Eksodus 6

In vandag se hoofstuk lees ons hoe die Farao net nóg eise op die Israeliete laai. Van nou af moet hulle ook die stoppels bymekaar maak waarmee hulle die bakstene maak – maar die kwota bakstene bly dieselfde per dag. Dit is natuurlik totaal en al onhoudbaar…

Die Ou Testamentikus, Walter Brueggemann, sê dat die Farao in hierdie storie die verpersoonliking is van enige magsfiguur – of struktuur – in ons lewe. Hy is ons werk. Hy is ook ons kultuur – van nóg en nóg en nóg eise oplaai.

Jy moet aanhou lewer, aanhou presteer. Nooit kom jy op ‘n plek waar jy genoeg gedoen het nie.

Die tragiek is dat vir baie van ons, ons godsdiens ook ‘n Farao-vorm aanneem. Ons word gekondisioneer deur godsdiens dat ons moet aanhou dóén. Nooit kom jy op ‘n plek waar jy genoeg is en net aanvaar word vir wie jy is nie.

Die evangelie staan in skrille kontras hiermee. In die evangelie gaan dit nie oor wat ék doen nie, maar oor wat Jesus doen en gedoen het. Die evangelie is die goeie nuus dat ek uiteindelik hoor “genoeg is genoeg”.