Hoe werk die Bybelskool?

Die mense van Berea was nie tevrede om net by Paulus te hóór wat God se Woord sê nie. Hulle wou dit sélf ondersoek! (sien Handelinge 17:11)

Dit is wat hierdie program jou bied!

Die Bybelskool vir Bereane bied jou die geleentheid om deur jou héle Bybel in 3 jaar te lees.

Bybelskoolsessies

Een keer ‘n maand sal daar ‘n Bybelskoolsessie wees waartydens ons kortliks die agtergrond oor die hoofstukke gee wat ons daardie maand gaan lees. As jy nie dit kan bywoon nie, kan jy van die inligting bekom deur op die bladsy Bybelskoolsessies te klik.

Refleksievrae

Verder ontvang jy – as jy met jou eposadres daarvoor registreer – elke dag ‘n refleksievraag wat nadink oor die hoofstuk in die Bybel wat ons daardie dag saam lees.

Die bedoeling is nie dat jy eerder dít lees as jou Bybel nie, maar eerder dat dit jou kan lei as jy nie seker is wat om van ‘n spesifieke hoofstuk se betekenis te maak nie.

Hoe om te begin?

Om te begin lees is maklik. Volg net 3 maklike stappe…

Stap 1 Registreer

Registreer met jou eposadres sodat jy ook refleksievrae kan ontvang. Registrasie is gratis en eposadresse sal vertroulik gehou word. Daar sal uiteraard geen gemorspos na jou toe gestuur word nie.

Stap 2 Laai jou leesrooster af

‘n Voorbeeld van die leesrooster wat ons volg.

Klik op die “Leesrooster“-bladsy. Hier sal jy ‘n skakel vind wat vir jou sal neem na die leesrooster wat ons volg.

Jy kan ook daar meer inligting vind oor hoe die leesrooster saamgestel is en hoekom ons die boeke in die volgorde lees soos wat ons doen.

WENK: Laai die leesrooster af of druk dit uit sodat jy dit as ‘n boekmerk in jou Bybel kan gebruik.

Stap 3 Begin lees!

Begin eenvoudig om elke dag jou Bybel te lees. Probeer om dit elke dag min of meer op dieselfde tyd te doen. Dit help jou om in ‘n ritme te kom en ‘n nuwe (goeie) gewoonte te vestig!

Onthou om dit te geniet!

Soekfunksies

Daar is skakels op die webtuiste waar jy die temas wat ons al teëgekom het, kan besigtig. Jy kan ook klik op die boeke wat ons al gelees het, en daar sal jy die refleksievrae te siene kry oor die hoofstukke wat ons al behandel het.

Ongelukkig is al die refleksievrae nie beskikbaar nie. Op ‘n stadium was ons genoodsaak om die webtuiste van een diensverskaffer na ‘n ander te skuif en sommige van ons inhoud het toe verlore geraak. Ek vra verskoning daarvoor – maar ons gaan weldra wéér by daardie hoofstukke uitkom.

 

 

 

In net 3 jaar kan jy die volheid van God se Woord sélf ontdek!