Psalm 37

Laai jou leesrooster af deur HIER TE KLIK

Psalm 37 se 4e vers laat mens diep nadink:

“Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer”

Met ‘n eerste oogopslag lyk dit skrikwekkend gevaarlik om so iets te sê! Bedoel die Psalmdigter maw dat as ek bv ‘n mooi huis wil hê, dan hoef ek net “my vreugde in die Here te vind” en dan gaan Hy vir my ‘n mooi huis gee? Allermins!

Daar is ongelukkig baie mense wat God sien as ‘n soort kersvader – iemand wat bestaan om vir my persente te gee. Maar dit is natuurlik ‘n skeeftrekking van wie God is. ‘n Mens dien nie die Here sodat Hy jou kan dien nie.

Ons lees miskien Psalm 37:4 se “gee wat jou hart begeer” te vinnig. Daar is ‘n voorwaarde wat dit voorafgaan: “Vind jou vreugde in die Here”

Om jou vreugde in die Here te vind, beteken om jou hele bestaan in Hom te anker. Jy sê as’t ware vir die Here wat Psalm 16 sê: “Daar is vir my niks goeds nie, behalwe by U”. Enige iets anders as die Here, is vir jou maw sekondêr. Hy is primêr.

As die Here die primêre prioriteit in my lewe is, dan vervaag ander behoeftes en begeertes. Dit skuif op die agtergrond, terwyl Hy meer prominent word. In so ‘n geval hoef die Here natuurlik nie meer enige iets anders vir my te doen of te gee anders as Homself nie.

Hy mag dalk vir my ‘n huis gee. Maar Hy hoef ook nie.

Maar die Woord sê dan dat Hy vir my sal gee wat my hart begeer? En ek begeer dan ‘n mooi huis? Dan móét die Here mos vir my dit gee?

Wel, nee… Krap ‘n bietjie dieper en vra jouself af hoekom jy begeer wat jy begeer. Wat agter my en jou begeertes na aardse materiële dinge lê, is waarskynlik die behoeftes soos: sekuriteit, voorsiening, vryheid, liefde, waarde en geluk…

Maar as die Here die één is in wie ek my verlustig – as ek waarlik my vreugde in Hóm soek – dan vind ek inderdaad ook die begeertes van my hart, naamlik sekuriteit, voorsiening, vryheid, liefde waarde en geluk.