Genesis 6

“Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.”

Hierdie is ernstige woorde. Die Here is as’t ware spyt dat Hy die mens gemaak het. Dit is amper so erg soos om te sê dat my eie kind wat ek verwek het, vir my soveel hartseer besorg, dat ek wens dat ek hom/haar nooit gekry het nie.

Vir meeste van ons klink dit onmoontlik om so oor jou eie kind te voel – selfs al stel hulle ons soms teleur. Maar daar ís mense wie se kinders vir hulle soveel herhaaldelike pyn veroorsaak, dat hulle al so gevoel het.

Voel die Here soms so oor my?

Ek wil keer dat ons vanoggend te vinnig by genade uitkom. Mens kan te vinnig oor hierdie vraag beweeg en ‘n antwoord uit jou kop gee “Jesus maak my darem aanvaarbaar vir die Here”, sonder dat die vraag ons hart gepenetreer het.

Dit is goed om vir ‘n oomblik langer op die vraag te vertoef: “Maak dit my hartseer, dat ek soms my Vader hartseer maak?”. Want as dit my nie meer raak nie, dan neem ek sy onvoorwaardelike liefde as vanselfsprekend aan. Dan het ek gewoond geraak aan genade. Dan toon ek psigopatiese neigings. Net ‘n Psigopaat kan willens en wetens iemand in doen en te na kom sonder om eers daaroor sleg te voel. Só wil ek tog nie wees teenoor die Here nie.

So, die evangelie het definitief ‘n boodskap van aanvaarding aan my. Maar vanoggend beklemtoon hierdie stuk aan my die erns van sonde en selfs die emosie wat my sonde by God opwek. Mag dit in my hart ‘n begeerte skep om nie langer my Vader meer te bedroef nie.