1 Konings 1

Klik hier om jou nuwe LEESROOSTER af te laai

Praat van ‘n paleisrewolusie! Vandag lees ons van die onderlinge stryd tussen 2 van Dawid se seuns wat elk hom as koning wil opvolg, Adonia en Salomo.

Mens kan egter nie help om minder van Adonia te hou nie. Hy was magsbehep. Nog voordat sy pa selfs gesterf het, het hy geleef asof sy pa reeds dood is. Sy ambisie om koning te word, het hom ‘n paar strategiese skuiwe laat doen. Hy konkel met die Joab en met die priester Abjatar (vers 7). Dit lyk of hy van vroegs af geleer het hoe om mense om te koop, want hy reël ‘n partytjie waar hy die gaste bederf – alles in ‘n poging om hulle ondersteuning te werf (vers 9). Tog nooi hy doelbewus nie die mense uit wat hy weet hom nie sal ondersteun nie (vers 10).

Adonia is slinks. Hy probeer met skelm strategiese skuiwe politieke veld wen. Teenoor Salomo lyk hy eintlik desperaat. Salomo is totaal afwesig as ‘n karakter wat “aktief” is. Hy is “passief” in die sin dat hy nie na mag gryp soos Adonia nie. Uiteindelik ontvang hy die koninskap – maar nie omdat hy daarna gegryp het nie – maar omdat die Here dit vir hom gegee het.

Hierdie hoofstuk sit soveel vrae op die tafel:

  • Gryp ek na mag?
  • Vertrou ek die Here of vertrou ek op my strategiese planne?
  • Wie is die Natan in my lewe wat vir my uitkyk? Sonder Natan sou Salomo gedoem wees. In wie se lewe is ek Natan?

Die skuld vir die hele petalje word baie subtiel voor Dawid se deur geplaas. Die outeur sê: “Sy vader het hom van kleins af nooit berispe of vir hom gevra: “Hoekom maak jy so?” nie” (vers 6)

Hierdie vers onderstreep nie net die belangrikheid van tug in ‘n kind se lewe nie, maar ook die belangrikheid van stemme in ons lewe wat kritiese vrae vra wat ons onsself moet kan verantwoord. Onderwerp ons onsself genoeg hieraan?

Amos 6

Hoofstuk 6 handel oor die gevaar daarin om uitspattig te leef sonder dat die noodkreet van jou medemens jou raak nie. Jou eie gemak stomp jou af vir die nood van ander.

Amos begin deur ‘n reeks voorbeelde te noem van dinge wat die mense in die Noordryk ‘n gevoel van sekuriteit gee: Hulle lê op ivoorbeddens, strek hulle uit op rusbanke, eet lamsvleis, smeer hulle in met uitsoeksalf terwyl hulle wyn drink en musiek op die harp maak.

Dit klink of die lewe hulle goed behandel. Hulle leef gerieflik.

Geen van die voorbeelde wat genoem word is per sé verkeerd nie. Wat verkeerd is, is dat die vernietiging van “Josef” hulle onaangeraak laat. Dit traak hulle nie dat daar mense is wat ten gronde gaan terwyl hulle in weelde leef nie.

Amos se boodskap is ‘n wekroep ook vir my wat in relatiewe vrede en gemak leef, in die midde van ‘n land met baie nood. Die Here wil in my lewe sien dat ek geraak word deur die pleidooi van my medemens.

Amos 5

Ek wonder of die erns van hierdie hoofstuk ons nog tref? Hoofstuk 5 staan bekend as Amos se treurlied oor Israel. Hoor jy dit? Hoe sal jy voel as jy hoor dat God ‘n treurlied oor jou lewe sing?

In wese is dit omdat Israel van kernsake, randsake gemaak het – en van randsake, kernsake: Die beoefening van die kultus naamlik die bring van offers en die nakom van feeste is ‘n randsaak. Heeltemal tereg sê God by monde van Amos dat hulle nooit tydens hulle reis in die woestyn offers moes bring nie (5:25).

Tog het Israel intussen hierdie aspek verhef asof dit die wesenlike is wat God van hulle verwag. Dít, terwyl hulle nalaat om geregtigheid aan armes te laat geskied (vers 11).

Daarom vind daar in vers 4-6 ‘n uiters skerp teenstelling plaas tussen die kultusbeoefening en ware soeke na die wil van die Here. Mens noem hierdie vorm ‘n parallelisme

  • So sê die Here vir Israel:Vra na my wil, dan sal julle lewe!

    • Moenie in Bet-El gaan raad soek nie, moenie na Gilgal toe gaan of verbygaan Berseba toe nie.
    • Gilgal sal in ballingskap weggevoer word, en Bet-El sal tot niet gaan.
  • Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe!

Die implikasie hiervan is skokkend! Die georganiseerde beoefening van godsdiens in Amos se tyd het so ver afgedwaal van wat waarlik vir die Here belangrik is, dat die Here Homself van dit distansiëer. Dit is ‘n wekroep vir almal van ons wat vandag nog in die kerk ook is.

Hoofstuk 5:15 verwoord op ‘n treffende wyse wat die essensiële is wat die Here van ons verwag:

15Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe.

Spreuke 7

In vandag se hoofstuk waarsku die boek Spreuke op die oog af om nie in die versoeking van wellus te val nie.

Die hoofstuk beskryf eers in volkleur hoe ‘n verleidelike vrou ‘n jong man na haar bed toe nooi. Betower deur haar, stap hy agter haar aan sonder om te besef dat hy eintlik na sy dood toe stap.

Die hoofstuk sluit af met ‘n ernstige waarskuwing:

24Luister na my, my seun, slaan ag op wat ek sê. 25Moet jou nie met so ’n vrou ophou nie, moenie haar pad loop nie. 26Sy het die val van baie op haar kerfstok, sy het al sterk manne laat ondergaan. 27In haar huis is jy op pad na die doderyk toe, by haar is jy op pad na jou dood toe.

Hierdie hoofstuk spreek sekerlik ‘n waarskuwing uit teen wellus, maar dit handel ook definitief oor meer as net dit. Dit handel primêr oor die gevaar dat sonde dikwels nie konsekwensie vooraf vir jou uitspel nie. Sonde skets altyd vir jou net die blink kant – die opwindende lekker deel. Dit verswyg die feit dat daar ook ‘n koste is – en veral hoe hoog die koste is.

Daarom bepleit hierdie hoofstuk ‘n nugterheid as dit kom by besluite maak. Ons moet nie ons laat meesleur deur die opwinding van die oomblik nie.

Amos 4

Mens verstaan hierdie hoofstuk amper beter as jy dit van agter af terug lees…Amos is steeds besig met sy vertoë teen Israel. Dit lyk asof hy nou die rol van Bet-El se priester inneem, want hy nooi almal uit om hulle offers te bring en aan die kultus deel te neem:

“Bring julle offers vroegmôre, julle tiendes op die derde dag. Verbrand die ongesuurde brood as dankoffer, kondig julle vrywillige offers aan, laat die mense dit hoor. So hou julle mos daarvan, Israeliete, sê die Here my God”

Sy uitnodiging is egter sarkasties bedoel. Hy sê immers:

“Kom na Bet-El toe as julle wil sonde doen, na Gilgal toe as julle nog meer sonde wil doen.”

Hy sinspeel met ander woorde daarop dat die volk “skeinheilig” is. Hulle “dien” oënskynlik die Here want hulle kom al die uiterlike gebruike van die kultus na. Maar hulle laat na om reg te geskied aan die armes.

Vandaar die inleiding van die gedeelte wat lui “julle deur wie die swakkes verdruk en die armes mishandel word”

Amos herinner ons dat dit baie maklik vir my en jou is om onsself op die skouer te klop, en te voel ons dien die Here want ons is betrokke by die kerk of ons het een of ander sigbare uitlewing van ons godsdientige oortuiging. Maar as daardie godsdienstige oortuiging nie grondvat in ons etiek nie, dien ons die Here net met ons lippetaal.

Job 9

In hierdie hoofstuk vind ons een van die vele besonderse plekke waar die Ou Testament swanger is met ‘n Messiaanse verwagting: Job bekla die feit dat hy, ondanks sy beste pogings, altyd skuldig sal wees voor ‘n heilige God. Vers 19 lui:

As dit gaan oor krag,
is Hý die sterke,
as dit gaan oor reg,
wie anders as Hý kan ’n klag
teen my inbring?”

Selfs as Job sou probeer positief wees en homself uit die gat dink, dan weet hy daar sal altyd nog iets wees wat die Here teen hom sou kon inbring. Vers 27 en 28 lui:
“As ek sou dink: ek wil ophou
kla, ek wil my houding verander
en vrolik wees,
dan word ek bang dat ek
nog swaarder sal kry,
omdat ek weet dat God my nie
onskuldig gaan bevind nie.

Die hoofstuk sluit af met ‘n wanhopige uitroep van Job, wat vir ons iets wys van die mens se diepste behoefte. Vers 34 lui:

as daar maar iemand was
wat God se straf van my
kon wegneem,
sodat sy verskrikking my
nie skielik oorval nie,
dan sou ek sonder vrees kon praat.
Maar soos sake nou met my staan,
kan ek nie.”

Dinge het baie verander sedert Job hierdie uitgeroep het. Jesus het gekom en presies dit gedoen! My en jou straf is weggeneem en ons kan inderdaad nou sonder vrees met God praat.

 

Levitikus 10

Dit is nogal onstellend om vandag se gedeelte te lees: Nadab en Abihu het grusaam gesterf – net omdat hulle in die heiligdom met ‘n vuurpan gekom het wat nie aan die stipulasies voldoen het wat die Here neergelê het nie.

Met ‘n eerste lees, voel dit onregverdig wat hierdie 2 priesters oorgekom het. Dit voel selfs kleinlik van die Here om hulle met die dood te tref, net omdat hulle eie inisiatief geneem het.

Die sleutelvers van die gedeelte vind ons egter in vers 3: “Toe sê Moses vir Aäron: “Die Here het gesê: Wie ’n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.”

Die kruks van vandag se hoofstuk is dat ons nie die Here op ons “terme” kan dien nie. Hoeveel keer sal mens darem nie deesdae hoor dat so en so nie dalk nie dit en dat van God glo nie, maar die persoon is waarlik opreg in sy soeke na die hoër weë.

Opregtheid is ongelukkig nie goed genoeg nie. Nadab en Abihu was ook opreg. Wat nodig is, is dat ons die Here in opregtheid – en nougesetheid sal dien.

Die Here is heilig. Ons dien Hom nie op ons terme nie, maar op syne. Hy maak die reëls, en ek val by dit in.

Die Here het ook nie sedert die Ou Testament sy vereiste van gehoorsaamheid verlaag nie. Hy verwag dieselfde standaard van ons vandag nog.

As Hy sê, “Jesus is die weg na die Vader” dan help dit nie ons sê “Ja, maar daar is mense wat God wil dien maar liefs nie vir Jesus nie”. Jesus is deur God gekies om die klip te wees waaroor ons vandag nog sal struikel, en die rots waarteen ons ons stamp. (Rom 9:33 en 1 Pet 2:8)

Eseg 46

Laai jou leesrooster af deur HIER TE KLIK

In hierdie hoofstuk van Esegiël handel dit hoofsaaklik oor die ordelike aanbidding van die Here. Esegiël 46 lui bv:

Maar wanneer die gewone burgers op feesdae in die teenwoordigheid van die Here wil kom, moet dié wat deur die noordpoort inkom om in aanbidding te buig, by die suidpoort uitgaan, en dié wat deur die suidpoort inkom, moet by die noordpoort uitgaan. Niemand mag teruggaan deur die poort waar hy ingekom het nie; almal moet by die ander kant uitgaan. (Eseg 46:9)

Het dit jou al ooit oorgekom dat iemand teen die verkeer inry? Dan sal jy weet wat hier aangaan! Die mense word opdrag gegee om by die tempel by die een poort in te gaan en by die ander uit te gaan, om chaos te voorkom. Daar moenie ‘n gedruis wees wat aanbidders hinder terwyl hulle met die Here kommunikeer nie.

Die gedeelte in Esegiël herinner baie sterk aan ‘n soortgelyke voorskrif oor die erediens in die brief 1 Korinte:

“Alles moet egter gepas en ordelik geskied”. (1 Korintiërs 14:40)

As mens hierdie gedeeltes lees, dink mens noodwendig aan die verskillende erediensbelewenisse van elkeen van ons kerke. Hoe ‘n erediens ook al ingerig word, dit moet van respek vir die Here spreek.

Maar nie net eredienste nie. Ook ons persoonlike toewyding aan die Here moet spreek van respek en nougesetheid. Te veel mense “dien” die Here met ongeërgdheid. Mens moet jouself dus afvra: “Op watter manier kan ek in my persoonlike toewyding, vir die Here wys dat ek vir Hom respek het?”

Eseg 45

Laai jou leesrooster af deur HIER TE KLIK

As jy nie geweet het ons lees in die profeet Esegiël se profesieë nie, dan sou jy gedink het dit klink soos die boek Joshua, toe die volk die land die eerste keer ingeneem het en dit verdeel moes word.

Nou vind die verdeling van die land weer plaas, en soos laas word moeite gedoen om gelyke grondgebiede vir elke stam te gee. Daar word seker gemaak dat niemand bevoordeel word nie.

Regverdigheid en eerlikheid is vir die Here belangrik. Soveel te meer as dit by leiers kom. Daarom sê hy by monde van die profeet Esegiël:

So sê die Here my God: “Julle het nou ver genoeg gegaan, regeerders van Israel. Laat staan die geweld en verdrukking, laat reg geskied en doen reg, hou op om my volk se eiendom vir julle te vat,” sê die Here my God. “Julle moet skale gebruik wat reg weeg en julle moet die regte inhoudsmate vir droë stowwe en vir vloeistowwe gebruik. Gewig moet volgens ‘n vaste maatstaf bepaal word.” (Esegiël 45:9-10)

Die Here verwag dieselfde etiese sensitiwiteit by jou en my. Ons kan nie rondloop en sê “ek dien die Here”, maar die manier waarop ek sake doen en mense hanteer, reflekteer dit glad nie.

Esegiël 44

Laai jou leesrooster af deur HIER TE KLIK

Esegiël is in hierdie gedeelte steeds besig om te vertel van die visioen wat hy oor die tempel sien. Besonders opmerklik is wat hy vertel oor die Oostelike poort. Toe die engel vir Esegiël die Oostelike poort wys, sê het hy vir hom die volgende gesê:

“Hierdie poort moet toe bly, dit moet nie oopgemaak word nie en niemand mag daardeur gaan nie, want Ek, die Here, die God van Israel, het daardeur gekom; die poort moet toe bly.” ESEGIËL 44:2

Die engel het voortgegaan om te sê dat selfs die regeerders van die dag nie toegang tot die tempel mag verkry deur hierdie poort nie. Dit was gereserveer net vir die Here. Dit is veelseggend op verskeie maniere.

Die engel weet dat regeerders graag deur hierdie poort toegang tot die tempel sou wou kry, want dit is maar hoe mense is. As die leier deur die Here se poort sou gaan, sou die mense hom op dieselfde vlak as God beskou. Strategies sou dit dus van ‘n koning slim wees om van die poort te gebruik, want hy sou daardeur sy gesag ten toon stel.

Maar dit is ook aanstellerig. Dit kom neer op selfverheffing, en die Here hou nie daarvan nie. Ons as mense is lief daarvoor om ons eie beuel te blaas en na mag te gryp. Dit is in ons aard om eersugtig te wees. Daarom is dit so belangrik om te onthou om nie aanspraak te maak op die Here se eer nie. Dit kom Hóm toe en Hóm alleen.

Dit sou maw ‘n sigbare daad van ondergeskikking en onderwerping wees as die koning níe deur die Oospoort gaan nie. Dit is gesond vir ‘n koning om dit te onthou, want anders gaan sit sy mag in sy kop.

Op ‘n soortgelyke manier kan ons vandag nog intensioneel daaraan werk om onsself te herinner aan die feit dat daar ‘n reuse-reuse afstand tussen ons en die Here is (itv gesag). Ek is klein en Hy is gróót.

Maar dit is net die een deel van wat opmerklik is oor die Oospoort. Die ander kant van die munt is die feit dat die toehou van die poort, ook daarop dui dat God se Gees nie van plan is om die tempel te verlaat nie. Die tempel is dus geseël met God se Gees daarin. Esegiël se visioen wys maw heen na die permanensie van God se teenwoordigheid.

Die interessantheid is dat die Nuwe Testament op ‘n soortgelyke manier oor God se teenwoordigheid in ons praat – óns is immers mos nou die nuwe tempel. Efesiërs 4:2 lui:

“In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos”.

Is dit nie ‘n wonderlike paradoks om mee te leef nie? Die Here is gróót en vêr bo my verhef. En gelykertyd is die Here naby, intiem en vir áltyd by my.

In net 3 jaar kan jy die volheid van God se Woord sélf ontdek!