Category Archives: Uncategorized

Psalm 90

Wat ‘n aangrypende Psalm is dit darem nie! Ek wil jou aanmoedig om dit biddend, kontemplatief te lees.

Ons sou kon sê dat die Psalm oor tyd gaan – en hoe verskillend dit deur die Here en die mens beleef word. Díe twee word met mekaar gekontrasteer. Aan die een kant kry jy die Here…

Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God! … Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag. (Ps 90:2-4)

Aan die ander kant kry jy die mens. Die treffende metafoor van gras word vir die mens gebruik. Met ons is dit asof ons gras is wat in die oggend nog groen is, afgesny word, en teen die aand is dit verdroog. Dit is hoe kortstondig óns lewe is.

Daarom vrae die digter hierdie belangrike vraag vir die Here: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom” (Ps 90:12). Ons sou goedskiks kon sê dit is die “carpe diem” vers van die Bybel. Kom ons vra dit inderdaad van die Here. Dat Hy ons sal help om die lewe uit te koop en die beste te maak van elke oomblik tot ons beskikking.

Numeri 27

Numeri 27 bestaan uit 2 kort verhale…

Eerstens lees ons van die dogters van Selofgad. Dit blyk dat die sensus van die vorige hoofstuk ten dele ook gedoen was om te tel in hoeveel dele die beloofde land opgedeel moes word. Omdat Selofgad nie seuns gehad het nie, is daar nie grond aan hom toegeskryf nie. Die dogters van Selofgad voel nie dit is reg nie, en neem dit met Moses op. Mens hou byna jou asem op vir wat gaan gebeur, want die verskynsel dat vrouens hulle so openlik uitspreek teen die besluit van manlike leiers, was in die manlike gedomineerde antieke wêreld absoluut onbekend. Wat sou gebeur? Sou dit met geweld onderdruk word? Inteendeel! Moses neem hulle versoek na die Here toe, en die Here antwoord met ‘n sagtheid dat hulle gelyk het. Voortaan sou alle families wat nie seuns het nie, ook grond ontvang en dit sou vir die dogters gegee word.

Die tweede verhaal is dat die Here vir Moses begin voorberei om afskeid te neem van die volk. Die Here herhaal aan Moses dat hy nie die beloofde land sal ingaan nie. En dan sien ons hoe Moses ‘n versoek – byna ‘n voorwaarde – aan die Here rig: Hy stsl dit aan die Here dat die Here eers ‘n ander leier oor die volk moet aanstel, sodat die volk nie leierloos sal wees nie. Wat die Here dan ook doen.

So wat leer ons uit die 2 verhale? Elkeen het sy eie afsonderlike les, en dan dink ek is daar ook ‘n oorkoepelende les. In die eerste verhaal dink ek sien ons dat die Here niemand uit sy beloftes uitsluit nie. Álmal – nie net die mense in tel nie – word by die Here se genade ingereken. In die tweede verhaal leer ons ‘n leierskapsles. Ons sien dat die belangrike beginsel van opvolging onderstreep word. Ek word herinner aan die gesegde “Success without successor is failure”. Moses het dit gesnap.

Maar die heel belangrikste beginsel wat ek dink ons hierdie hoofstuk leer, is die oorkoepelende les wat uit beide verhale spruit: Dat die Here toeganklik is. In altwee gevalle sien ons dat daar nie eenrigtingverkeer is nie, maar tweerigtingverkeer tussen die Here en sy volk. Die Here praat, en dan praat sy volk. Dit is nie asof Hy nie ook gedink het aan die vroue of ‘n opvolger nie. Natuurlik het Hy! Maar Hy nooi ons uit – lok ons uit – om saam te praat, met Hom te praat. Weet vanoggend dat die Here toeganklik is. Hy wil van jou hoor. Al voel dit vir jou dat jy die Here teëgaan – práát met Hom. Hy is oop vir gesprek.

Numeri 26

Vandag se hoofstuk is ‘n lang sensus – maar dit is nie sonder betekenis nie. Die sleutel van die gedeelte is in die laaste vers:

Al hierdie mense is getel deur Moses en die priester Eleasar in die Moabsvlakte regoor Jerigo aan die Jordaan. Onder hulle was daar egter niemand van die Israeliete wat deur Moses en die priester Aäron in die Sinaiwoestyn getel is nie. Die Here het destyds vir daardie Israeliete gesê dat hulle beslis in die woestyn sou sterf. Nie een van húlle het toe oorgebly nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun. (Num 26:63-65)

Toe die Israeliete uit Egipte weg is, is hulle getel. Daardie geslag moes egter in die woestyn omkom vanweë hulle sonde. Nou het die Here die volk weer laat tel, en daar is bevind dat niemand van die vroeëre geslag meer oor is nie. Dit verklap dat die Here nou op die punt staan om hulle die beloofde land in te neem.

Op ‘n meer persoonlike vlak kan ons sê dat die Here dikwels ook so met ons werk. Dikwels vertraag ons ons eie lewensreis met Hom agv sonde – en ‘n reinigingstyd wat daarop volg. Die Here skryf ons egter nooit af nie, en sal ons verder neem sodra ons gereed is.

Numeri 25

Die Israeliete het met die Midianiete gemeng. Die probleem hiermee was nie dat die Here ‘n rassis was nie. Hy was nie besig om vir om ‘n “suiwer ras” voor te berei nie. Die probleem was die afgode wat met die mengery gepaard gegaan het. Elke keer het die Israeliete in afgodediens verval. So ook in hierdie geval… (vers 2)

Om dit alles te kroon bring Simri toe ‘n Midianitiese meisie, Kosbi, saam terug na die kamp van die Israeliete toe. Hy stap met haar skaamteloos verby Moses en gaan hê met haar gemeenskap.

Hierdie daad van skaamtelose verraaing was vir die priester Pinehas een te erg. Hy neem toe ‘n spies en deurboor vir Simri en Kosbi daar waar hulle besig was om in die kamp van die Israeliete seks te hê. Die Here sê toe:

“Die Here het toe vir Moses gesê: “Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, het my toorn teen Israel laat ophou deurdat hy vir my eer opgekom het. Dit was nie nodig dat Ek self vir my eer moes opkom en die Israeliete vernietig nie.” (Num 25:10-11)

Dit is ‘n kras verhaal met baie geweld en bloedvergieting. Maar het iets al ooit in jou so ‘n wrewel – ‘n Goddelike woede – laat ontstaan dat jy nie anders kon as om op te staan en iets daaraan te doen nie?

Ek ken ‘n vrou wat – toe sy sien hoe vernederend ‘n ander vrou by die Polisiestasie behandel word om ‘n verkragting aan te meld – het sy uit haar eie fondse ‘n sentrum opgerig vir vroue wat verkrag is, waar hulle met waardigheid ondersoek word en verklarings afgeneem kan word. Dit is in hierdie gevalle waar ons ook soos Pinehas kan optree vir God se eer.

Kom ons loop oop oë vandag om geleenthede te soek waar ons vir die Here se eer kan opstaan.

2 Korintiërs 3

Paulus kontrasteer die bedeling van die Wet met die bedeling van die Heilige Gees. Hy herinner sy geloofskinders aan hoe Moses se gesig letterlik gestraal het toe hy met die Lewende Here te make gekry het. Paulus sê dat Moses mettertyd sy gesig toegemaak het – nie om die mense die glans te spaar nie – maar om sy eie reputasie nie leed aan te doen nie. Die glans was immers besig om stelselmatig te verdwyn, en dit kon die indruk bring dat die volk nie meer vir hom as leier hoef te ag nie.

Maar nou in die bedeling van die Gees werk dinge presies andersom. Ons weerspieël ook die heerlikheid van die Here (vers 18). Maar in ons geval neem daardie heerlikheid stelselmatig toe. En daarom kan Paulus die gewaagde gevolgtrekking maak:

“Ons kan sê dat die heerlikheid van vroeër nie te vergelyk is met die alles oortreffende heerlikheid van nou nie. As wat aan die verbygaan was, van heerlikheid gestraal het, veel meer nog sal die blywende van heerlikheid skitter.” (2 Korintiërs 3:10-11)

Ek moet myself dikwels hieraan herinner. Mens is so geneigd om met heimweë te dink aan die dae van die Ou Testament toe die Here met groot en kragtige wonderdade ingegryp het in mense se lewens. Byna outomaties dink ek dáárdie tyd was meer veelbesproke as nou. Maar Paulus verskil van my. Hy sê hierdie bedeling oortref die vorige.

Mag ek met vars oë na die Heilige Gees in my lewe kyk.

2 Korintiërs 2

Paulus sê in hierdie hoofstuk dat die gelowiges in Korinte vir die kwaaddoeners wat rusie stook tussen hulle en Paulus, moet vergewe. Hy sê…

“Wat my betref, as ek iets moes vergewe, het ek dit klaar gedoen om julle ontwil. Daarvan is Christus my getuie. Die Satan moet nie die oorhand oor ons kry nie. Ons ken sy planne maar alte goed.” (2 Kor 2:10)

Daar is baie in hierdie een vers opgesluit:

  • Ons moet vinnig wees om te vergewe.
  • Ons moet vergewe selfs nog voordat iemand anders ons oproep om te vergewe.
  • Vergifnis moet so deel van my wees, dat dit ‘n leefstyl vorm. Ek doen dit onmiddelik, natuurlik.
  • Roep Christus as getuie om my hart te deursoek of ek wáárlik vergewe het.
  • Die Satan gebruik wrokke, wraak en onvergewensgesindheid om ‘n houvas op my lewe te kry.

2 Korintiërs 1

Miskien moet ons begin deur te sê dat die sleutel tot die verstaan van hierdie brief van Paulus, is om te onthou dat daar baie water in die see geloop het tussen 1 Korintiërs (die eerste brief) en 2 Korintiërs (die 2e brief). Daar was onder andere ‘n besoek wat hy by die gemeente afgelê het, wat ‘n “tranebesoek” was. Toe die geleentheid vir Paulus opduik om hulle weer te besoek, het hy daarteen besluit en eerder vir hulle ‘n brief geskryf (daardie brief besit ons ongelukkig nie meer vandag nie, dit het vergaan).

Hieroor het baie mense Paulus verkwalik. Hulle het gerugte versprei dat hy hulle afskeep. Sekerlik was dit veral die mense wat sy gesag wou ondermyn, wat hierdie insident teen hom gebruik het.

Daarom begin hy hierdie brief deur te verduidelik waarom hy nie weer kom kuier het, toe daar vir hom geleentheid was om dit te doen nie. Hy roep God op as getuie (1 Kor 1:23-24) dat sy motiewe nie was om die Korintiërs te versaak nie, maar om te keer dat dit weer op konflik uitloop.

En dit is juis in hierdie gebeure waaruit ek vandag ‘n les vir myself haal: Paulus het ‘n moeilike gesprek vermy, en toe vererger sy probleme net. Hy móés verkeerdhede aanspreek, en toe hy die geleentheid kry om dit te doen (hulle te gaan besoek), besluit hy daarteen – en daardie besluit om konflik te vermy, veroorsaak toe nog groter konflik.

Arme Paulus. Maar ons is dikwels in dieselfde posisie. Dit lyk tog of dit die heel beste is om dít waarna ons opsien, nie te vermy nie, maar by die horings te gryp en te hanteer.

Ek vra myself in só ‘n situasie af: Wat is die waarheid en hoe kan ek dit in liefde sê?

Job 22

Weereens het ons met die leë geykte godsdienstige uitdrukkings van Job se vriende te make. Nou is dit weer Elifas wat Job aanspreek…

“Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê. (Job 22:21)

“Dit is maklik man”, sê Elifas as’t ware vir Job, “buig net jou knie voor die Here – erken dat Hy God is – dien Hom, en dan sal jy sien sal dinge weer reg uitdraai en dit met jou goed gaan

Die outeur steek natuurlik draad hier met hoe belaglik daardie soort verduidelikings oor lyding is. Ons wéét dit is nie wat in Job se geval skort nie – en tog sien ons hierdie soort verduidelikings vir hartseer oral rondom ons.

Met elke orkaan wat tref, brand wat uitbreek of aardbewing wat verwoesting saai, sal jy in die nuus lees van ‘n godsdienstige leier wat dit toeskryf aan God se straf op daardie gemeenskap se sonde. “Hulle moet net weer hulle sonde laat staan en na die Here terugdraai, dán sal hierdie dinge nie met hulle gebeur nie”. Sulke uitsprake is arm. Die realiteit is meer kompleks as dit.

Kom ons vra die Here dat Hy ons sal help om mense wat in seer is, met vertroosting by te staan – nie met verwyt nie. Mag ons woorde genesing bring – nie nóg wonde nie.

Job 21

In hierdie gedeelte is Job weer aan die praat, en nou antwoord hy Sofar. Jy sal onthou dat Sofar gesê het dat dit basies onmoontlik is om iets slegs oor te kom, tensy jy sonde gedoen het van een of ander aard nie. In die hele eerste gedeelte van hoofstuk 21 verontskuldog Job homself as’t ware. Dit is asof hy sê: “Nee regtig, ek het my vêr gehou van enige goddelose”(vers 16)

Die gedeelte wat my tref vandag is in vers 23…

“Die een mens sterf in sy volle krag terwyl hy heeltemal tevrede en rustig leef, terwyl hy blakend gesond is en volop murg in sy bene het. Die ander sterf in bitterheid sonder dat hy voorspoed gesmaak het. Saam lê hulle in die graf, altwee oortrek van die wurms.” (Job 21:23-26)

Job se opmerking het te make met die kortstondigheid van die lewe. Dat die dood elkeen van ons op enige oomblik kan oorval. Hy wag nie vir jou totdat jy geluk en voorspoed geproe het nie. Party het ‘n vol gelukkige lewe, ander ‘n kort moeilike een.

Maar sy opmerking sê dat almal in die graf beland waar die wurms hulle opvreet. Dit is vir ons opmerklik dat sy opmerking geheel en al ontbreek van die hoop om te lewe ná die dood.

Dit is omdat die Ou Testamentiese mens op hierdie stadium nog nie aan die opstanding van die dooies geglo het nie. Hulle het nog nie geweet daar is iets soos ‘n “ewige lewe” nie. Daardie begrip het eers begin vorm aanneem in die “intertestamentêre tyd” – die tyd wat verloop het tussen die Ou en die Nuwe Testament. En toe het Jesus dit natuurlik kom onderstreep in sy bediening.

Tot tóé, het hulle geglo dat álmal na “hades” gaan wanneer jy sterf. Hades was gewoon die doderyk.

Die Nuwe Testament besit dus ‘n geweldige hoop wat gans anders is as die Ou Testament. Vandag word ek net weer getref deur die vertroosting wat die Ewige Lewe inhou.

Psalm 88

Kom ek vertel jou iets interessants oor Psalm 88. Ek was in 2011 met ‘n toergroep vanuit ons gemeente na Israel. Dáár het ons ‘n plek besoek wat as die huis van die hoëpriester geïdentifiseer was. Net buite die huis was daar plein. Volgens oorlewering was die plein die plek waar Petrus vir Jesus verloën het die aand van die arrestasie. Onder die hoëpriester se huis was daar aanhoudingselle vir oortreders. Daar was ‘n diep, donker put. Volgens oorlewering is Jesus die aand van sy arrestasie in daardie “aanhoudings-put” gegooi, sodat Hy dáár kon wag vir sy verhoor voor die hoëpriester.

Terwyl Hy daar onder in die put gesit het, het Hy Psalm 88 hardop uitgeroep…

“U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis. U gramskap rus swaar op my, U laat al u golwe oor my breek. Sela U laat my bekendes ver van my af staan en maak my vir hulle iets afskuweliks; ek sit vasgevang en kan nie uitkom nie.” (Ps 88:7-9)

Ons het die ligte afgesit en die put vir ‘n oomblik in sy oorspronklike kondisie beleef. Toe het ons met ‘n selfoonliggie Psalm 88 gelees. Dit was aandoenlik. Die “gramskap” waarvan Jesus gepraat het, was natuurlik my en jou straf op sonde wat Hý gedra het.