Category Archives: Uncategorized

Johannes 10

Johannes 10 is bekend omrede dit die hoofstuk is waar Jesus na Homself as die “Goeie Herder” verwys. Maar bekendheid met hierdie gedeelte, veroorsaak dat ons maklik oor ander betekenisvolle gedeeltes lees sonder dat ons dit agterkom.

Dit tref my altyd dat Jesus in hierdie gedeelte eintlik 2 beelde gebruik. Hy sê Hy is die goeie herder, maar Hy sê ook dat Hy die ingang is:

“Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.” (Joh 10:9)

Reflekteer net vir ‘n oomblik vandag op hierdie gedagte dat Jesus ons ingang is: Enige weiding (kos) wat ons kan hoop om te kry, kan ons nét kry as ons deur Hom gaan. Hy is inderdaad die enigste weg na die waarheid en die lewe.

Jakobus 1

Vir die volgende 5 dae vertoef ons weer in die Nuwe Testament, en spandeer ons tyd in die boek Jakobus.

Een van Jakobus se mikpunte met die skryf van hierdie brief, is om gelowiges op te roep om hulle geloof te integreer met hulle alledaagse lewe. Jakobus kruis swaarde met die feit dat ons so gefragmenteerd leef, en dit vind uitdrukking in die verskeie temas wat hy in sy brief aanspreek (die beheer van ons tong, die hantering van beprowings en versoekinge, die behandeling van mense ens)

Met dit in gedagte, maak vers 22 baie sin as inleiding tot die boek:

“Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.” (Jak 1:22)

Hierdie vers word eintlik die fondament van die hele boek: Integreer Jesus se boodskap in ons alledaagse lewe.

Christenskap is baie meer as net ‘n persoonlike verhouding met God. Dit vind ook neerslag in ons publieke verhouding met ons medemense.

Hooglied 2

Ons lees vandag vir die eerste keer in die boek Hooglied. Hierdie boek het al menigte bespreking ontlok: “Waarom sou ‘n boek oor liefde (en seksuele begeerte) in die Bybel opgeneem wees?”, het baie mense al gevra.

Verskeie het al in die verlede hierdie boek vergeestelik en gesê dat dit eintlik net ‘n metafoor is vir die liefde wat tussen God en sy bruid (ons) bestaan. Mens sou seker daardie “interpretasie-sprong” op plekke kon maak, maar dit sou nie heeltemal reg laat geskied aan die oorspronklike bedoeling van die boek nie.

Dit is beter om die boek te neem vir wat dit is: ‘n Vurige gedig van begeerte en liefde. En daar is niks mee fout dat so iets in die Bybel is nie. Dit is juis gepas, want die Here het die liefde (en seks) gemaak. Ons as gelowiges sal goed doen om daaroor in verwondering te wees en dit die regmatige plek in ons huwelike te gee.

Die Here was vir my goed, en het reeds vir my my lewensmaat gegee. Ek kan dink as jy nog enkellopend is en hierdie gedeeltes lees, dat dit ‘n gemis in jou wakker maak. Gebruik dit nogtans om sommer vir hierdie faset van jou lewe te bid: Vra die Here dat Hy die regte persoon oor jou lewenspad sal stuur en jou begeerte na intimiteit op so ‘n wyse sal vervul.

Vir my persoonlik – wat op die oomblim baie dink aan my seuns se toekomstige lewensmaats – tref Hooglied 2:7

“moenie die liefde wakker maak en aanvuur voor die tyd daarvoor ryp is nie.” (Hooglied 2:7)

Ek bid vandag vir hulle seksuele onskuld, en dat hulle nie op skool en later deur seksuele vergrype soos pornografie, besoedel sal word nie. Mag die Here hulle beskerm en op sy regte tyd hulle bekendstel aan hulle toekomstige lewensmaats.

Markus 1

Markus se tempo waarteen hy skryf en waarteen dinge gebeur is aanvoelbaar vinniger as die ander evangelies. Dit is omdat dit kortste evangelie is (slegs 16 hoofstukke). Hy probeer dus soveel moontlik inligting in so klein as moontlik spasie inpas. Reeds in die eerste hoofstuk van Markus sien ons al dat Jesus se koms deur Johannes die Doper voorspel word, Jesus word gedoop, versoek, begin preek, roep dissipels, genees mense…nee, Markus speel nie met tyd nie!

Een van die hooftemas van die boek – naamlik dat Jesus die langverwate Messias is – kry ons ook reeds in die openingsverse.

‘n Week of wat gelede het ek gepreek oor Emil Brunner en Frank Lake se “Cycle of Grace” – oftewel “Siklus van geande” wat hulle in Jesus se lewe geïdentifiseer het. En dit is wat my vanogggend weer opval.

Stasie 1 is aanvaarding: Een van die redes waarom Jesus nie geestelik uitgebrand het nie, was omdat Hy vanuit ‘n plek van aanvaarding begin het. Meeste van ons voel ons moet werk vir God se aanvaarding – en dit is hoekom ons moeg word en uitsak. Jesus begin sy hele bediening deur aan die woorde van die Vader vas te hou: ‘Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”’

Onthou dat óns en Jesus op die kruis plekke geruil het. Ons sonde het Hy op Hom geneem. En sy reinheid is aan ons bemaak. Daarom, wat waar was van Jesus, is nou waar van my en jou. As die Vader oor Jesus gesê het: “Jy is my geliefde kind. Oor jou verheug Ek My”, dan sê Hy dit ook vandag oor jou en my! Ek en jy kan ook vandag uit ‘n plek van aanvaarding begin.

Stasie 2 is onderhouding: Jesus het sy verhouding met die Vader gevoer. Ons lees vanoggend in Markus 1:35 dat Jesus vroeg die môre, toe dit nog donker was, opgestaan het om te gaan bid. As dit vir Jesus nodig was om tyd opsy te sit om sy verhouding met die Vader te voed, dan is dit vir my en jou ook nodig.

Ek en jy hoef dit nie noodwendig te doen wanneer dit nog donker is nie. Maar dit is hoekom dit so belangrik is dat ons elke dag tyd in die Woord spandeer en bid. Dit onderhou ons verhouding met die Here.

Psalm 90

Wat ‘n aangrypende Psalm is dit darem nie! Ek wil jou aanmoedig om dit biddend, kontemplatief te lees.

Ons sou kon sê dat die Psalm oor tyd gaan – en hoe verskillend dit deur die Here en die mens beleef word. Díe twee word met mekaar gekontrasteer. Aan die een kant kry jy die Here…

Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God! … Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag. (Ps 90:2-4)

Aan die ander kant kry jy die mens. Die treffende metafoor van gras word vir die mens gebruik. Met ons is dit asof ons gras is wat in die oggend nog groen is, afgesny word, en teen die aand is dit verdroog. Dit is hoe kortstondig óns lewe is.

Daarom vrae die digter hierdie belangrike vraag vir die Here: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom” (Ps 90:12). Ons sou goedskiks kon sê dit is die “carpe diem” vers van die Bybel. Kom ons vra dit inderdaad van die Here. Dat Hy ons sal help om die lewe uit te koop en die beste te maak van elke oomblik tot ons beskikking.

Numeri 27

Numeri 27 bestaan uit 2 kort verhale…

Eerstens lees ons van die dogters van Selofgad. Dit blyk dat die sensus van die vorige hoofstuk ten dele ook gedoen was om te tel in hoeveel dele die beloofde land opgedeel moes word. Omdat Selofgad nie seuns gehad het nie, is daar nie grond aan hom toegeskryf nie. Die dogters van Selofgad voel nie dit is reg nie, en neem dit met Moses op. Mens hou byna jou asem op vir wat gaan gebeur, want die verskynsel dat vrouens hulle so openlik uitspreek teen die besluit van manlike leiers, was in die manlike gedomineerde antieke wêreld absoluut onbekend. Wat sou gebeur? Sou dit met geweld onderdruk word? Inteendeel! Moses neem hulle versoek na die Here toe, en die Here antwoord met ‘n sagtheid dat hulle gelyk het. Voortaan sou alle families wat nie seuns het nie, ook grond ontvang en dit sou vir die dogters gegee word.

Die tweede verhaal is dat die Here vir Moses begin voorberei om afskeid te neem van die volk. Die Here herhaal aan Moses dat hy nie die beloofde land sal ingaan nie. En dan sien ons hoe Moses ‘n versoek – byna ‘n voorwaarde – aan die Here rig: Hy stsl dit aan die Here dat die Here eers ‘n ander leier oor die volk moet aanstel, sodat die volk nie leierloos sal wees nie. Wat die Here dan ook doen.

So wat leer ons uit die 2 verhale? Elkeen het sy eie afsonderlike les, en dan dink ek is daar ook ‘n oorkoepelende les. In die eerste verhaal dink ek sien ons dat die Here niemand uit sy beloftes uitsluit nie. Álmal – nie net die mense in tel nie – word by die Here se genade ingereken. In die tweede verhaal leer ons ‘n leierskapsles. Ons sien dat die belangrike beginsel van opvolging onderstreep word. Ek word herinner aan die gesegde “Success without successor is failure”. Moses het dit gesnap.

Maar die heel belangrikste beginsel wat ek dink ons hierdie hoofstuk leer, is die oorkoepelende les wat uit beide verhale spruit: Dat die Here toeganklik is. In altwee gevalle sien ons dat daar nie eenrigtingverkeer is nie, maar tweerigtingverkeer tussen die Here en sy volk. Die Here praat, en dan praat sy volk. Dit is nie asof Hy nie ook gedink het aan die vroue of ‘n opvolger nie. Natuurlik het Hy! Maar Hy nooi ons uit – lok ons uit – om saam te praat, met Hom te praat. Weet vanoggend dat die Here toeganklik is. Hy wil van jou hoor. Al voel dit vir jou dat jy die Here teëgaan – práát met Hom. Hy is oop vir gesprek.

Numeri 26

Vandag se hoofstuk is ‘n lang sensus – maar dit is nie sonder betekenis nie. Die sleutel van die gedeelte is in die laaste vers:

Al hierdie mense is getel deur Moses en die priester Eleasar in die Moabsvlakte regoor Jerigo aan die Jordaan. Onder hulle was daar egter niemand van die Israeliete wat deur Moses en die priester Aäron in die Sinaiwoestyn getel is nie. Die Here het destyds vir daardie Israeliete gesê dat hulle beslis in die woestyn sou sterf. Nie een van húlle het toe oorgebly nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun. (Num 26:63-65)

Toe die Israeliete uit Egipte weg is, is hulle getel. Daardie geslag moes egter in die woestyn omkom vanweë hulle sonde. Nou het die Here die volk weer laat tel, en daar is bevind dat niemand van die vroeëre geslag meer oor is nie. Dit verklap dat die Here nou op die punt staan om hulle die beloofde land in te neem.

Op ‘n meer persoonlike vlak kan ons sê dat die Here dikwels ook so met ons werk. Dikwels vertraag ons ons eie lewensreis met Hom agv sonde – en ‘n reinigingstyd wat daarop volg. Die Here skryf ons egter nooit af nie, en sal ons verder neem sodra ons gereed is.

Numeri 25

Die Israeliete het met die Midianiete gemeng. Die probleem hiermee was nie dat die Here ‘n rassis was nie. Hy was nie besig om vir om ‘n “suiwer ras” voor te berei nie. Die probleem was die afgode wat met die mengery gepaard gegaan het. Elke keer het die Israeliete in afgodediens verval. So ook in hierdie geval… (vers 2)

Om dit alles te kroon bring Simri toe ‘n Midianitiese meisie, Kosbi, saam terug na die kamp van die Israeliete toe. Hy stap met haar skaamteloos verby Moses en gaan hê met haar gemeenskap.

Hierdie daad van skaamtelose verraaing was vir die priester Pinehas een te erg. Hy neem toe ‘n spies en deurboor vir Simri en Kosbi daar waar hulle besig was om in die kamp van die Israeliete seks te hê. Die Here sê toe:

“Die Here het toe vir Moses gesê: “Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, het my toorn teen Israel laat ophou deurdat hy vir my eer opgekom het. Dit was nie nodig dat Ek self vir my eer moes opkom en die Israeliete vernietig nie.” (Num 25:10-11)

Dit is ‘n kras verhaal met baie geweld en bloedvergieting. Maar het iets al ooit in jou so ‘n wrewel – ‘n Goddelike woede – laat ontstaan dat jy nie anders kon as om op te staan en iets daaraan te doen nie?

Ek ken ‘n vrou wat – toe sy sien hoe vernederend ‘n ander vrou by die Polisiestasie behandel word om ‘n verkragting aan te meld – het sy uit haar eie fondse ‘n sentrum opgerig vir vroue wat verkrag is, waar hulle met waardigheid ondersoek word en verklarings afgeneem kan word. Dit is in hierdie gevalle waar ons ook soos Pinehas kan optree vir God se eer.

Kom ons loop oop oë vandag om geleenthede te soek waar ons vir die Here se eer kan opstaan.

2 Korintiërs 3

Paulus kontrasteer die bedeling van die Wet met die bedeling van die Heilige Gees. Hy herinner sy geloofskinders aan hoe Moses se gesig letterlik gestraal het toe hy met die Lewende Here te make gekry het. Paulus sê dat Moses mettertyd sy gesig toegemaak het – nie om die mense die glans te spaar nie – maar om sy eie reputasie nie leed aan te doen nie. Die glans was immers besig om stelselmatig te verdwyn, en dit kon die indruk bring dat die volk nie meer vir hom as leier hoef te ag nie.

Maar nou in die bedeling van die Gees werk dinge presies andersom. Ons weerspieël ook die heerlikheid van die Here (vers 18). Maar in ons geval neem daardie heerlikheid stelselmatig toe. En daarom kan Paulus die gewaagde gevolgtrekking maak:

“Ons kan sê dat die heerlikheid van vroeër nie te vergelyk is met die alles oortreffende heerlikheid van nou nie. As wat aan die verbygaan was, van heerlikheid gestraal het, veel meer nog sal die blywende van heerlikheid skitter.” (2 Korintiërs 3:10-11)

Ek moet myself dikwels hieraan herinner. Mens is so geneigd om met heimweë te dink aan die dae van die Ou Testament toe die Here met groot en kragtige wonderdade ingegryp het in mense se lewens. Byna outomaties dink ek dáárdie tyd was meer veelbesproke as nou. Maar Paulus verskil van my. Hy sê hierdie bedeling oortref die vorige.

Mag ek met vars oë na die Heilige Gees in my lewe kyk.