Openbaring 10

Vandag se stuk stop my weer in my spore. Mens raak so gejaagd met alles wat dringend is, dat mens vergeet van die belangrike.

Die Engel wat in hierdie hoofstuk verskyn staan met die een voet op land en die ander op die see. Sy woorde is dus vir die hele kontinent bedoel, en nie net sommige mense nie. Hierdie Engel word gestuur om die finale oordeel aan te kondig. En hoe klink sy woorde? Dit lui: “Daar is geen tyd meer oor nie“. (Vers 6)

Dit tref my dat hóé noodsaaklik ons werk vir die onmiddelike ook al mag wees, daar is ‘n “ewige” is wat hierna kom wat selfs nog belangriker as die teenswoordige is. En daar kom ‘n besliste dag vir ons almal wat die tyd om vir hierdie dag voor te berei, verby is. Die sand in die uurglas het dan uitgeloop. Dan is dit te laat om veranderinge aan ons lewe te maak. 

Vir my persoonlik is dit belangrik om hierdie te hoor. Ek is geneig om weg te skram van ‘n “pie in the sky”-teologie. Ek wil hê dinge moet vir mense hier en nou verander. Daar was te veel mense wie se lewens op aarde hel was, en dan het ons met hulle net gepraat oor die hiernamaals. 

Maar die anderkant is ewe gevaarlik. Ek kan so opgeslurp raak in die hier en nou, dat mens vergeet van die ewige. Laat ons nie uitstel om ons lewe met die Here reg te kry nie. Waarom wag tot dit te laat is?