Tag Archives: Dankbaarheid

Deuteronomium 26

Vandag se gedeelte handel oor die tiendes wat die volk moes bring. Dit is vir my interessant hoe verskillend die beweegredes is vir die gee van tiendes, tussen ons vandag en die volk van ouds.

Vandag is mense geneig om dankoffer te gee as ons voel die gemeente hou hulle besig met verdienstelike sake. Dit is dan ook baie maklik om kop uit te trek uit dankoffer gee, as jy voel die gemeente fokus nie op dit wat jy wil hê daar op gefokus moet word nie. Die punt is: In vandag se tyd is óns die weldoeners as ons besluit om te gee en die gemeente is die “bevoorregte-begunstigde”.

Maar die volk van ouds het dinge anders verstaan. Hulle het gegee, nie tot voordeel van die kultus nie, maar omdat dit goed was vir hulleself. Deut 26:9 lui…

“Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs van die land wat deur die Here aan my gegee is, gebring het.’” (Deut 26:9)

Die gee van dankoffers – of dit nou die opbrengs van die eerste oes of tiendes was – was om jouself as’t ware te herinner aan die feit dat jy tot hier gekom het nie op jou eie stoom nie. Dit was die Here wat jou gedra het, guns gegee het, beskerm het, ‘n weg gemaak het waar daar nie ‘n weg is nie.

En die gee van dankoffer het ten doel gehad om jou te herinner dat alles eintlik in die eerste plek aan God behoort. Dit het jou beskerm teen die gevaar om vir jouself te begin leef.

Ons het almal nodig om dit te onthou, want ons is almal geneig om onsself op die skouer te klop . . . vir die materiële besittings wat ons al bymekaar gemaak het . . . vir die mooi gesin wat ons het . . . vir die gesondheid wat ons beleef . . . terwyl dit álles in der waarheid uit die Here se hand kom.

Ps 107

Vandag se Psalm is ‘n interessante een. Psalm 107 is die laaste in die bundel van lofpsalms (103-107). Die Psalms in hierdie groep begin almal met die oproep: “Loof die Here…”. Psalm 107 spesifiek was geoogmerk om gebruik te word as ‘n dankoffer-psalm. Dit beteken dat die Psalm voorgelees is met die samekoms van die Israeliete met die doel om waarlik dankbaarheid in hulle harte te wek wanneer hulle dankoffers bring.

Die Psalm noem ‘n rits wonderdade van die Here op en dit sou noodwendig jou geheue terugneem na die verlede waar die Here ook aan jóú goed gedoen het.

Is dit nie hoe ons almal maar is nie? Ons is nie vanself net dankbaar nie. Selfs met ons beste voornemens om nooit van God se goedheid en guns in ons lewens te vergeet nie, vergeet ons daarvan. Ons moet gelei word om weer daaraan te dink. Ons moet herinner word om dit weer op te roep en dankbaar te wees.

Miskien is dit hoekom die Here beskik dat ons juis vanoggend hierdie Psalm weer moet lees. Miskien wil Hy hê dat ons vir ‘n oomblik – voor ons vandag ons dagtaak met al sy bekommernisse aanpak – vir ‘n oomblik sal stop en dink aan hoe goed Hy vir ons is…

Rigters 10

Daar is iets wat my tot nou toe in die boek Rigters gepla het, wat ek nie heeltemal my vinger op kon plaas nie. Vanoggend weet ek wat dit is…

Die normale patroon wat ons in die Bybel raaklees, verloop as volg: Sonde 》Verlossing 》Dankbaarheid.

In Rigters voel dit vir my ontbreek dankbaarheid nog die hele tyd. Die patroon wat ons hier teëkom is: Sonde 》Verlossing 》Sonde 》Verlossing ens. Dit is asof ons nog die heeltyd diepgaande berou mis, met die gevolg dat ware dankbaarheid ook afwesig is.

Op ‘n baie klein vlak sien ons vandag vir die eerste keer ‘n teken van berou: “Maar die Israeliete het die Here geantwoord: “Ons het gesondig! Doen U met ons wat goed is in u oë, maar red ons tog net vandag!” Hulle het toe die ander gode tussen hulle uit verwyder en hulle het die Here gedien, en Hy het ‘n end gemaak aan hulle swaarkry.” (Rigters 10:15-16)

Moet egter nie te vinnig opgewonde raak nie. Hulle verwydering van die afgodsbeelde is minder van ware bekering en meer oor wat hulle by die Here in die proses kan kry – naamlik oorwinning van die veldslag.

Hulle verhouding met die Here kan op die heel beste beskryf word as “transaksioneel”. Hulle dien Hom nie omdat Hy is wie Hy is nie, maar oor wat hulle uit dit kan kry. Dit is ‘n prentjie van ‘n infantiele verhouding met God.

En myne? Lyk my verhouding met die Here anders? Dien ék Hom omdat Hy is Wie Hy is? Of dien ek Hom omdat ek hoop om in die proses gesondheid, beskerming en voorspoed te kry? Kom ons bid dat die Here volwassenheid in ons verhouding met Hom sal gee.

Psalm 16 (31 Maart)

Sjoe jong! Ek het die wonderlikste beeldmateriaal gekry wat ek graag vanaand met jou by die Bybelskool wil deel. Dit gaan April se leesstukke oor die tabernakel (in die oorblywende hoofstukke van Eksodus), asook ons eerste hoofstukke van Joshua wat voorlê, sommer LEWENDIG maak! So vanaand se Bybelskool om 18:00 gaan lekker visueel wees.

Ek gaan my bes probeer om teen Dinsdag 5 April die nodige skakels te plaas vir die mense wat ons aanlyn volg. Sommige van die video’s het skakels wat ek ook sal kan plaas, maar daar is ook video’s wat kopiereg het en wat ek nie sal mag plaas nie.

Rakende vandag se gedeeltes in Psalms 15 en 16:

Psalm 16 is seker een van my gunsteling Psalms – as dit nie my heel gunsteling een is nie. Dit is ‘n Psalm oor dankbaarheid. Maar vanoggend vind ek my die sin “…daar is vir my niks goeds nie behalwe by U…” oor en oor sê. Die Psalmdigter praat namens homself – en dit is vir my mooi. Maar is dit waar van my? Ek hoop so! Maar weerspreek my optrede nie gebed nie? My optrede verklap tog wat ek dink belangrik is, en waar my prioriteite lê. So hierdie vers dring my vandag tot selfondersoek. Miskien help dit jou ook