Geloof te spreek

now browsing by tag

 
 

Psalm 140

Die Psalm sal sterk met baie van ons resoneer, want die vyand wat in hierdie Psalm beskryf word hoef nie noodwendig lewensbedreigend te wees nie. Dit lyk eerder asof die vyand iemand is wat negatiewe gerugte oor die digter versprei het, omrede daar ‘n groot klem op die “tong” van die vyand is.

Miskien is die uitstaande kenmerk van hierdie Psalm, die feit is dat dit aan aktiewe inisiatief van die digter ontbreek. Ons lees nêrens dat die digter ‘n voorneme uitspreek om byvoorbeeld iets aktief aan die saak te doen nie.

Die rede hiervoor is waarskynlik omdat die digter God as aktiewe rolspeler beskou. Die feit dat daar inisiatief by die mens ontbreek, is geensins passiwiteit nie maar eerder die manier waarop die digter aktief sy geloof uitleef teenoor die aktiewe HEER.

Psalm 140:13-14 “Ek weet: Die Here behartig die regsaak van magteloses, die reg van behoeftiges. 14 Waarlik, regverdiges sal u Naam prys; opregtes sal in u teenwoordigheid woon.”

Markus 11

Ek is in ‘n Gereformeerde kerktradisie en het baie waardering vir die kerkgroepering waarin ek staan. Maar ek dink geensins dat ons die enigste groepie Christene is wat die Here reg hoor nie.

Ek het al baie by Christene uit ander kerktradisies geleer. Die manier hoe hulle oor God nadink – asook dit wat hulle in die Bybel raaklees.

Neem byvoorbeeld die Charismatici se klem wat hulle lê op die belangrikheid om geloof te spreek. Dit maak dikwels vir Gereformeerdes soos myself ongemaklik – die byna astrante houding waarmee “lewe gespreek” word.

Ons ken dit nie. Ons is meer gewoond daaraan om ‘n diepe afhanklikheid teenoor die Here uit te spreek. Ek dink dit is ook reg so – daar is immers vele Skrifgedeeltes wat ‘n nederige, eerbiedige houding aanmoedig.

Maar dit beteken nie dat my Charismatiese broers en susters verkeerd is nie. Daar is ook Skrifgedeeltes wat hulle onwrikbare vertroue uitbeeld.

Neem byvoorbeeld Markus 11:22-24

Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê! 23Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. 24Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

Charismatici is heeltemal reg as hulle ons daarop wys hoe belangrik dit wat jy sê, in hierdie gedeelte word. Jou woorde word as’t ware die eerste plek waar jou geloof sigbaar word.

Natuurlik is daar gevaar in hierdie teologie. Die bekendste dwaling is sekerlik die “name it & claim it” beweging, wat gekenmerk word deur welvaartsteologie. Hiervolgens hoef jy net die regte woorde te spreek om ryk en gesond te word.

Bogenoemde is natuurlik vals. Dit is ‘n gevaarlike dwaling.

Maar kanselleer dit die waarheid van die teks, om te let op dit wat uit jou mond kom? Nee glad nie. Daar is inderdaad krag in ons woorde. Selfs Gereformeerdes soos ekself weet dit, want dit is hoekom ons mense aan die einde van elke erediens “seën”.

Ek word dus deur my Charismatiese broers en susters gesensitiseer vir die belangrikheid om geloof te spreek. Hierdie teks is maar een van vele wat daardie waarheid onderstreep.