Handelinge 12

Ons is lief daarvoor om te sê dat vir ‘n gebed om beantwoord te word, dit met geloof gebid moet word. Sonder geloof is dit tevergeefs. Daar is beslis baie Skrifgetuienis wat dit bevestig.

Maar soos soveel keer in die Skrif is daar ook ‘n ander kant van die waarheid – sonder om bogenoemde te weerspreek. In vandag se gedeelte sien ons byvoorbeeld dat die geloofsgemeenskap vir Petrus gebid het, sonder dat hulle regtig geglo het dat daar salf aan die situasie te smeer is.

Jakobus, die broer van Johannes is immers reeds doodgemaak. Dit was net ‘n kwessie van tyd voor Herodus vir Petrus ook sou doodmaak. Dalk het die gemeentetjie maar net gebid dat Petrus “warm” sal slaap in hierdie laaste paar dae van hom. Maar hulle het beslis nie geglo dat hy bevry sal word nie. Ons sien dit in hul reaksie toe hy wel bevry word en aan die deur klop: Hulle glo dit nie. Hulle dink dit is ‘n spook!

Die onstabiliteit van ons land vang my die afgelope ruk. Ek weet ek moet bid, maar ek betrap my dat ek nie eintlik glo dit ‘n verskil gaan maak nie. Ten minste nie in die afsienbare toekoms nie. Dikwels dink ek “ons kan maar bid, maar dinge gaan nog eers erger word voor dit beter word“. Vandag se gedeelte beteken dus woes baie vir my. Dit wys vir my dat die blote feit om aan te hou bid, genoeg is om ‘n deurbraak te bewerkstellig. Ek wil dus sê: “Ek gaan aanhou bid. Ek glo Here, help my in my ongeloof“.