Openbaring 16

In gister se hoofstuk het ons gelees dat gelowiges nie bang hoef te wees vir God se komende oordeel nie. Ook maar goed só, want as Openbaring 16 vandag uitbrei oor wat wag, is dit niks minder as vreesaanjaend nie.

En dan presies in die middel van die 6 oordele, lees ons iets wat ons tot stilstand roep. Toe die derde engel die bak met God se oordeel moet omkeer, sê hy:

“Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê: “U is regverdig,
U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het;” (vers 5)

Dit voel so vreemd om woorde soos “regverdig” in dieselfde sin as “oordeel” te lees – veral as mens in ag neem hoe geweldig fel God se oordeel in Openbaring 16 is.

Toe tref dit my: Glo ons nog hierin? Glo ons nog in ‘n God wat mag oordeel? Glo ons nog in ‘n God wat selfs mag straf as Hy so sou goed dink? Of het ons van God ‘n sagte teddiebeer gemaak wat eintlik net daar is vir my emosionele onderskraging?

‘n Paar jaar gelede het die sosioloog Christian Smith die term “moral therapeutic deism” geformuleer. Dit was na aanleiding van hulle observasies van ‘n nuwe geslag gelowiges.

Volgens “moral therapeutic deism” – oftewel “moralistiese terapeutiese deïsme” het God nie veel erg aan hoe ek (of ander mense) hulle lewens lei nie. Gevolglik moet ek ook nie ‘n te groot bohaai maak oor morele waardes en moraliteit nie. Nie net glo die nuwe generasie “gelowiges” nie aan iets soos straf nie, maar hulle glo ook nie dat God soms opofferinge van jou vereis nie. Verhouding met die Here word gereduseer tot ‘n terapeutiese rol. Hy is eintlik maar net daar om jou te bemoedig en aan te moedig soos jy deur die lewe gaan – dit is nou die lewe en lewenstyl wat jy vir jouself kies.

Dit is tragies, maar dit is ongelukkig waar talle Christene hulself vandag bevind. Maar dit is hoekom dit so belangrik is dat ons Bybel lees soos wat ons doen. Want sodoende konfronteer ons onsself met die feit dat God nie “neutraal” oor alles in die lewe voel nie. Inteendeel, soms voel Hy passievol toornig oor sonde.

Gaan ek die Bybel aanpas om by my “prentjie” van God in te pas? Of gaan ek my “prentjie” van God by die Bybel aanpas?