Nehemiah 12

Toe die volk uiteindelik die muur klaar gebou het, kon hulle dit inwy met groot blydskap. Daar staan: “Daar is daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly. God het hulle groot blydskap gegee. Ook die vrouens en kinders was bly. Jy kon die blydskap van Jerusalem ver hoor.” Neh 12:43

4 Keer word daar in een vers gesê daar was blydskap. Dit sluit natuurlik aan by die opdrag van hoofstuk 8:10-13 om bly te wees tydens die inwyding.

Wat my opval is dus, eerstens, dat blydskap vir die Here goed en mooi is. Dit kom van Hom. Te veel dink mens die Here wil hê ek moet die lewe “ernstig” opneem – asof erns en blydskap teenoor mekaar staan.

Tweedens val dit my op dat hulle blydskap met offers gepaard gegaan het. Of anders gesê, hulle offers het met blydskap gepaard gegaan. Offers is eintlik iets wat jou seer maak. Dit vat aan jou. “Baie offers” – soos die teks sê – soveel te meer. Maar vir die volk was dit ‘n voorreg om offers vir die Here te bring. Ek wil dit onthou: As ek iets doen vir die wat aan my vat, kry ek nie myself jammer nie – ek is bly.

Maar miskien is die derde ding wat uit vandag se hoofstuk my opval, die ding wat vandag vir my die swaarste weeg: “Die priesters en die Leviete het eers hulleself gereinig en daarna die volk, die poorte en die muur” (Neh 12:30)

Alvorens die leiers op die taak op hande begin fokus het, het hulle eers hulself gereinig. ‘n Opdrag van die Here wat uitgevoer word – soos ‘n stadsmuur wat vir die Here ingewy word – is van niks waarde as die lewens wat dit doen nie self ook aangeraak is nie.

Om die Here met toewyding te dien, begin by onsself. Die groep is wonderlik. Opofferings is wonderlik. Maar heel eerste begin dit by jouself.