Beloftes van God

now browsing by tag

 
 

2 Kronieke 21

Ons lees in hierdie hoofstuk die tragiese ondergang van koning Jehoram. Hy bou offerhoogtes. Deur sy toedoen begin die volk weer meedoen aan afgodery. Sy koningskap is ‘n tyd van oorlog. Elia rig selfs ‘n skrywe aan koning Jehoram waarin hy hom profeties teregwys.

Dit voel vir ons dat ‘n ramp onafwendbaar is. Alles is met hierdie koningskap verkeerd. En tog, dan vind ons dat die teks die volgende sê…

“Maar ter wille van die verbond wat Hy met Dawid gemaak het, wou die Here die huis van Dawid nie vernietig nie, aangesien Hy beloof het om vir hom en sy seuns altyd ‘n lamp te gee” (2 Kron 21:7)

Hoe verstommend is die Here se genade darem nie? Hy werk sag met die koningshuis van Dawid, net omdat Hy ‘n belofte gemaak het.

En dit laat my dink aan hoe getrou die Here aan sy beloftes is. Hy het nie nodig om die belofte dat daar altyd iemand uit die nageslag van Dawid op die troon sal sit, tot vervelens toe te herhaal nie. Hy maak die belofte en dan hou Hy dit – selfs ten spyte van die mens se ontrouheid.

Ja, daar was definitiewe gevolge vir Jehoram se ontrouheid (Jehoram sterf uiteindelik van ‘n siekte agv sy sonde). Maar ten spyte van die konsekwensies op sy sonde, vermag die Here dit steeds om sy belofte gestand te doen (iemand uit sy nageslag bly steeds op die troon).

Dit is ‘n verstommende bemoediging vir ons wat vashou aan God se beloftes in Christus. Ons kan dit ter harte neem dat ten spyte van ons ontrouheid, hou God sy belofte van redding en verlossing in Christus, aan ons.

Dit is genade in die oortreffende trap!

Esra 1

Die eerste hoofstuk van Esra skop af deur te vertel van die proklamasie van Kores, wat Esra en ander in staat gestel het om terug te keer na Juda om die stad te herbou. As mens nie versigtig is nie, mis mens maklik die grootsheid van hierdie inleiding…

Die volk was mos in 586vC deur Nebukadneser van Babel verower en in ballingskap weggevoer. Hulle was 47 jaar in die vreemde, toe die Persiese koning Kores vir Babilonië oorrompel. Skaars een jaar nadat hy die koninkryk oorgeneem het, vaardig hy in 538vC ‘n edik uit dat verowerde volke na hulle lande van herkoms mag terugkeer.

Wat hierdie so besonders maak, is die feit dat die profeet Jeremia dit geprofeteer het (Jer 25:11; 29:10-14). Die eerste ding wat dus hier vir ons uitstaan is dat die Here ‘n waarmaker van sy Woord is. Hy hou sy beloftes aan sy volk. Hy hou ook sy beloftes aan ons.

Die tweede ding wat uitstaan, is dat die Here hierdie ongelowige koning gebruik om uiting aan sy wil te gee. Kores het nie hierdie toegewing gemaak omdat hy die Here wou dien nie – nie eers omdat hy die Jode simpatiek is nie. Dit was bloot ‘n diplomatieke-strategiese skuif. Die volke wat hy toelaat om terug te keer, sou meer lojaal aan hom wees in die toekoms. Terselfdertyd het hulle ‘n “buffer” tussen die vyand en sy koninkryk gevorm. Kores se motiewe was dus skeef en selfgerig.

Tog is die verstommende dat die Here selfs deur hierdie krom stok ‘n reguit hou slaan. Die Here gebruik hierdie ongelowige om ‘n uitkoms vir sy volk te bewerk. Dikwels bring die Here vandag nog uitkoms vir ons uit ‘n oord wat ons nooit verwag nie.

Hierdie is 2 belangrike geloofsoortuigings waaraan elke gelowige kan vashou in moeilike tye.