Category Archives: Spreuke

Spreuke 19

“Sy eie dwaasheid bring ‘n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here.” (Spr 19:3)

‘n Fyner raakvatting kry jy nie. Ek het al soveel keer gesien hoe – selfs gelowiges – swak besluite neem of ‘n verkeerde lewenswyse handhaaf, en op ‘n stadium wat alles dan ingee en inmekaar tuimel, dán is hulle vir die Here kwaad. Dit is presies wat Spreuke 19 van praat.

Kom ons wees volwasse genoeg om verantwoordelikheid vir ons eie foute te neem, sonder om die Here by dit in te sleep.

Spreuke 18

Die agtiende hoofstuk van Spreuke wemel met kosbare wyshede. Mens sou byna op enige van die verse kon toespits. Maar vanoggend vang my oog vers 10.

“Die Naam van die Here is ‘n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling.” (Spreuke 18:10)

Die waarheid wat in hierdie vers opgesluit lê, lê op verskillende vlakke. Die eerste vlak is natuurlik wat geleerdes die “soteriologiese” vlak sal noem – ons verlossing. Elkeen van ons wat die Naam van die Here “aanroep” – dit is maar ‘n ander manier om te sê wat in verhouding met die Here leef – sal gered word.

Maar hierdie vers is ook op ‘n ander vlak wáár. En dit is ‘n vlak wat baie mense huiwerig is om hulle hand op papier te sit, want dit is so misterieus…

Net gister praat ek met ‘n Oom na kerk. Hy was in die afgelope week in ‘n motorongeluk. Sy bakkie het gerol en is afgeskryf. Hy het ongedeerd uitgeklim. Hy vertel die oomblik toe sy bakkie begin tol, het hy (byna soos ‘n refleksreaksie) uitgeroep: “Here help!” Dieselfde het ‘n paar jaar gelede met Lindie gebeur toe die minibus waarin sy gery het, begin rol het.

Dieselfde het met duisende ander gelowiges al in ongelukke, aanvalle of enige derglike gevaar gebeur – insluitende myself. Ek sal die Here verloën as ek nie erken dat Hy ook mý, al só gered het nie. Ek het eerstehands al ervaar dat daar krag is in die Naam van die Here. Die Naam van die Here bring die geesteswêreld in beroering.

Ek sal graag my seuns nog hierdie geestelike waarheid wil leer: Eendag, as jy in ‘n oomblik van krisis is, roep die naam van die Here aan. Nie soos iemand wat dink dat daar toorkrag in sy Náám sit nie. Nie soos iemand wat dink dat hy/sy die regte formule of towerwoorde moet gebruik om God aan die beweeg te kry nie. Maar soos iemand wat, as kind van God, die reg het om in ‘n krisis na jou hemelse Pa uit te roep. Wat jou red is nie die regte woordgebruik nie, maar die appél wat jou verhouding op die Allerhoogste los.

Natuurlik maak hierdie ook baie vrae in ons gemoed los – uitsonderings waaraan ons kan dink of teologiese vrae wat dit skep. Daarop kan ek nie in hierdie kort dagstukkie ingaan nie. Dit neem egter niks weg van hierdie feit nie: As die Here se kinders na Hom roep, luister Hy.

Spreuke 17

Spreuke 17:9 het so paar jaar gelede vir my ‘n baie belangrike beginsel geleer. Spreuke 17:9 lui: “Wie ’n verkeerde optrede teenoor homself verontagsaam, soek goeie verhoudinge“.

In kort beteken dit dat ek kan kies of ek aanstoot neem oor iets wat iemand teenoor my doen of sê. Ek kan my wip en opblaas … of ek kan dit ignoreer. Kies ek om my op te ruk, bederf ek net my eie geluk en vertroebel ek my menseverhoudinge. Kies ek om dit te ignoreer, sterf ek eintlik in myself. Ek beskou nie myself as belangrik genoeg om myself te wil handhaaf nie. Dit is baie bevrydend vir my om nie meer te wonder of ek oor iets gekrenk behoort te voel nie.

Aanstoot word nie gegee nie, maar geneem. En ek kies om dit nie te neem nie.

Aan die ander kant gee Spreuke 17 nie vir jou ‘n mandaat om links en reg ongeskik te wees, en mense moet maar net kies om nie aanstoot te neem nie.

Rakende optrede van ander teen ons, kies ons om nie aanstoot te neem nie. Rakende ons optrede teen ander, sê Spreuke “Wie hou van aanstoot gee, hou van rusie” (Spreuke 17:19)

Kosbare stukkie lewenswysheid wat in hierdie hoofstuk saamgevat word.

Spreuke 16

Hierdie Spreuk in vandag se leesstukkie het baie getref: “‘n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem”. (Spr 16:32)

Ek moet so dikwels uiters moeilike gesprekke hanteer. Nog nooit, en ek bedoel nog nooit, het dit my gehelp as ek ongeduldig met iemand raak nie. En nou praat ek nie van humeure verloor en skree en te kere gaan nie. Ek praat sommer van om myself net te vererg.

Die oomblik as jy ongeduld toon, word jy deel van die probleem en nie die oplossing nie. Niemand het nog ooit homself verwyt dat hy in ‘n taai situasie geduldig gebly het nie. Daarteenoor, elke keer wat ek ongeduldig geraak het, is ek spyt daaroor.

Ek bid dat die Heilige Gees my hierin sal bystaan. Geduld is immers deel van die vrug van die Gees omdat dit ‘n kenmerk van Jesus se karakter is.