Tag Archives: Geweld

1 Kronieke 5

“Maar hierdie stamme was ontrou aan die God van hulle voorvaders en het oorgeloop na die gode van die landsbevolking wat ter wille van hulle deur God uitgeroei is. Daarom het die God van Israel vir koning Pul van Assirië, dit is Tiglat-Pileser, aangehits, en dié het hulle as krygsgevangenes weggevoer” 1Kron 5:25-26

Ons lees in vandag se hoofstuk van hoe die stam Ruben, Gad en Manasse Oos van die Jordaan geleef het. Ons lees van een oorlog na die ander, ter wille van oorlewing. Die Here help hulle deur elkeen en beskerm hulle. Hy is die behouer van hulle lewe.

En dan aan die einde van die hoofstuk lees ons dat hulle, ten spyte van alles, gaan staan en oorloop het na ander afgode!?

Dit is nie juis lekker om te lees van al die moord en doodslag nie. Mens sou met reg kon vra “Wat maak ons vandag met al die bloedvergieting in die Bybel?”.

Maar vir nou is dit eintlik belangrik om te sien dat hier ‘n storie agter ‘n storie afspeel. Ons lees indirek van God se volgehoue getrouheid (Hy help hulle deurgaans), en dan sien ons sy dienaars se ontrouheid. God se betroubaarheid en die mens se onbetroubaarheid word dus op ‘n baie prominente manier teenoor mekaar gestel.

Wanneer God uiteindelik sy hand terugtrek, neem die Assiriese koning hulle oor. In die proses verloor hulle hul bestaansreg en identiteit.

Ons is maar net soos die volk. Ons gehoorsaamheid laat veel te wense oor. Eintlik verdien ons ook om ons bestaansreg en identiteit te verloor.

Maar God het in ons tyd iets nuuts gedoen! Hy het sy Seun vir ons gestuur. Sy seun sou nie net namens ons sterf vir ons foute nie, maar ook namens ons lewe. Vandag vind ons ons bestaansreg en identiteit in Jesus! Hy het dit alles namens ons verdien.

Ons is swak, maar Hy is sterk. Maar omdat daar ‘n band tussen ons en Jesus bestaan, maak Hy ons deel van sy sirkel. Hy laat toe dat ons in sy oorwinning deel. Ons pluk die vrugte van dit wat Jesus vir ons bereik het.

Anders as die stamme van Ruben, Gad en Manasse, kan ons God die Vader se volgehoue guns en beskerming geniet, níe omdat ons so toegewyd leef nie, maar omdat Jesus gehoorsaam was tot in die dood.

Rigters 1

Ek waarsku jou nou al: Die geweld in hierdie boek gaan so dik loop dat jy voel jy daaraan kan verstik. Die klimaks van die hele Rigters, vind ons in die laaste vers van die boek: “Elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë” (Rigters 21:25)

Dit is die klimaks van die boek, maar dit is ook die laagtepunt van die boek. Hierdie tema is vervleg deur die hele boek, wat veroorsaak dat die boek die vorm van ‘n afwaartse spiraal aanneem.

Reeds in die eerste hoofstuk – vandag se hoofstuk – sien ons die eerste spore hiervan. Dit voel vir ons of die geweld teen die inwoners van die land, byna ‘n “free-for-all” vir die Israeliete word. Elkeen kan besluit wie hy wil doodmaak en hoe hy dit wil doen.

Mens kry die indruk reeds in die eerste hoofstuk, dat die volk hulle vergryp aan geweld. Dit is natuurlik baie maklik om in hierdie strik te trap: As daar ongeregtigheid teenoor jou begaan is, dan rasionaliseer jy jou eie verkeerde optrede om dit reg te stel. Ons sien hierdie tipe dinge elke dag in ons land afspeel. Die gevolg is dat wetteloosheid toeneem en eskaleer.

As jy eers jou aan wetteloosheid oorgegee het, dan word die volgende misstap net nog makliker en makliker. Dit is wat gebeur met mense wat nie meer die Wet (Die Here se wil) as hulle rigsnoer gebruik nie.

Kom ek en jy bid vandag dat ons prima plek aan die Here se Woord in ons lewens sal gee. Dat dit die rigsnoer in ons lewe sal bly. Dat ons nooit ons sonde sal rasionaliseer of regverdig nie.

Hou verder in gedagte, soos wat die boek in sy afwaarste spiraal beweeg en op ‘n laagtepunt eindig, dat geen menslike leier ooit waarlik vir ons kan uitkoms gee nie. Die boek eindig met ‘n dors na iets meer. Daardie versugting na ‘n Messias word uiteindelik deur Jesus beantwoord! Hy is gans anders as enige menslike leier.