Handelinge 14

Ek sit baie keer en wonder “tot hoe vêr” moet mens opstaan vir wat reg is? 

Die maklike antwoord is dat mens onverbiddelik daarin moet wees al kos dit wat. Maar in praktyk is dit nie altyd so eenvoudig nie. 

  • Jy glo dalk die pad wat jou tienerdogter inslaan is verkeerd. As jy aanhou hamer daarop bring dit nog verder verwydering tussen julle.
  • Jy glo dalk jou ouers/skoonouers het verkeerd teenoor julle gesin opgetree. As jy die saak bly ophaal omdat jy wil hê dat geregtigheid moet seevier, verloor jy op die ou end gesindheid en kry familiebande seer.

Mens kan nog vele sulke voorbeelde opnoem. Dit is net nie so eenvoudig om te sê dat jy altyd onverbiddelik moet staan vir dat wat jy glo reg is nie.

Een so voorbeeld sien ek in vandag se hoofstuk in Handelinge. Daar onststaan ‘n reuse oproerigheid in die stad Ikonium. Die stad is erg in twee verdeel. Party was vír die Jode, ander was vir die apostels. Dit was ‘n drukpot wat gedreig het om oor te kook (vers 5 en 6).

En toe neem die apostels die besluit om die stad te verlaat. Let wel: die saak waarvoor hulle gestaan het, was nie eens iets soos familieverhoudinge nie. Die saak het gehandel oor die evangelie. As daar al ooit iets was om voor op ste staan, dan was dit dít. 

Hulle besluit om die stad te verlaat, was ook nie ter wille van selfbelang of persoonlike veiligheid nie. Hulle het immers al keer op keer bewys dat hulle bereid is om selfs hulle eie lewe neer te lê vir die evangelie – soos hulle inderdaad weer bereid was om te doen nét in die volgende stad (vers 19).

Die besluit om Ikonium te verlaat, was dus ‘n besluit net ter wille van vrede. Hulle was bereid om die saak waaroor hulle passievol gevoel het, “te laat gaan”, sodat die stad tot bedaring kan kom.

Ek heriner my aan Jesus se woorde: “Geseënd is die vredemakers, want julle sal kinders van God genoem word”.

Hoe sal die verhoudinge met ons huweliksmaats, kinders, kollegas en landsburgers lyk, as ons bereid is om “ter wille van die vrede” net van ‘n saak “af te stap”?