Openbaring 4

Die vierde hoofstuk van Openbaring beskryf die troonkamer van God.

Vers 6 val my in die besonder op: Voor die troon is dit ‘n spieëlgladde see. Die Jode was nie seevaarders nie. Die see met sy onstuimigheid was vir hulle die toonbeeld van alles wat onheilspellend is. Maar die wonder gebeur dat voor die troon van die Here verander dit wat vir hulle onheil in hou, in iets mooi. Die see verloor sy onstuimigheid en word kristalhelder en spieëlglad. Die Here sien dwarsdeur die dreigende gevaar. Vir Hom is dit niks.

Die ironie van die saak is dat mens so paar verse vooraf gelees het dat daar ook dreunings, weerligstrale en aardbewings van die troon uitgegaan het. Normaalweg sou mens dink dat hierdie natuurverskynsels juis onstuimige see sou veroorsaak.

Maar dit is natuurlik alles beelde. Hoewel hierdie natuurverskynsels vir ons weer angs veroorsaak, was dit alles in die Ou Testament tekens van Teofanie – van Godsverskyning.

En so vind ons in hierdie hoofstuk die paradoks dat beide die aardbewings en ook die spieëlgladde see, God se teenwoordigheid aankondig. God is midde in die gedruis en ook in die stilte. Nie die goeie of die slegte sal God kan onttroon nie.

Ook op hierdie oomblik – wat ook al die omstandighede in my en jou lewe is, bly God op die troon.