Tag Archives: Barmhartigheid

Amos 6

Hoofstuk 6 handel oor die gevaar daarin om uitspattig te leef sonder dat die noodkreet van jou medemens jou raak nie. Jou eie gemak stomp jou af vir die nood van ander.

Amos begin deur ‘n reeks voorbeelde te noem van dinge wat die mense in die Noordryk ‘n gevoel van sekuriteit gee: Hulle lê op ivoorbeddens, strek hulle uit op rusbanke, eet lamsvleis, smeer hulle in met uitsoeksalf terwyl hulle wyn drink en musiek op die harp maak.

Dit klink of die lewe hulle goed behandel. Hulle leef gerieflik.

Geen van die voorbeelde wat genoem word is per sé verkeerd nie. Wat verkeerd is, is dat die vernietiging van “Josef” hulle onaangeraak laat. Dit traak hulle nie dat daar mense is wat ten gronde gaan terwyl hulle in weelde leef nie.

Amos se boodskap is ‘n wekroep ook vir my wat in relatiewe vrede en gemak leef, in die midde van ‘n land met baie nood. Die Here wil in my lewe sien dat ek geraak word deur die pleidooi van my medemens.

Handelinge 3 (10 Mei)

Die feit dat Petrus en Johannes vir hierdie man wat bedel moet sê: “kyk na ons” (vers 4), impliseer dat die man afgekyk het omdat hy nie die mense wat verbystap in die oë kon kyk nie.

Dit maak Petrus en Johannes se optrede soveel meer merkwaardig. Dit beteken hulle het hierdie bedelaar raakgesien, terwyl hy nie eens vir hulle gekyk het nie. Hulle het iemand wat afgekyk het (letterlik en figuurlik), laat opkyk.

Dit vat besondere sensitiwiteit teenoor die Heilige Gees om die randfigure soos hierdie bedelaar, in ons lewens raak te sien. Dit is veel makliker om hulle mis te kyk.

Kom ons vra die Here om ons te help dat ons ook mense wat in die lewe afkyk, sal help om op te kyk.