof-en-tjommel” nodig het om hulle uit hierdie penarie te kry. Daarom nader hulle vir Jefta met die belofte dat hy hulle leier kan word as hy die Ammoniete sou verslaan.

Jefta val oor sy voete vir so ‘n geleentheid! En dit is hier waar Jefta ons begin verbaas. Hy spring nie net halsoorkop in ‘n geveg met die Ammoniete nie. Op ‘n besonderse wyse openbaar hy ‘n stuk wysheid deur eers diplomatieke gesprekke met die Ammoniete aan te knoop. Sy kennis oor die pad wat die Here met sy volk tot hier geloop het, beïndruk ons baie! Kan hy dalk die langverwagte leier wees was Israel so desperaat nodig het?

Toe die diplomatieke gesprekke misluk, bekragtig die Heilige Gees vir Jefta om oorlog te gaan maak (vers 29). Alles loop vir Jefta tot op hierdie punt voor die wind. En dan maak Jefta ‘n groot fout. Hy lê aan die Here ‘n eed af om die eerste een wat uit sy huis kom om hom tegemoet te gaan, vir die Here as brandoffer te offer. Later blyk dit sy enigste kind, sy dogter te wees. Die verhaal eindig met die tragiese dialoog tussen hulle en die vertelling hoe hy haar moes offer.

Jefta faal liederlik. Hy wat ons die een oomblik met sy kennis oor die Here beïndruk, wys vir ons die volgende oomblik hoe min hy regtig oor die Here weet. Hy weet byvoorbeeld nie eens dat die Here sy volk uitdruklik verbied om hulle kinders te offer nie! So iets is ‘n gruwel vir die Here.

Verder openbaar sy eed aan die Here sy eie selfsug. Hy probeer in sy “onderhandeling” met die Here net homself bevoordeel. Hy gee nie die Here kans om die (afskuwelike) bepalinge van sy eed te wysig nie. En hy dink ook nie aan die (arme) persoon wat deur sy eedswering geïmpliseer word nie. Ál wat vir hom belangrik is, is dat hy slaag. Sy ambisie vir leierskap, ontaard in ‘n ongesonde magsug wat hom onbesonne dinge laat aanvang. Ook Jefta is ‘n nuttelose leier…

Die teks laat mens jouself afvra hoeveel van dít wat ons doen, doen ons ter wille van God se eer en hoeveel gaan eintlik net oor ons eie eersug? Ook kan ons onsself afvra hoe diep ons insig oor die Here is? Ken ons Hom werklik in alle sfere van ons lewe, of is ons kennis van Hom beperk tot net sekere aspekte?

1 Konings 9

Bitter-soet. Dit is die gevoel wat jy kry as jy hierdie hoofstuk lees. Wat veronderstel is om ‘n hoogtepunt te wees word gevolg deur ‘n rits opmerkings wat ‘n frank smaak in jou mond laat.

Die hoogtepunt was toe die Here vir Salomo oor die nuwe tempel sê: “Ek het jou gebed en jou smeking wat jy tot My gerig het, verhoor. Ek heilig hierdie tempel wat jy gebou het, sodat my Naam altyd daar sal wees. Ek sal altyd daarvoor sorg en daaraan dink.” (1 Kon 9:3)

Maar dan vervolg die hoofstuk met lys dinge wat Salomo gedoen het wat mens eintlik dwars in die keel steek. Die teks praat van dwangarbeid wat hy gebruik het, jy lei verder af daar was swaar belastings op die volk gehef en verder sien jy sy verbintenis met die Farao se dogter wat onheil voorspel.

Mens kry die heeltyd die idee dat Salomo dit oordoen. Dat sy bouprogram die finansiële vermoë van sy volk oorspan. Dit word wel vir Here gedoen, maar ek kan nie help om te vra of daar nie ook ‘n goeie dosis ego in sy bouwerk opgesluit lê nie. Die krake in Salomo se voete van klei begin alreeds wys (en in die volgende hoofstuk word dit nog meer sigbaar)

As mens die ou met die nuwe verbond kontrasteer, dan weet mens ons het soveel om voor dankbaar te wees. Waar God se Gees in die verlede sy intrek in ‘n gebou geneem het, vind ons vandag die Gees se teenwoordigheid in mense. Die kruis van Jesus het ons waardig gemaak ek versoening met God moontlik gemaak.

Ek kan ook nie anders as om dan vir die Heilige Gees te vra dat Hy my motiewe sal deursoek nie. Mag Hy my help dat ego, skein en bedekte agendas en motiewe nooit die dryfveer sal wees waarom ek iets “in die naam van die Here” doen nie.

Eseg 37 (4 Aug)

Ha-ha-ha. Kyk ek nou op my eie neus neer.

Die afgelope paar dae loop en tob ek oor ‘n situasie. In my gedagtes kom ek op ‘n punt waar ek daaraan dink om op die spesifieke mense/situasie “op te gee”. Dit voel so vasgeloop en onoplosbaar. Ek is steeds besig met hulle in my gedagtes toe ek my Bybel oopmaak. “Daar is vir party mense/situasies nie hoop nie”, dink ek by myself…

…en toe lees ek Eseg 37 … waar die Gees van die Here self doodsbeendere lewend maak.

Nou kry ek skaam oor my eie ongeloof. Ek kies om my vertroue in die Heilige Gees te plaas.

Eksodus 37 (16 April)

Ek lees hoofstuk 37 en dink aan hoe baie Openbaring by die beelde van die tabernakel aansluit. In hierdie hoofstuk word daar byvoorbeeld baie gemaak van die kandelaar met 7 lampies. Ons het reeds gesê dat die kandelaar na God se teenwoordigheid deur sy Gees – oftewel na die Heilige Gees verwys.

Dink nou aan hoeveel keer jy in Openbaring lees van die “sewe geeste voor God se troon” (Goddelike getal wat dui op die volheid van die Gees). Of dink aan al die waarskuwings wat in Openbaring gerig word dat die Here die “lamp” van die onderskeie gemeentes gaan wegneem.

In hierdie tyd wat oploop na Pinkster, kan ons gerus onsself afvra wat ons kan doen om meer bewus van die Heilige Gees te leef.

Eksodus 34 (12 April)

Wanneer mens die Ou Testamentiese verhale lees, kan mens nogal maklik dink “Wow!” dit moes wonderlik wees om in daardie tyd te leef en die dinge te sien wat hulle beleef het. Neem nou maar as voorbeeld die feit dat Moses se gesig geskitter het elke keer as hy klaar met die Here gepraat het.

Maar dit is wat dit so interessant maak om die Bybel in sy geheel te lees. Paulus sal byvoorbeeld heeltemal met daardie indruk dat die “ou tyd” beter was, verskil. In 2 Kor 3 skryf hy dat die rede hoekom Moses sy gesig moes toemaak, was omdat hy nie wou hê dat die mense moes sien dat die skynsel aan die afneem was nie (2 Kor 3:13)

Dan kontrasteer Paulus die ou verbond met die verbond waarin ek en jy nou staan, en hy maak die punt dat hierdie verbond soveel beter is. Waar Moses se se heerlikheid afgeneem het, is die heerlikheid waaraan ons deel het besig om toe te neem en toe te neem (2 Kor 3:18)

Ek het dikwels nodig om hierdie weer en weer te hoor: Die toegang wat ons nou tot die Here het (deur die Heilige Gees), is baie meer as wat Moses of enige iemand anders ooit onder die ou verbond gehad het. Ons moenie die ou verbond ophemel nie. Ons moet die nuwe verbond ontdek…

Gebed: Kom ons vra die Here dat Hy ons sal onderrig in die dinge aangaande die Heilige Gees.

Eksodus 25 (1 April)

Ai man, ek het gisteraand se sessie so geniet. Dankie vir elkeen wat daar kon wees!

Eks 25:9 Ons het gisteraand baie gepraat oor die betekenis van die verbondstent en elkeen van die items. Miskien moet mens hier net volstaan met vers 9 se opmerking: “Hulle moet vir My ’n heiligdom oprig dat Ek tussen hulle kan woon.” Dit was die hart van die tabernakel. En Johannes sou later sê dat dit die hart was wat agter Jesus se koms was – dat Hy onder ons wou kom “tabernakel”. En nou betree ons die tyd van die kerklike jaar waarin ons die uitstorting van die Heilige Gees herdenk. En dit is ook hiermee nogmaals die hart van die Here: Om teenwoordig te wees tussen sy kinders.

Gebed: Wees bewus van die Here se teenwoordigheid en geniet Hom nie.

Esegiël 1 (12 Maart)

Eseg 1:12 Dit is treffend dat die wesens altyd beweeg het in die rigting wat die Gees wou, en saam met hulle het die wiele in daardie rigting gedraai. Dit alles dui op soepelheid en sensitiwiteit vir leiding van die Gees. Mens kan nie help om jouself af te vra of jy ook ontvanklik is vir die beweging van die Gees nie. Val ons vas in rigiditeit of laat ons ons lei deur die Gees?

Gebed: Kom ons vra die Heilige Gees om ons te help om “oop” te wees vir sy leiding.

Eksodus 20 (5 Maart)

As jy Eksodus 20 lees, kan mens nie help om ‘n gevoel van eerbied te kry nie. Die gee van die Wet (20:1-17) word omarm deur 2 gedeeltes wat die volk se angs beklemtoon (19:20-25 en 20:18-21). Jy kan nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat jy hier met ‘n groot God te make net nie. Uiterste respek is die enigste gepaste reaksie.

En tog los Eksodus 20 jou ook met die gevoel van onvervulling. Enige wet is op die minimum vereiste ingestel. As jy byvoorbeeld net wil gehoor gee aan die wet om jou kinders skool toe te stuur, dan het jy nog nie by hulle die begeerte geskep om leergierig te wees nie. En op een vlak is dit oa ‘n verskil tussen die Ou en die Nuwe verbond. In die Ou verbond sê die wet jy mag nie jou medemens vermoor nie (minimum vereiste). In die Nuwe verbond bemagtig die Heilige Gees ons om ons medemens lief te hê (maksimum prestasie). Dit is soos die teoloog Paul Zahl sê, dít wat die Wet vereis, kan die Wet nie by ons wek nie. Daarteenoor is dít wat die Gees in ons wek, geen Wet oor nie.

Die kort en die lank is dat Eksodus 20 vir ons God se heiligheid onderstreep. En ook ons aan die voorreg herinner om kinders van die Nuwe verbond te mag wees.

Gebed: Sê vir die Here dankie dat Hy sy Heilige Gees in ons harte gestort het, en dat jy jou lewe nou wil inrig aan die hand van hoe die Gees lei en volgens die vrug wat Hy in jou lewe wil bewerk.