Job 15

Dit is altyd vir my interessant as mens Job lees, wat in jou gemoed gebeur. Neem byvoorbeeld vandag se gedeelte waar Elifas aan die woord is.

Met ‘n eerste oogopslag klink alles wat Elifas sê so mooi en so reg. Dit is vreeslik vroom – jy wil dit amper “highlight” vanweë die mooiheid en dan onthou jy dat Elifas eintlik verkeerd was…

Elifas was immers een van Job se vriende wat al die tradisionele antwoorde, vroom, godsdienstige antwoorde op lyding gee. Hy het aanvaar sy antwoorde was só waar, dat God dit eintlik self kon sê. 

En tog was hy verkeerd. Hy was nie net verkeerd in sy verstaan nie, maar ook hengse hoogmoedig.

So vandag se stuk waarsku ons om nie so selfversekerd en eiewys op te tree oor dinge wat ek dink “voor die handliggend” is, en in die proses handel ek ongevoelig met mense se seer nie.

Elifas sou vir Job van groter waarde gewees het as hy net by hom gesit het en saam getreur het.