Tag Archives: Gehoorsaamheid

Rigters 6

Jy sal onthou dat die vorige twee dae se vertellings in Rigters daarop neergekom het dat mens onvoorwaardelik gehoorsaam moet wees en nie nie moet fokus (soos Barak) op dit wat jy nie kan nie kan doen nie, maar eeerder (soos Jael) op dit wat wel binne jou vermoë is.

Wel, vandag se hoofstuk oor Gideon sluit by hierdie tema aan. Die volk word lamgelê deur die struikrooftogte van die Midianiete. Die Here verskyn aan Gideon waar hy wegkruip en sê vir hom: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete.”

Verstaanbaar aarsel Gideon ten aanhore van hierdie opdrag. Die krag wat hy het is nie baie nie. Hy is nie eens van ‘n prominente stam nie. Wie sal na hóm luister?

Die opdrag aan hom en die verskonings wat hy aanbied, herinner baie aan God se verskyning aan Moses by die brandende braambos. Dáár het Moses byna woordeliks dieselfde soort opdrag gekry – en byna woordeliks dieselfde soort verskonings opgedis.

Dit is met ander woorde nie toevallig dat die Here vir Gideon dan in vers 16 met presies dieselfde woordkeuse antwoord as wat Hy vir Moses mee geantwoord het nie. In Hebreeus is die frase: “Ek is by jou…” ‘n verbatim herhaling van die Here se woorde aan Moses.

Die hele dialoog sluit natuurlik op ‘n ironiese wyse aan by Gideon se klagte dat die Here nie meer dieselfde wonderdade onder sy volk doen as vroeër nie (vers 13). Hierop is die Here se antwoord in effek: “Wees jy die beskikbare dienskneg, en Ék doen die wonderwerk.” Sjoe, mens moet pasop waarvoor jy wens 🙂

Die mooi van vandag se stuk lê egter in die manier waarop die Here vir Gideon aanspreek: “Die Here is by jou, dapper man” (vers 12). Dít sê Hy vir die ou wat wegkruip… Maar die wonder is dat Gideon dan juis dit wórd wat God oor Hom uitroep. Hierdie is tipies hoe die Here werk. In die brief Romeine skryf Paulus: “…God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.” (Rom 4:17). Dink mooi na oor hierdie vers: Die here skep deur sy woord.

Hy vernoem ‘n kinderlose Abram, na Abraham – die vader van die nasies. Die wankelbare Simon wat soos ‘n riet in die wind van sy oortuigings verander, word Petrus – oftewel “Rots” hernoem. Uiteindelik sterf Petrus onderstebo op ‘n kruis vanweë sy onwrikbare oortuigings. Op ‘n soortgelyke wyse noem nie Nuwe Testament my en jou nooit meer “sondaars” ná die kruis van Jesus nie. Ons word nou genoem: “heiliges”. Vêr van wat ons verdien, roep die Here in ons na vore dít wat Hy in ons totstand wil bring.

Wat noem Hy jou vanoggend? Dalk “vreeslose” een? Of miskien “geloofsreus”? Kom ons kies om te reageer op die naam wat hy ons noem.

Rigters 5

Vandag se hoofstuk bevat ‘n gedig oor gister se vertelling. Die genre van poësie verleen hom natuurlik daartoe om baie dramaties te wees, en hierdie gedig doen juis dit.

Dit sluit af met ‘n vertelling van hoe Sisera se Ma by ‘n venster staan en uit tuur, wagtend vir wanneer haar seun gaan terugkom. Sy is onbewus van die feit dat hy reeds deur ‘n vrou gedood is – ‘n skandelike dood oorgekom het. Inteendeel, sy word intussen met valse hoop deur ‘n diensmeisie vertroos: Dalk neem hy maar net so lank omdat hy ‘n groot buit saambring.

Hierdie vertelling van Sisera se Ma vind ons net hier en nie in die narratief van die vorige hoofstuk nie. Dit skets egter die nederlaag van Sisera op ‘n baie emosionele wyse, en kontrasteer dit dan met die vreugde van die oorwinning wat Israel beleef. Die gedig sluit af met: “Mag al u vyande so omkom, Here, maar mag dié wat vir U liefhet, wees soos die son wat in sy volle krag skyn.” (Rigters 5:31)

Ons kan óók hierdie sin bid: Mag die vyande van die Here faal in dít wat hulle wil doen. Mag hulle tot inkeer kom.

Ons word ook herinner aan Barak se voorwaardelike gehoorsaamheid en Jael se gewilligheid. Mag ek ook onthou om nie vas te kyk in dit wat ek níe kan doen nie (soos Barak), en eerder soek na dít wat ek wél kan doen (soos Jael).

Rigters 4

In Rigters 4 lees ons van iets uitsonderlik vir die antieke tyd: ‘n vroulike gemeenskapsleier! In ‘n samelewing wat deur mans gedomineer was, was dít iets totaal ongewoon. Tog lees ons dat mense van regoor Israel na Debora gekom het sodat sy hulle geskille kon oplos (vers 5).

Die militêre leier, Barak, het ook leiding by haar gaan vra. Haar raad aan hom was voort te gaan met die aanval op Sisera, die hoof van hulle vyamde se leër. Barak was egter huiwerig. Hy wou nie dadelik daarop reageer nie en het eers met die Here probeer onderhandel. Hy het voorgestel dat Debora saamkom. Was dit dalk sy toets om te sien of sy werklik seker is dat haar insig van die Here kom? Ons weet nie dit nie. Ons weet net dat sy “onderhandeling” op voorwaardelike gehoorsaamheid neergekom het – iets wat hom duur te staan sou kom.

Hoewel Debora ingestem het om saam met hom te gaan, het sy bygevoeg dat die “eer” van die oorwinning nie meer na hóm toe sal gaan nie, maar na ‘n vrou. Hoor dit weer: Die uitkoms wat die Here sou bring, sou uit ‘n hoogs onwaarskynlike oord kom. En dit het ook so gebeur…

Toe Sisera op die vlug slaan, het hy by die tent van Jael aangekom. Daar het hy aan die slaap geraak. Jael het toe Sisera se lewe met ‘n hamer en ‘n tentpen geneem. Nie net het die uitkoms gekom uit ‘n oord wat niemand verwag het nie (Jael was nie eers ‘n Israeliet nie), maar hy is doodgemaak met iets wat nie eers tradisioneel as ‘n wapen beskou is nie. Dit was ‘n skandelike dood vir Sisera.

Tog leer ons ook iets oor die Here se eer: Hy het werklik nie mý nódig om sy raadsplan te laat geskied nie. As ek (soos Barak) nie met gehoorsaamheid reageer nie, dan werk die Here rondom my om sy plan tot uitvoer te bring. Hy kan sy wil laat geskied deur die mees onwaarskynlike figure en instrumente te gebruik.

Hierdie wete plaas ons eie belangrikheid in ‘n nuwe lig. Niemand is onontbeerlik vir die Here nie. As jy nie aan die Here wil gehoorsaam wees nie, “snoeker” jy nie sy plan nie. Jy mis gewoon uit op die voorreg om deur die Here gebruik te word, want Hy gebruik net iemand anders wat wél gewillig is.

Kom ons verklaar ons eie klein nietigheid voor die Here en bid vandag vir ‘n diep gehoorsaamheid aan Hom.

1 Konings 13

Sjoe, vandag lees ons weer ‘n teks wat nogal moeilik sit in jou gemoed. Wat met die jong profeet gebeur voel so onregverdig…

Sien, hy moes na koning Jerobeam toe gaan om God se misnoë aan te kondig oor die afgode wat aanbid word. Oppad terug na Juda, kom daar ‘n ou profeet van die gebied en nooi hom om eers by hom te kom eet. Die jong profeet wys die uitnodiging van die hand en sê dat die Here uitdruklik vir Hom gesê het om nie in hierdie gebied eers iets te eet of te drink nie.

Maar dan doen die ou profeet ‘n gemene, geslepe ding…

Die óú profeet sê toe vir hom: “Ek is ook ‘n profeet net soos jy, en ‘n engel het op bevel van die Here vir my gesê: Bring hom terug na jou huis toe en laat hy iets eet en sy dors les!” Maar die óú profeet het vir hom gelieg. (1 Kon 13:18)

Die jong profeet “val” vir die liegstorie van die ou profeet en dit kos hom uiteindelik sy lewe.

Mens se eerste reaksie is om die jonger profeet jammer te kry. Jou simpatie lê by hom omdat hy bedrieg is. En was dit nou regtig só erg om iets te eet en drink by ‘n mede-profeet? Is daar nie ‘n klomp ander dinge wat erger sondes is nie? Is dit nie bietjie onbillik van die Here om dan te beskik dat die profeet tot sterwe moet kom nie? Dit is inderdaad my eerste reaksie.

Maar ek word herinner aan die woorde van Tim Keller – en ek parafraseer nou – “As die God wat jy aanbid nooit jou lewensuitkyk uitdaag of selfs jou aanstoot gee nie, dan is die kans goed dat die God wat jy aanbid net die produk van jou eie verbeelding is”. As ons immers ‘n God aanbid wat eg is, dan moet Hy tog sekerlik op sekere punte van ons verskil.

En dit lyk my hier verskil God van my. Dit lyk my God plaas ‘n hoër premie op gehoorsaamheid as wat ek gedink het Hy hoef. 

En nou is die vraag waar los dit my? Dink ek maar net Hy is “kleinlik en onbillik” om soveel gehoorsaamheid te vereis, en daarom hou ek aan om my eie kop te volg oor wat ék dink reg en billik is? Ék sal besluit wat reg en verkeerd is, wat sonde is en wat nie! Of laat ek toe dat die teks my verander? Hoor ek dat die Here waarlik nougesette gehoorsaamheid van my verwag?

Dit plaas die indrukke in ons lewe, wat ons ervaar as die Here se stem, in ‘n totaal ander lig. Dit noop my om absoluut getrou te bly aan dit wat ek glo die Here vir my gesê het.

Josua 6 (Mei 1)

Die inname van Jerigo is ‘n pragtige verhaal van nougesette gehoorsaamheid. Die opdrag van die Here moes stiptelik uitgevoer word. Al het dit nie alles heeltemal sin gemaak uit ‘n menslike oogpunt nie, moes die Israeliete gehoorsaam wees.

Dikwels vra die Here in sy Woord van ons, dat ons lewe anders moet lyk as die mense rondom ons. Ons kan dit rasionaliseer en probeer wegredeneer hoekom ons al die eise van dissipelskap nie regtig ernstig hoef op te neem in vandag se tyd nie. Maar op die ou einde weet ons in ons hart van harte dat die Here van ons vra dat ons lewe anders moet lyk…

Kom ons gehoorsaam die Here stiptelik al lyk dit asof dit nie sin maak nie.

Eseg 8 (25 April)

Dit is asof Esegiël al dieper geneem word in die geheime wat God sien. Daar is iets onheilspellends daaraan as hy 3 keer geneem word na plekke waar daar sonde gepleeg word. Eers na een van die poorte in Jerusalem (vers 5). Dan na ‘n poort in die voorhof van die tempel (vers 7). En dan na ‘n poort by die ingang na die huis van die Here (vers 14).

Hoor jy die eskalasie? Hy begin buite en beweeg na binne. Telkens word hy al nader aan die hart van die probleem geneem.

Dit gaan in hierdie gedeelte daaroor dat niks vir God verberg is nie. Hy ken selfs my diepste sonde.

Mag ons nooit dieselfde doen as die leiers van hierdie tyd nie: “Hulle dink: die Here sien ons nie, Hy is nie meer in die land nie.” Eseg 8:12

Dink vir ‘n oomblik na oor die diepste geheim wat jy tans koester. Hoe voel dit vir jou om te weet die Here sien dwarsdeur jou? Vir party van ons is die gedagte angswekkend. Maar dit kan ook vir ons uiters bemoedigend wees.

Eksodus 36 (14 April)

Jy gaan wonder of jy vandag se hoofstuk nie vroeër gelees het nie, omdat dit so bekend klink. Maar die vorige keer was dit die opdrag. Nou is dit die uitvoering daarvan. Die vorige keer was die vraag. Nou is dit die antwoord. Deur die uitvoer net so verhalend soos die opdrag te vertel, kommunikeer die outeur aan ons dat Moses, die vakmanne en die volk baie nougeset die Here se opdragte gehoorsaam het.

Wat ons bring by ‘n vraag oor gehoorsaamheid. Is ek gehoorsaam aan die vroeëre opdragte wat die Here vir my gegee het? Voer ek dit nougeset uit?

Matteus 7 (30 Maart)

  1. Onthou: Komende donderdagaand die 31ste Maart om 18:00 is dit weer Bybelskool. Dan behandel ons April se leesgedeeltes. Stuur gerus vir my die vrae wat in jou hart is oor die afgelope maand se leeswerk, en dan kyk ek solank of ek antwoorde kan soek.
  2. Onthou: As jy êrens agter geraak het met die leesrooster, moet jy nie moedeloos word en dit los nie. Val net weer in! En daar is geen beter begin as ‘n nuwe maand nie. Moenie moed verloor nie, wat jy nou doen om jou Bybel deur te lees, gaan jou op die langtermyn soooo baaiiiie baaat!!!

Matteus 7: Die sleutel tot die verstaan van Jesus se preek, lê in die slot van sy preek. Hy som alles wat Hy gesê het op met ‘n laaste voorbeeld van ‘n verstandige en ‘n dwaas man wat elkeen ‘n huis wil bou. Die fondasie is die telkens die oorgaan tot gehoorsaamheid. Let mooi op na Jesus se woorde: “Elkeen wat hierdie woorde van my hoor en daarvolgens handel” of “Elkeen wat hierdie woorde hoor en nie daarvolgens handel nie

Gebed: Kom om ons vra die Here om ons te help met ons gehoorsaamheid en dat ons sal implimenteer wat Hy vir ons leer.

Eksodus 1

Die Farao beveel vir die vroedvroue, Sifra & Pua, om die kinders van die Hebreërs om die lewe te bring (Eks 1:15).

Daar word egter uitdruklik gesê dat omdat die vrouens vir God gedien het, hulle hul nie gesteur het aan die bevel van die Farao nie (vers 17).

Ons sien in hierdie verhaal hoe dit lyk as ‘n gelowige moet kies of jy mense of God gaan gehoorsaam. Sifra en Pua wys vir ons dat hulle hoër waarde aan gehoorsaamheid aan God as aan gehoorsaamheid aan mense geheg het – selfs al sou dit hulle dood kon beteken.

Ek vra myself af aan wie ek meer gehoorsaam is: Aan die verwagtinge van mense, my kultuur, strukture, regerings – of aan God?