Tag Archives: Dankoffer

Deuteronomium 16

In hoofstuk 16 word die bepalinge vir 3 feeste gegee: die Paasfees, die fees van weke en die huttefees.

Die fees van weke is die een wat my vandag baie opval. Dit het ook bekend gestaan as die Oesfees, omdat dit aan die inbring van die graanoes gekoppel was. Die ander doel van die fees was om die dag waarop die Wet in ontvangs geneem is, jaarliks te vier. Dit moes presies 7 weke na afloop van die Paasfees gevier word. Vandaar het dit dan ook begin bekendstaan as “Pinkster”, want die “penta” het na die 50 dae verwys.

In die Nuwe Testament word die Heilige Gees interessant genoeg op die vyftigste dag na die Paasfees uitgestort. ‘n Ander ooreenkoms is dat die uitstorting van die Gees, ten nouste betrekking het met die insameling van die oes.

Maar daar is ook ‘n skrille kontras tussen die pinkster van die ou testament en díe van die Nuwe Testament: In die Ou Testament het 3000 mense gesterf die dag toe hulle die Wet in ontvangs geneem het. Die dag toe die Heilige Gees egter gegee is, het 3000 mense tot bekering gekom.

Daarom kan Paulus sê dat die Wet gekom het deur die dood, maar dat die Gees lewe bring. Die nuwe bedeling is dus in elke opsig beter.

Daar is dus belangrike ooreenkomste en verskille tussen die fees van weke en die pinksterfees van die Nuwe Testament. Wat my spesifiek vandag opval, is die beweegrede waarom die fees in die Ou Testament gevier moes word.

Vers 10 sê dat jy die fees moes onderhou en ‘n vrywillige offer moes bring, tot die mate waartoe die Here jou met voorspoed geseën het. Dit is vir my interessant dat dankbaarheid die beweegrede moes wees, en dat daar nie ‘n spesifieke voorskrif aan die offer gekoppel was nie. Dit was vrywillig. Jy kon self besluit. In vandag se tyd sou ons sê jy kon jou deur die Gees laat lei. Dit is vir my so tipies en gepas van ‘n fees wat sinspeel op die bedeling van die Gees.

Maar hoe evalueer jy hoe goed die Here vir jou was? Ek meen, sodra jy aan iets dink wat Hy vir jou gedoen het, dan lei jou gedagtes na nog iets, en nog iets en nog iets. Na ‘n ruk besef jy dat alles wat jy het – jou hele bestaan – aan Hom te danke is. Hoe gee mens ‘n offer wat hieraan reg laat geskied? Al wat jy eintlik kan doen – wil doen – is om alles te gee. Jouself te gee. Oor te gee.

Nehemia 10

Na aanleiding van die gesamentlike gebed wat die volk in die vorige hoofstuk gebid het, gaan hulle dan nou voort om ook ‘n eed af te lê in hierdie hoofstuk.

Dit is ‘n plegtige eed teenoor die Here – wat verseël word en al – waarin onderneem word dat hulle die voortaan die héle Wet sal onderhou.

Dit is ‘n pragtige gebeurtenis wat die klimaks van die boek bevat – maar tog is dit ook gelyktydig die moment voor die groot val kom. Hierdie hoofstuk bevat ‘n prentjie van hoe pragtig hulle toewyding is – maar dit is gelyktydig ook swanger met die onheilspellende. Want ons weet dat ons beste voornemens en al die toewyding in die wêreld, nie genoeg is om die héle Wet van God foutloos te onderhou nie. Esra 10 bevat dan ook die uitbeelding van die onmoontlikheid.

Maar vanoggend is daar iets in die inhoud van hulle eed, wat my aandag opval. Van alles wat die volk belowe om te doen, belowe hulle onder andere om die eerstelinge van al hulle gesaaides en vrugtebome, asook die eersgeborenes van al hulle vee en kleinvee – én selfs die eerste deeg, wyn en olie na afloop van die oes, na die huis van die Here te bring.

Gewoonlik word Skrifgedeeltes soos hierdie gebruik om die meriete van dankoffer aan te toon – en die noodsaak dat ons nie vir die saak van die Here gee wat oorbly na al ons uitgawes betaal is nie, maar dat ons heel eerste vir die Here sal gee. Dit is ook reg so.

Maar ek dink ons mis baie keer iets selfs meer belangrik as dit, in gedeeltes soos hierdie. En dit is die manier waarop gedeeltes soos hierdie swanger was met ‘n Messiaanse verwagting.

Onthou, die rede waarom die eerstelinge of die eerste oes na die tempel gebring is, was nie primêr om dit aan die Here te wy nie, maar omdat dit aan die Here gewy ís.

Die héle oes het aan Hom behoort. Alles was te danke aan Hom, en alles het inderwaarheid Hom toegekom. Die eerstelinge van ‘n oes was bloot die verteenwoordiging van die héle oes. Deurdat die eerstelinge na die tempel toe geneem is, is die volk herinner aan die feit dat hulle héle bestaan eintlik aan God behoort.

Nou die interessante: Wanneer Jesus op die toneel kom, praat die Bybel van Hom as ons “Eersteling”…

Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.
ROMEINE 8:29

Jesus is ons oudste broer. Hy is die eersgeborene van ons Vader. Hy is aan ons Vader gewy – maar Hy is ook verteenwoordigend van ons. Wat waar is van Hom, is waar van ons.

As Hy gesterf het vir die sondes, dan het óns. As Hy die dood oorwin het, dan het óns. As Hy nou aan God gewy is en vir Hom leef, dan is dit ook waar van ons.