Lukas 22

Aarde…hierdie hele hoofstuk van vandag wemel weer van juwele. As ek net één mag kies sal ek sê dat die 3 verse van 24 tot 27 my geraak het:

Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Maar Jesus sê vir hulle: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien. (Luk 22:24-27)

Hierdie is waarskynlik die mees klassieke begronding vir wat ons vandag noem “servant leadership”. Wêreldse leiers probeer die leer van mag en posisie klim. Die een wil belangriker as die ander wees. Jesus sê die ironie is dat wanneer hulle bo uitkom, hulle die mense forseer om hulle “weldoeners” te noem. So asof hulle alles uit onselfsugtigheid vir ander gedoen het.

Daarteenoor is Christenleiers veronderstel om mag af te wys en voorskote aan te trek. Ons moet dienend optree. Dit roer my as Jesus op hierdie punt Homself as voorbeeld voorhou. Hy was inderdaad die verpersoonliking van God se dienskneg.

Die hartseer van dit alles is egter die konteks waarin die openingsverse afspeel: Die dissipels stry oor wie die belangrikste is, die aand voor die belangrikste gebeurtenis in die mens se geskiedenis afspeel – die kruisiging. Hulle is so opgetrek met hulleself en hulle eie egos, dat hulle blind is wat besig is om te gebeur en wat die Here gaan doen.

Is ek nie ook soms so ingesluk in myself dat ek dít wat God wil doen, mis nie? Ek kan net vanoggend bid dat die Here my sal wegkyk van myself en my eie koninkryk, en my konstant sal laat kyk na Hom en sý Koninkryk.