Tag Archives: Godsdiensspeletjies

Amos 4

Mens verstaan hierdie hoofstuk amper beter as jy dit van agter af terug lees…Amos is steeds besig met sy vertoë teen Israel. Dit lyk asof hy nou die rol van Bet-El se priester inneem, want hy nooi almal uit om hulle offers te bring en aan die kultus deel te neem:

“Bring julle offers vroegmôre, julle tiendes op die derde dag. Verbrand die ongesuurde brood as dankoffer, kondig julle vrywillige offers aan, laat die mense dit hoor. So hou julle mos daarvan, Israeliete, sê die Here my God”

Sy uitnodiging is egter sarkasties bedoel. Hy sê immers:

“Kom na Bet-El toe as julle wil sonde doen, na Gilgal toe as julle nog meer sonde wil doen.”

Hy sinspeel met ander woorde daarop dat die volk “skeinheilig” is. Hulle “dien” oënskynlik die Here want hulle kom al die uiterlike gebruike van die kultus na. Maar hulle laat na om reg te geskied aan die armes.

Vandaar die inleiding van die gedeelte wat lui “julle deur wie die swakkes verdruk en die armes mishandel word”

Amos herinner ons dat dit baie maklik vir my en jou is om onsself op die skouer te klop, en te voel ons dien die Here want ons is betrokke by die kerk of ons het een of ander sigbare uitlewing van ons godsdientige oortuiging. Maar as daardie godsdienstige oortuiging nie grondvat in ons etiek nie, dien ons die Here net met ons lippetaal.

Numeri 23

Dit is ‘n baie humoristiese toneel wat in Numeri 23 afspeel: Die Moabietiese koning, Balak, kry die towenaar Bileam om die Israeliete te vervloek. Hulle staan op ‘n berg en kyk uit oor die vlakte waar die volk versprei is. Dit moes vir Balak angswekkend wees om so baie mense skielik in sy landsgrense te sien deurtrek.

Daarom betaal hy vir Bileam goeie geld om ‘n vloek oor die volk uit te spreek wat hulle kragte sou verminder. Die ironie is dat ons in Bileam – die bedenklike figuur – onverwagse integriteit vind. Hy is nie bereid om ‘n vloek oor die volk uit te spreek as die Here dit nie self vir hom sê om te doen nie.

Nodeloos om te sê, gaan die Here nie sy uitverkore volk laat vervloek nie. So ons sit met ‘n toneel waar Bileam met sy uitspraak begin, en Balak wat gretig sit en luister hoe sy vyande vervloek gaan word, hoor tot sy groot onsteltenis dat Bileam hulle begin seën!

Balak neem Bileam na ‘n ander uitkykpunt en vir ‘n tweede keer boemerang sy plan in sy gesig. Met sy hande in sy hare probeer hy later vir Bileam net stilkry, en sê hy “as jy nie my vyande kan vervloek nie, hou dan ten minste net op om hulle te seën!”

Die gedeelte laat my gedagtes in twee rigtings trek: Eerstens herinner Balak my aan ons eie geneigdheid om godsdiens tot ons eie voordeel – en tot nadeel van my opponente te gebruik. As ons rusie met iemand het is ons lief daarvoor om God se beskerming vir onsself toe te eien, en God se oordeel oor ons opponente toe te dig. Ons laat God in die proses as’t ware buikspreek.

Jesus skep vir ons ‘n probleem in so ‘n geval. Ons kan nie Hom annekseer en as ‘n handpop gebruik om te sê wat ons eintlik wil sê nie.

Balak vra vir Bileam: “Wat het jy my nou aangedoen? Ek laat jou kom om my vyande te vervloek en jy seën hulle!” En in die antwoord van Bileam hoor ek iets van Jesus se woorde: “Ek moes tog presies kom sê wat die Here my voorgesê het”

As ons na Jesus toe wil draai om te hoor dat ons ons vyande kan vervloek, dan kyk ons in die verkeerde rigting. Hy gaan vir ons sê dat ons hulle moet seën.

Die tweede ding waarna my gedagtes toe draai, is die beskerming wat God se kinders van Hom geniet. Niemand kon – met watter duistere kragte ook al – die volk vervloek wat God gekies het om te seën nie. En op ‘n soortgelyke wyse geniet ons die Here se beskerming. In Christus is ons “geseëndes van die Here”, en niemand – nie eers godsdientige mense – kan God van plan laat verander om ons eerder te vervloek nie.