Category Archives: Rut

Rut 3 & 4

Hoofstuk 3 en 4 bevat ‘n verstommende sameloop van gebeure wat uitloop op Rut en Naomi se versorging en sekuriteit. Boas tree as Losser vir Rut op en neem hulle onder sy beskerming.

Dit is nadat Rut vir hom sê: “Ek is Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser; neem my nou onder u beskerming.” (Rut 3:9)

Toe Rut later vir Naomi by die huis vertel wat gebeur het, sê Naomi: “Wag maar en kyk wat nou gaan gebeur, my dogter. Die man sal beslis nie vandag rus voordat die saak afgehandel is nie.” (Rut 3:18)

Ons het óók ‘n losser onder wie se sorg ons is. Sy naam is Jesus. Wanneer ons (soos Rut) ons onder sy sorg plaas, kan ons nes sy weet dat Hy na ons sal omsien.

Rut 2

Hierdie is altyd vir my so mooi gedeelte, want dit vertel iets van die wisselwerking tussen die mens se verantwoordelikheid en God se voorsienigheid…

Rut sit nie in sak en as nie. Sy neem inisiatief en gaan tel gerwe op in een van die lande. En dit is asof die Here hierdie inisiatief van haar seën. Hy gee dat die koringland waar sy besluit om te begin, toevallig die land van een van haar familie se lossers is (sonder dat sy dit weet).

Om die toeval te vergroot, sê vers 4 dat Boas toe “juis” op daardie oomblik by sy lande opdaag. En asof dit nie genoeg is nie, sien hy toevallig vir Rut tussen ál die ander werksters op die lande, raak.

Vanuit hierdie reeks “toevallighede”, ontstaan daar ‘n dialoog wat in die volgende hoofstuk tot ‘n verhouding ontwikkel. Was die verhouding te danke aan Rut se inisiatief of God se voorsiening? Altwee!

Ek leer hieruit dat die Here van my verwag om werk te maak van dit wat Hy in my geplaas het. Dinge gaan nie net vanself gebeur nie.

Maar ek leer ook dat ek nie op myself aangewese is nie. As ek “buite op die lande is”, voorsien die Here in my lewe met ‘n reeks “toevallighede”.

Rut 1

“Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ’n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.””

Bogenoemde is sekerlik die bekendste gedeelte in die boek Rut.

Dit is verstommend watter verskil ‘n vriend se liefde en lojaliteit in ‘n tyd van rou kan maak. Beide Naomi en Rut is nou in so ‘n tyd – en dit is Rut wat met baie groot wysheid optree.

Naomi is gebroke, en dit is te verstane. Maar haar hartseer maak haar bitter. Sy sê dit ook. Sy sê vir die mense om haar liewer “Mara” te noem (wat bitter beteken). Sy neem ook drastiese besluite in hierdie tydperk van rou – iets wat mens nooit moet doen nie. Mens wag altyd eers tot jy weer perspektief het. Maar Naomi besluit om te trek, en selfs weg te trek van haar 2 skoondogters (die enigste familie wat sy nog het).

Dit kon baie sleg vir almal uitgedraai het as Rut nie besluit het om nugter te bly en by haar skoonma te bly nie. Gelukkig seevier haar lojaliteit en onvoorwaardelike liefde.

In teenstelling met Naomi wat verblind word deur haar eie bitterheid, en selfs vir God verkwalik, openbaar Rut gedrag wat die Here verwag. Dieselfde tragedie tref 2 mense, en hulle reageer heeltemal verskillend.

Kom ons neem onsself voor om selfs in moeilike tye, régte besluite te neem. Waarvan die belangrikste sekerlik is, om nie die Here as jou vyand af te maak, in ‘n tyd wat Hy inderwaarheid jou enigste vriend is nie.