Lukas 23

Ek kom nie vanoggend verder as om na te dink oor Pilatus nie. Daar is iets humoristies in die manier waarop Jesus vir hom ‘n warm pattat word. Hy weet nie wat om met Jesus te doen nie. Hy probeer Jesus iemand anders se probleem maak en stuur Hom Herodes toe. Maar die probleem wil nie weggaan nie, want Herodes stuur Jesus terug.

Die humor verander nou in ironie. Pilatus het probeer wegkom van ‘n besluit oor Jesus, maar ons kan nooit wegkom van so ‘n besluit nie. Glo ons Jesus is Wie Hy sê Hy is? Mens kan nie daardie besluit wegskuif en hoop iemand anders maak die besluit vir jou nie. Mens moet daardie besluit sélf maak – soos Pilatus uitgevind het.

Maar dan verander die genre van ironie na die genre van tragedie. Pilatus bevind Jesus onskuldig. Hy oordeel dat Jesus wél is Wie Hy sê Hy is…maar hy is nie bereid om die gevolge van sy besluit te dra nie. As Hy deurgedruk het met sy bevinding van Jesus, dan het daar opstand uitgebreek. Dit was iets iets wat hy ten alle koste wou vermy, want dit sou op sy CV by die keiser baie sleg lyk. En daarom gaan hy teen sy gewete in en lewer Jesus uit om as skuldige gekruisig te word.

Hy kan miskien sy hande in onskuld was…hy kon dit 10 keer gewas het. Hy sal altyd in die geskiedenis onthou word as die man wat nie die moed van die oortuiging gehad het om by sy besluit oor Jesus te bly nie. Pilatus word ‘n patetiese figuur.

Die lewe van Pilatus word ‘n wekroep vir elkeen van ons. Nie net moet elkeen van ons ook ‘n besluit oor Jesus maak nie – maar ons moet ook bereid wees om met die gevolge van daardie besluit saam te leef. Vir baie van ons impliseer ‘n besluit vír Jesus, ook ‘n besluit om deur vriende verwerp te word of om kontrakte te verloor vanwë die morele vereistes wat saam met Jesus kom.

Dit help nie ons loop net halfpad nie. Mens kan nie vír Jesus kies, maar die opstand vermy en jou “hande in onskuld was nie”. Jesus eis alles of niks.