Geloof

now browsing by tag

 
 

2 Kron 32

Hierdie hoofstuk bevat een van die mees noemenswaardige wonderwerke van die Ou Testament – wat deur die argeologie bevestig kan word.

Mens kan vandag nog die Siloamtonnel in Israel besoek, wat gebruik was om water te bekom. Ons sien ook die versterkings in die stadsmuur wat in hierdie tyd aangebring is, om weerstand teen die dreigende Assiriese inval te bied.

Selfs die antieke geskiedskrywer “Herodotus” maak melding van die feit dat die Assiriese weermag so skielik op die vlug geslaan het. Volgens hom het ‘n plaag veldmuise in die kamp van die Assiriers ingevaar en begin pandemonium saai. Hulle het selfs die snare van die boë afgekou en die manskappe het uit angstigheid selfs mekaar gedood. Dit was waarlik ‘n ingryping van die Here, want geen ander stad van enige volk kon ‘n inval van hierdie weermag ontsien nie.

Dit val my op hoe groot rol iets soos “vrees” in so ‘n besetting speel. Sanherib probeer Hiskia se manskappe ontmoedig deur skrywes aan hulle te rig en deur selfs in Aramees met hulle te praat.

Maar Hiskia hou sy manskappe sterk deur hulle te bemoedig:

2 Kron 32:7 “Wees dapper en sterk. Moenie bang wees nie, en moet julle nie laat afskrik deur die koning van Assirië en die hele menigte saam met hom nie, want by ons is meer as by hom: 8 By hom is ‘n menslike mag, maar by ons is die Here ons God om ons te help en ons oorlog te voer.”

Geloof is waarlik om alle vertroue in God te plaas wanneer die omstandighede die teenoorgestelde sê

Psalm 140

Die Psalm sal sterk met baie van ons resoneer, want die vyand wat in hierdie Psalm beskryf word hoef nie noodwendig lewensbedreigend te wees nie. Dit lyk eerder asof die vyand iemand is wat negatiewe gerugte oor die digter versprei het, omrede daar ‘n groot klem op die “tong” van die vyand is.

Miskien is die uitstaande kenmerk van hierdie Psalm, die feit is dat dit aan aktiewe inisiatief van die digter ontbreek. Ons lees nêrens dat die digter ‘n voorneme uitspreek om byvoorbeeld iets aktief aan die saak te doen nie.

Die rede hiervoor is waarskynlik omdat die digter God as aktiewe rolspeler beskou. Die feit dat daar inisiatief by die mens ontbreek, is geensins passiwiteit nie maar eerder die manier waarop die digter aktief sy geloof uitleef teenoor die aktiewe HEER.

Psalm 140:13-14 “Ek weet: Die Here behartig die regsaak van magteloses, die reg van behoeftiges. 14 Waarlik, regverdiges sal u Naam prys; opregtes sal in u teenwoordigheid woon.”

Jeremia 1

Daar is baie wat mens in Jeremia 1 opval: Die Here wat die profeet reeds voor geboorte gekies en bestem het. Die profeet se selfkritiek dat hy te jonk is. Die Here se bevestiging dat wat hom bekwaam maak, nie sy bekwaamhede is nie maar die feit dat God hom gekies het.

Wat vanoggend vir my egter baie betekenisvol is, is die gesig van die amandeltak wat die profeet sien. Amandelbome het in die lente begin bot lank voordat ander bome bot. As jy al die ander weerstoestande in aanmerking neem, sou dit vir jou lyk asof dit nog winter is. ‘n Bloeisel op ‘n amandeltak sou vir jou heeltemal verdwaal en uit plek kon lyk – asof hierdie boom homself misgis. Tog is die lente waarlik op pad.

Die Here gebruik hierdie visioen om vir Jeremia te bemoedig: Hy sal nie Jeremia daarvan beskaam laat afkom nie. Hy sal doen wat Hy onderneem het om te doen – al lyk dit vir niemand anders asof dit moontlik is nie.

Vandag nog vind ons dit moeilik om die Here op sy Woord te neem. Hy sê ons is vergewe – maar dit voel nie vir ons so nie. Hy sê Hy sal voorsien – maar dit lyk nie vir ons of daar uitkoms in sig is nie. Hy sê Hy is naby – maar dit voel of Hy ver is. Hy sê Hy sal ons beskerm – maar ons bly bang.

Geloof is om die amandeltak te glo. Geloof is om aktief te wag op die Here. Geloof is om God op sy Woord te neem en in sy beloftes te rus.