Category Archives: Romeine

Romeine 16

Paulus se groet aan die einde van die Romeinebrief is baie persoonlik. Dit raak mens eintlik aan as jy die een naam na die ander raaklees vir wie hy persoonlike groete stuur, en as mens sien hoe ineengevleg hulle lewens met mekaar was.

In sommige geloofsgemeenskappe beleef mens dit vandag nog. Op die oomblik is dit beslis ‘n werk wat die Heilige Gees in ons gemeenskap en gemeente doen. Mense is baie betrokke in mekaar se lewens, en ek geniet dit vreeslik. Dit is nie iets wat ek ken nie. As ek net dink hoe ons eie omgeegroep funksioneer, dan weet ek ons beleef iets van die vroeeë Kerk.

Nietemin, die gedeelte wat vir my uitspring vanoggend is vanaf vers 19. Dit is interessant dat mens geneig is om altyd meer te wil weet oor die slegte. My kinders wil altyd weet wat is vloekwoorde. Hulle vra my uit oor verkeerde dinge wat mense gedoen het. So asof die verkeerde altyd ons nuuskierigheid prikkel. Paulus sê, mag dit andersom in ons lewens wees…

“Ek is baie bly oor julle, en ek sou graag wou sien dat julle alles weet van die goeie en niks wil weet van die slegte nie. God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus is by julle!” (Rom 16:19-20)

Romeine 15

Vanoggend spring hierdie vers uit en dit gaan lê op my hart…

Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou” (Rom 15:2)

Paulus se beginsel is so eenvoudig. Natuurlik beteken dit nie ons moet “push-overs” wees wat uitgelewer is aan ander nukke en grille nie. Ons mag ook standpunt inneem en sterk voel oor sake.

Maar ook wanneer ons sterk voel oor ‘n saak, dan moet dit gaan oor wat goed is vir ander en ánder in die geloof kan opbou. Dit moet nie gaan oor myself nie.

En deurdat mens die heeltyd uitkyk vir ander en jouself ontsê of verloën, is mens besig om uitdrukking te gee aan die karakter van Jesus. Dit is wat Hy sou doen. En daarom groei ons sélf ook wanneer ons uitkyk vir ander.

Romeine 11

Vandag se hoofstuk handel hoofsaaklik oor die plek van Israel/Jode in die nuwe verbond. Paulus gebruik ‘n baie treffende beeld van sekere takke wat uit ‘n olyfboom uitgekap is, en ander wat in hulle plek inge-ent is.

Die takke wat uitgekap is (Jode), is uitgekap omdat hulle nie in Jesus geglo het nie (v20). Die nuwe takke (nie-Jode soos ek en jy) is in hulle plek inge-ent (v19). Dit beteken egter nie dat die Jode noodwendig vir altyd verlore is nie. Indien hulle tot bekering sou kom en in Jesus glo, sê Paulus kan hulle inderdaad weer terugge-ent word in die boom in (v23).

Die vers wat my vandag tref is: “En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie” Rom 11:6

Ek weet met my kop ek is uit genade gered. Maar kort-kort val ek terug in ou denke dat en “ten minste dit of dat vir die Here behoort te doen”. Hierdie vers is ‘n kragtige samevatting van genade. Of iets is genade of dit is nie. Jy kan nie wet en genade meng nie. Die oomblik wat jy wet en genade meng, sit jy net met wet.

Natuurlik los die evangelie ‘n appél op ons. Maar ons antwoord daardie appél omdat ons gered is, en nie sodat ons gered word nie.

Romeine 10

“Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim?’ nie,” dit is, om Christus af te bring, “Of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?’ nie,” dit is, om Christus uit die dood terug te bring. Nee, die Skrif sê:“Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.”” Romeine 10:8

Godsdiens het die nare geneigdheid om substitute vir God te skep. Partykeer word die substitute, selfs afgode. Dit is ongelukkig nie net in ander godsdienste wat dit gebeur nie. Selfs in die Christendom skep mense substitute vir God.

Ons is kort-kort opsoek na nog ‘n Mosesfiguur. Soos die volk van ouds wat nie self met die Here wou praat nie, en toe vir Moses gestuur het, so kry ons vir onsself Mosesfigure in ons lewens wat namens die Here met ons moet praat, bid en die wil van die Here moet openbaar.

Maar Paulus sê: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart”. Vir ons wat die Heilige Gees ontvang het, is hierdie woord waar. In plaas daarvan om vandag elders na die Here te gaan soek, word bewus van sy teenwoordigheid – en reageer daarop.