Jeremia 19

Wat ‘n treffende beeld is dit darem nie…

“Jy moet dan die pot breek voor die oë van die mense wat met jou saam is, en jy moet vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige: Soos hierdie kleipot gebreek het en nie heelgemaak kan word nie, so sal Ek hierdie volk en hierdie stad breek.” (Jer 19:10-11)

Jeremia word in hierdie hoofstuk aangesê om ‘n kleipot te neem en dit te breek voor die oë van die volk. Die pot was simbolies van wat met die volk sou gebeur.

Eintlik wemel die hoofstuk van ironie: In Psalm 2:9 word gesê dat die koning ander nasies sal verpletter. Maar in hierdie hoofstuk word die rolle omgekeer. Dit is die koning – en die hele Jerusalem – wat deur die ander nasies verpletter gaan word.

Die rede is omdat hulle die stad ontheilig het deur mee te doen aan afgryslike praktyke van die afgodsdiens, soos om kinders te offer. Die Here sê by monde van Jeremia baie duidelik dat Hy nooit so iets beveel het nie (Jer 19:5). Die verdere tragiese ironie in hierdie hoofstuk vind dan plaas dat toe Jeremia se profesie in 586vC vervul geword het, het dit só beroerd in die stad gegaan dat die mense hulle eie kinders moes eet! (Klaagl 2:20; 4:10)

Hulle het hulle kinders vrywillig vermoor. Nou is die gevolg dat hulle verplig word om hul kinders te eet. Hulle afgodsdiens het met ander woorde omgedraai en hulle baie seer “teruggebyt”.

Ons afgode doen dit ook met ons. Jy jaag byvoorbeeld geld, en dan verslind dit later jou gesin op. Of ‘n lewensmaat raak vir jou só belangrik in jou lewe dat dit selfs God verplaas. En wanneer daardie lewensmaat jou verwerp, besef jy dat jy jou hele lewe op wind gebou het.

Die waarskuwing van hierdie hoofstuk is dus tweeledig: Eerstens waarsku dit ons teen die verwoestende aard van afgode. Tweede herinner dit ons aan die feit dat die Here afgode in ons lewe verafsku. Hy verdra dit nie. Dit walg Hom.