Openbaring 15

Die boek Openbaring begin teen hoofstuk 15 al ‘n duidelike teken aantoon in wie se guns die geveg gaan draai. Ons lees hier van “7 laaste plae” wat oor die aarde gaan kom. Dit klink verskriklik, maar dit is nie iets wat óns as gelowiges moet vrees nie.

“Toe het ek ’n ander groot en wonderbaarlike teken in die hemel gesien. Ek het sewe engele gesien wat die sewe laaste plae bring. Daarmee het die toorn van God sy einde bereik.” vers 1

Hierdie laaste plae is God se manier om finaal met die sonde af te reken. Daarom sien Johannes in dieselfde gesig ‘n spieëlgladde see met vuur daarin”. Dit is ‘n baie treffende beeld.

Die see was altyd onheilspellend vir die Bybelse mens, want hulle was nie seevaarders nie. Daarom verklap ‘n “spieëlgladde see” die feit dat alles onder beheer is. Ons het dieselfde beeld in hoofstuk 4 en 5 raakgeloop met God op sy troon.

Die vuur in die see, sê tog dat daar oordeel is – maar dit is onder God se beheer. Daarom het ons niks om te vrees nie.

Dit herinner sterk aan die see waarvoor die Israeliete te staan gekom het toe hulle uit Egipte getrek het. Wat aanvanklik gelyk het soos hulle dood, het later geblyk as hulle redding. Die Here het die Israeliete droogvoets laat deurtrek en slegs die Egiptenare verswelg.

Die hoofstuk herinner ons daaraan dat daar ‘n besliste einde vir die wêreld en die mense daarop is. God sal ook toesien dat sy wil uiteindelik sal seevier en dat daar ‘n einde aan sonde gemaak word. Dit los mens met die wete dat jy die Here kan vertrou en voluit Hom kan dien.