Levitikus 15

Vandag se hoofstuk in Levitikus handel oor soorte uitskeidings en afskeidings uit ‘n mens se liggaam. Ek kan heeltemal insien waarom mense – nadat hulle so ‘n hoofstuk gelees het – kan voel dat die Bybel vêr van hulle leefwêreld verwyderd is en selfs irrelevant is.

Daar was egter goeie redes waarom daar reinheidswette was. As jy meer wil weet oor hoe die konsepte “rein” en “onrein” gewerk het, kan jy op hierdie skakel klik. Dit vertel ook vir jou hoe ons gedeeltes soos hierdie vir vandag kan interpreteer.

Met betrekking tot vandag se hoofstuk, is dit belangrik om weet dat daar geweldige groot klem op grense geplaas is in die antieke tyd. Die liggaam het ook grense gehad. Wanneer ‘n grens gebreek word, is dit onrein – en vandaar al die stipulasies oor semen, maandstondes ens wat jou onrein maak.

Die belangrike ding om op te let, is dat die volk hierdeur iets van God wou naboots. Hulle het geglo dat God grense onderhou en duidelik tussen dinge onderskeid tref: Hy skei dag van nag, vasteland van water en diere van die mens.

Deurdat die mens dan ook groot klem lê op grense, boots hulle nie net iets van sy karakter na nie, maar word dit ook in hulle harte vasgelê dat hulle as ‘n volk “afgegrens” moet leef van ander en “anders” moet wees as die heidene rondom hulle.

Dit benodig dus ‘n lang verduideliking om te sien hoekom vandag se teks wel relevant is – maar in wese dring die teks daarop aan dat ons onsself afvra of ons lewens anders lyk as die wêreldlinge s’n rondom ons? Het ons meer liefde? Luister ons met groter begrip? Leef ons met sterker intergriteit, eerlikheid en opregtheid? Het ons ‘n dieper toewyding? Of lyk ons lewens ook maar soos ons omgewing?