Tag Archives: Dissipelskap

Johannes 1

Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. 36Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!” Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. (Joh 1:35-37)

Ons begin vandag met die evangelie van Johannes! Dit is ‘n besonderse evangelie en ons gaan ons tyd hierin geniet.

Dit was die gebruik om in die inleiding van enige boek, jou hoofgedagtes en hooftemas wat verder in die boek uitgelê gaan word, ter tafel te lê. Ons sien dat dieselfde hier in Johannes gebeur.

Al die temas wat later in die evangelie opgetel gaan word, soos: Lig teenoor duisternis, kinders van God teenoor kinders van die duiwel, lewe teenoor dood, dit alles kom hier in die openingsverste van Johannes voor. Die belangrikste hiervan is die Godskap van Jesus is.

Maar die gedeelte wat my vandag raak, is Johannes die Doper se reaksie toe hy Jesus sien. Hy wys mense na Jesus toe, selfs as dit sou beteken dat hulle hóm verlaat. Dit was vernederend in die antieke tyd as jy ‘n leermeester is en jou volgelinge verlaat jou om by ‘n ander leermeester in te skakel. Tog keer dit nie Johannes om sy volgelinge na Jesus te wys nie.

Hy is vir my die voorbeeld van hoe om dissipels te maak. Party kerke vandag maak dissipels deur mense te laat inkoop in die gemeente se visie en missie. Ander dink dissipelskap gaan daaroor om die leier se uitkyk op die lewe joune te maak – en selfs sy mannerismes en woordeskat aan te leer.

Maar Johannes hak mense gewoon aan Jesus. Dit is inderwaarheid al wat dit is om dissipels te maak. Jy hak mense aan Jesus.

Lukas 23

Ek kom nie vanoggend verder as om na te dink oor Pilatus nie. Daar is iets humoristies in die manier waarop Jesus vir hom ‘n warm pattat word. Hy weet nie wat om met Jesus te doen nie. Hy probeer Jesus iemand anders se probleem maak en stuur Hom Herodes toe. Maar die probleem wil nie weggaan nie, want Herodes stuur Jesus terug.

Die humor verander nou in ironie. Pilatus het probeer wegkom van ‘n besluit oor Jesus, maar ons kan nooit wegkom van so ‘n besluit nie. Glo ons Jesus is Wie Hy sê Hy is? Mens kan nie daardie besluit wegskuif en hoop iemand anders maak die besluit vir jou nie. Mens moet daardie besluit sélf maak – soos Pilatus uitgevind het.

Maar dan verander die genre van ironie na die genre van tragedie. Pilatus bevind Jesus onskuldig. Hy oordeel dat Jesus wél is Wie Hy sê Hy is…maar hy is nie bereid om die gevolge van sy besluit te dra nie. As Hy deurgedruk het met sy bevinding van Jesus, dan het daar opstand uitgebreek. Dit was iets iets wat hy ten alle koste wou vermy, want dit sou op sy CV by die keiser baie sleg lyk. En daarom gaan hy teen sy gewete in en lewer Jesus uit om as skuldige gekruisig te word.

Hy kan miskien sy hande in onskuld was…hy kon dit 10 keer gewas het. Hy sal altyd in die geskiedenis onthou word as die man wat nie die moed van die oortuiging gehad het om by sy besluit oor Jesus te bly nie. Pilatus word ‘n patetiese figuur.

Die lewe van Pilatus word ‘n wekroep vir elkeen van ons. Nie net moet elkeen van ons ook ‘n besluit oor Jesus maak nie – maar ons moet ook bereid wees om met die gevolge van daardie besluit saam te leef. Vir baie van ons impliseer ‘n besluit vír Jesus, ook ‘n besluit om deur vriende verwerp te word of om kontrakte te verloor vanwë die morele vereistes wat saam met Jesus kom.

Dit help nie ons loop net halfpad nie. Mens kan nie vír Jesus kies, maar die opstand vermy en jou “hande in onskuld was nie”. Jesus eis alles of niks.

Jesaja 50

“Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat. Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ‘n leerling moet luister. Die Here my God het my geleer om te luister: ek was nie teen Hom opstandig nie, ek was nie ontrou aan Hom nie. Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie.” (Jes 50:4-6)

Die eerste persoonsvertelling wat hier aan die praat is, verteenwoordig die stem van die deel van die volk wat in die ballingskapstyd getrou gebly het aan die Here. In moeilike tye luister hulle steeds na sy stem en doen hulle die regte ding.

Jy sou verwag dat dit lafenis sou bring vir die mense rondom hulle, en dat hulle daarom gewaardeer word. Maar die teendeel gebeur. Hulle regte optrede word begroet met lyding en vervolging. Tog kry mens nie die idee dat dit die getroue dienaars afskrik nie. Lewe, vir húlle, is om die wil van die Here te doen.

Mag die Here ook in my lewe die dapperheid gee om die régte ding in moeilike tye aanhou te bly doen.

Matt 13 (31 Julie)

Jesus sê dat die koninkryk vergelyk kan word met iemand wat ‘n skat in ‘n saailand gevind het, en toe alles wat hy het verkoop het om die saailand te bekom.

Ons natuurlike reaksie is om te wonder of die persoon nie dalk bietjie impulsief was nie. Was dit regtig nodig om so radikaal te wees?

Ons wil so graag “gebalanseerde mense” wees. Ons wil hoop dat dit moontlik is om Jesus te dien  – en gelyktydig met ons vorige lewe aan te gaan. Ons voel skuldig as ons besef dat ons nie kans sien om ons huidige lewe “op te gee” inruil vir ‘n lewe met Jesus nie.

Maar die rede hiervoor is omdat ons waardeskatting so verwronge is. Ons oorwaardeer die lewe sonder Jesus en onderwaardeer die lewe met Jesus. Indien ons die korrekte waarde daaraan sou toeken, sou ons vind dat ons ook net soos die persoon in die gelykenis, nie sou skroom om alles op te gee nie.

Mag Jesus vir my groter word en ekself kleiner.

Matt 5 (28 Maart)

Matt 5:1 Dit tref my altyd dat ‘n menigte mense Jesus dopgehou het toe Hy teen die berg opgegaan het om die Bergrede te lewer – maar net die dissipels het die moeite gedoen om ook teen die berg op te gaan.

Sal dit die verskil wees tussen toeskouers en ware dissipelskap?

Gebed: Vra die Here om jou te help dat jy ook die ekstra myl vir Hom sal loop.