Tag Archives: Beskerming van God

Psalm 91

Die Ou Testamentikus, Walter Brueggeman, meen mens kan 3 verskillende soorte Psalms onderskei.

Eerstens kry mens Psalms van oriëntasie. Dit is Psalms vir wie die lewe eenvoudig, reglynig en ondubbelsinnig is. Die goeie word altyd beloon en die slegte word altyd gestraf.

Dan kry mens Psalms van disoriëntasie. Dit is vir wanneer die lewe nie sin maak nie. Dit is wanneer daar vrae gevra en geworstel word.

Derdens kry mens Psalms van heroriëntasie. Dit is wanneer daar groei en ontwikkeling by die Psalmdigter kom. Die digter het dalk ‘n vraag waarmee hy worstel, maar tog sluit hy af met ‘n loflied.

Vandag se Psalm val duidelik in die eerste kategorie. Dit is ‘n Psalm wat eenduidige antwoorde gee. Die gelowige word van alle onheil beskerm. Hy stamp nie eens sy voet teen ‘n klip nie.

Natuurlik weet ons die lewe is nie so eenvoudig nie. Maar dit maak nie hierdie Psalm minder waar nie. Die doel van hierdie Psalm is om ‘n kompas te wees. Dit rig ons geloof op die Here.

En die waarheid wat hierdie Psalm verkondig is meer as net metafories. Dit is hierdie Psalm wat ek gelees (en vir myself toegebid) het, die dag toe ‘n kar my laatmiddag van my fiets afgery het – en ek wonder bo wonder nie ‘n skrapie opgedoen het nie.

Dit is ook dieselfde Psalm wat die Here gebruik het om vir my en Lindie bevestiging te gee dat Hy wil hê ek in 2011 Bybels na Libië toe moes smokkel en dat Hy my sal beskerm. Ja, ek was gevang, maar die Here het my tot in die leeukuil geneem en weer daaruit gehaal voordat die bek van die leeus kon toeslaan. Psalm 91 het vir my wáár geword.

Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”

Vandag voel ek dus dat ek Psalm 91 op sigwaarde kan neem en mag glo. Op een vlak is die lewe meer kompleks as wat Psalm 91 voorgee. Maar op ‘n ander vlak is dit ook so eenvoudig.

Spreuke 18

Die agtiende hoofstuk van Spreuke wemel met kosbare wyshede. Mens sou byna op enige van die verse kon toespits. Maar vanoggend vang my oog vers 10.

“Die Naam van die Here is ‘n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling.” (Spreuke 18:10)

Die waarheid wat in hierdie vers opgesluit lê, lê op verskillende vlakke. Die eerste vlak is natuurlik wat geleerdes die “soteriologiese” vlak sal noem – ons verlossing. Elkeen van ons wat die Naam van die Here “aanroep” – dit is maar ‘n ander manier om te sê wat in verhouding met die Here leef – sal gered word.

Maar hierdie vers is ook op ‘n ander vlak wáár. En dit is ‘n vlak wat baie mense huiwerig is om hulle hand op papier te sit, want dit is so misterieus…

Net gister praat ek met ‘n Oom na kerk. Hy was in die afgelope week in ‘n motorongeluk. Sy bakkie het gerol en is afgeskryf. Hy het ongedeerd uitgeklim. Hy vertel die oomblik toe sy bakkie begin tol, het hy (byna soos ‘n refleksreaksie) uitgeroep: “Here help!” Dieselfde het ‘n paar jaar gelede met Lindie gebeur toe die minibus waarin sy gery het, begin rol het.

Dieselfde het met duisende ander gelowiges al in ongelukke, aanvalle of enige derglike gevaar gebeur – insluitende myself. Ek sal die Here verloën as ek nie erken dat Hy ook mý, al só gered het nie. Ek het eerstehands al ervaar dat daar krag is in die Naam van die Here. Die Naam van die Here bring die geesteswêreld in beroering.

Ek sal graag my seuns nog hierdie geestelike waarheid wil leer: Eendag, as jy in ‘n oomblik van krisis is, roep die naam van die Here aan. Nie soos iemand wat dink dat daar toorkrag in sy Náám sit nie. Nie soos iemand wat dink dat hy/sy die regte formule of towerwoorde moet gebruik om God aan die beweeg te kry nie. Maar soos iemand wat, as kind van God, die reg het om in ‘n krisis na jou hemelse Pa uit te roep. Wat jou red is nie die regte woordgebruik nie, maar die appél wat jou verhouding op die Allerhoogste los.

Natuurlik maak hierdie ook baie vrae in ons gemoed los – uitsonderings waaraan ons kan dink of teologiese vrae wat dit skep. Daarop kan ek nie in hierdie kort dagstukkie ingaan nie. Dit neem egter niks weg van hierdie feit nie: As die Here se kinders na Hom roep, luister Hy.

Numeri 23

Dit is ‘n baie humoristiese toneel wat in Numeri 23 afspeel: Die Moabietiese koning, Balak, kry die towenaar Bileam om die Israeliete te vervloek. Hulle staan op ‘n berg en kyk uit oor die vlakte waar die volk versprei is. Dit moes vir Balak angswekkend wees om so baie mense skielik in sy landsgrense te sien deurtrek.

Daarom betaal hy vir Bileam goeie geld om ‘n vloek oor die volk uit te spreek wat hulle kragte sou verminder. Die ironie is dat ons in Bileam – die bedenklike figuur – onverwagse integriteit vind. Hy is nie bereid om ‘n vloek oor die volk uit te spreek as die Here dit nie self vir hom sê om te doen nie.

Nodeloos om te sê, gaan die Here nie sy uitverkore volk laat vervloek nie. So ons sit met ‘n toneel waar Bileam met sy uitspraak begin, en Balak wat gretig sit en luister hoe sy vyande vervloek gaan word, hoor tot sy groot onsteltenis dat Bileam hulle begin seën!

Balak neem Bileam na ‘n ander uitkykpunt en vir ‘n tweede keer boemerang sy plan in sy gesig. Met sy hande in sy hare probeer hy later vir Bileam net stilkry, en sê hy “as jy nie my vyande kan vervloek nie, hou dan ten minste net op om hulle te seën!”

Die gedeelte laat my gedagtes in twee rigtings trek: Eerstens herinner Balak my aan ons eie geneigdheid om godsdiens tot ons eie voordeel – en tot nadeel van my opponente te gebruik. As ons rusie met iemand het is ons lief daarvoor om God se beskerming vir onsself toe te eien, en God se oordeel oor ons opponente toe te dig. Ons laat God in die proses as’t ware buikspreek.

Jesus skep vir ons ‘n probleem in so ‘n geval. Ons kan nie Hom annekseer en as ‘n handpop gebruik om te sê wat ons eintlik wil sê nie.

Balak vra vir Bileam: “Wat het jy my nou aangedoen? Ek laat jou kom om my vyande te vervloek en jy seën hulle!” En in die antwoord van Bileam hoor ek iets van Jesus se woorde: “Ek moes tog presies kom sê wat die Here my voorgesê het”

As ons na Jesus toe wil draai om te hoor dat ons ons vyande kan vervloek, dan kyk ons in die verkeerde rigting. Hy gaan vir ons sê dat ons hulle moet seën.

Die tweede ding waarna my gedagtes toe draai, is die beskerming wat God se kinders van Hom geniet. Niemand kon – met watter duistere kragte ook al – die volk vervloek wat God gekies het om te seën nie. En op ‘n soortgelyke wyse geniet ons die Here se beskerming. In Christus is ons “geseëndes van die Here”, en niemand – nie eers godsdientige mense – kan God van plan laat verander om ons eerder te vervloek nie.