Jesaja 14

Die vorige hoofstuk het die aankondiging van oordeel oor die volke ingelui. Interessant genoeg is daar begin met Babel (omdat hulle die verpersoonliking van boosheid was), en in hierdie hoofstuk word die Assiriërs bygekom – al was die Assiriërs voor Babel op die toneel.

Daar is 2 dinge wat my opval in die gedeelte: Eerstens, die boodskap van troos vir Israel. Die aankondiging van oordeel oor Babel (H13) impliseer ‘n aankondiging van vrylating vir God se volk (H14:1-4). Dit is die Here wat sy volk bevry. Self kon hulle dit nie doen nie.

Wat my juis by die tweede punt bring: Die kortstondigheid van die mens se lewe. Wanneer Israel verlos gaan word, gaan hulle ‘n spotlied oor hulle verdrukker sing.

Onthou, dit is ondenkbaar waar Israel hul bevind, om te dink dat die onderdrukkers wat nou gekroon is met soveel mag dat hulle kan besluit oor wie lewe en wie sterwe, ook op ‘n dag kan kom waar hulle gaan sterf. Maar Jesaja profeteer dat daar ‘n dag gaan kom wat die maaiers hulle lyke gaan opeet (vers 11).

Teenoor die onderdrukkers se kortstondigheid van hulle lewe, staan God se ewigdurendheid dus. In vergelyking met God se ewigdurendheid, is die probleme waarvoor ons te staan kom weglaatbaar klein.

Persoonlik verwens ek niemand nie, en wens ek ook niemand die “dag van die Here” toe nie. Ek kan dus net met myself praat in hierdie stuk. Onthou ek dat ek ook eendag gaan sterf? Weerspieël my huidige lewe iets van daardie bewustheid? Leef ek met nederigheid teenoor die Here?