Category Archives: Rigters

Rigters 12

Vamdag se hoofstuk los maar ‘n frank smaak in my mond. Ons lees dat die Efraimiete na die afloop van Jefta se oorwinning oor die Moabiete, kwaad na hom toe gekom het omdat hulle nie ook by die geveg betrek is nie.

Die geskil tussen hom (en die manne van Gilead) en die Efraimiete eskaleer vinnig en hulle raak sommer slaags. 42 000 Mans van die stam Efraim sterf in hierdie oorlog.

Hierdie burgeroorloog was is tragies. Wanneer een broer teen ‘n ander broer veg, is dit altyd ‘n laagtepunt en niks om op trots te wees nie. Hierdie is nie juis ‘n veer in Jefta se leierskapshoed nie. Veral omdat dit vir ons lyk of Jefta en sy manne hierdie insident gebruik het om ‘n geskil van baie jare tevore te wreek (vers 4).

Is dit nie wat maar met ons ook gebeur wanneer ons nie van harte vergewe nie? As ons weer ‘n verskil met dieselfde persoon optel, is die intensiteit waarmee ons op die nuwe insident reageer, onvanpas. Dit verklap altyd aan ons dat daar onafgehandelde emosie in ons hart skuil. So iets loop altyd uit op sonde – nie noodwendig oorlog soos in Jefta se geval nie – maar ons optrede verheerlik nie die Here nie.

Efraim self was natuurlik nie onskuldig nie. Hulle het in hoofstuk 8 ook vir Gideon verwyt omdat hulle nie in die oorlog betrek is nie. Efraim was veglustig, en dit sluit by die breër tema van geweld aan in hierdie boek.

Efraim se veglusitgheid was ook nie omdat hulle kwansuis uit “lojaliteit” hulle broerstam wou help nie. Hulle wou eintlik net ook deel in die “eer” wat daarin gelê het om ‘n ander volk te wen. Dit is met ander woorde magsug en eersug wat op veglusitgheid uitloop.

En dan gebeur met Efraim die stuk ironie: Hulle wou verhef word, maar toe word hulle verneder deurdat hulle toe teen Gilead verloor. Ons sien hierdie tema van nederigheid vs hoogmoedigheid orals in die Bybel. Psalm 75 sal byvoorbeeld sê: “Moenie jouself verhef nie” – want wie homself verhef kom tot ‘n val. Of Jesus sal sê: “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.” (Luk 14:11). Later sal Jakobus skryf: “Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog” (Jak 4:10)

Mag ek nie net die uiterlike vertoon van nederigheid hê nie, maar ‘n innerlike hartsbesnedenheid. Die Here hou van die nederige persoon, want nederigheid kommunikeer afhanklikheid aan Hom.

Rigters 11

Ons het al na Rigters se tema van leierskap verwys. Ons het in hierdie boek deurlopend met leiers te doen wat jou hoop gee, net om weer deur hulle teleurgestel te word. Uiteindelik baan hierdie ontnugtering in politieke leiers, die weg vir ‘n dors na ‘n Messias.

Hoofstuk 11 is ‘n klassieke voorbeeld van hierdie tema: Jefta is volgens die standaarde van daardie tyd ‘n bedenklike figuur. Hoewel sy Pa ‘n gemeenskapsleier is, is sy Ma ‘n prostituut. Sy halfbroers verjaag hom berge toe, en dáár versamel ‘n groep boosdoeners rondom hom. Na alle waarskynlikheid ontaard hulle in ‘n groep struikrowers.

Wanneer die volk egter lastig geval word deur die Ammoniete, besef hulle dat hulle iemand “rof-en-tjommel” nodig het om hulle uit hierdie penarie te kry. Daarom nader hulle vir Jefta met die belofte dat hy hulle leier kan word as hy die Ammoniete sou verslaan.

Jefta val oor sy voete vir so ‘n geleentheid! En dit is hier waar Jefta ons begin verbaas. Hy spring nie net halsoorkop in ‘n geveg met die Ammoniete nie. Op ‘n besonderse wyse openbaar hy ‘n stuk wysheid deur eers diplomatieke gesprekke met die Ammoniete aan te knoop. Sy kennis oor die pad wat die Here met sy volk tot hier geloop het, beïndruk ons baie! Kan hy dalk die langverwagte leier wees was Israel so desperaat nodig het?

Toe die diplomatieke gesprekke misluk, bekragtig die Heilige Gees vir Jefta om oorlog te gaan maak (vers 29). Alles loop vir Jefta tot op hierdie punt voor die wind. En dan maak Jefta ‘n groot fout. Hy lê aan die Here ‘n eed af om die eerste een wat uit sy huis kom om hom tegemoet te gaan, vir die Here as brandoffer te offer. Later blyk dit sy enigste kind, sy dogter te wees. Die verhaal eindig met die tragiese dialoog tussen hulle en die vertelling hoe hy haar moes offer.

Jefta faal liederlik. Hy wat ons die een oomblik met sy kennis oor die Here beïndruk, wys vir ons die volgende oomblik hoe min hy regtig oor die Here weet. Hy weet byvoorbeeld nie eens dat die Here sy volk uitdruklik verbied om hulle kinders te offer nie! So iets is ‘n gruwel vir die Here.

Verder openbaar sy eed aan die Here sy eie selfsug. Hy probeer in sy “onderhandeling” met die Here net homself bevoordeel. Hy gee nie die Here kans om die (afskuwelike) bepalinge van sy eed te wysig nie. En hy dink ook nie aan die (arme) persoon wat deur sy eedswering geïmpliseer word nie. Ál wat vir hom belangrik is, is dat hy slaag. Sy ambisie vir leierskap, ontaard in ‘n ongesonde magsug wat hom onbesonne dinge laat aanvang. Ook Jefta is ‘n nuttelose leier…

Die teks laat mens jouself afvra hoeveel van dít wat ons doen, doen ons ter wille van God se eer en hoeveel gaan eintlik net oor ons eie eersug? Ook kan ons onsself afvra hoe diep ons insig oor die Here is? Ken ons Hom werklik in alle sfere van ons lewe, of is ons kennis van Hom beperk tot net sekere aspekte?

Rigters 10

Daar is iets wat my tot nou toe in die boek Rigters gepla het, wat ek nie heeltemal my vinger op kon plaas nie. Vanoggend weet ek wat dit is…

Die normale patroon wat ons in die Bybel raaklees, verloop as volg: Sonde 》Verlossing 》Dankbaarheid.

In Rigters voel dit vir my ontbreek dankbaarheid nog die hele tyd. Die patroon wat ons hier teëkom is: Sonde 》Verlossing 》Sonde 》Verlossing ens. Dit is asof ons nog die heeltyd diepgaande berou mis, met die gevolg dat ware dankbaarheid ook afwesig is.

Op ‘n baie klein vlak sien ons vandag vir die eerste keer ‘n teken van berou: “Maar die Israeliete het die Here geantwoord: “Ons het gesondig! Doen U met ons wat goed is in u oë, maar red ons tog net vandag!” Hulle het toe die ander gode tussen hulle uit verwyder en hulle het die Here gedien, en Hy het ‘n end gemaak aan hulle swaarkry.” (Rigters 10:15-16)

Moet egter nie te vinnig opgewonde raak nie. Hulle verwydering van die afgodsbeelde is minder van ware bekering en meer oor wat hulle by die Here in die proses kan kry – naamlik oorwinning van die veldslag.

Hulle verhouding met die Here kan op die heel beste beskryf word as “transaksioneel”. Hulle dien Hom nie omdat Hy is wie Hy is nie, maar oor wat hulle uit dit kan kry. Dit is ‘n prentjie van ‘n infantiele verhouding met God.

En myne? Lyk my verhouding met die Here anders? Dien ék Hom omdat Hy is Wie Hy is? Of dien ek Hom omdat ek hoop om in die proses gesondheid, beskerming en voorspoed te kry? Kom ons bid dat die Here volwassenheid in ons verhouding met Hom sal gee.

Rigters 9

Eendag het ‘n man het sy vrou met ‘n ander vrou verneuk, en toe met háár getrou. Hulle huwelik was egter van korte duur omdat die man sy (toe nuwe) vrou, ook met ‘n minnares verneuk het. Sy het huilend haar geskoktheid uitgespreek: “hoe kon hy my met ‘n ander vrou verneuk?” Maar sy vergeet dat sy sélf ‘n rukkie terug die “ander” vrou was waarmee hy sy vrou verneuk het. Wat het sy gedink? Dat hierdie man so iets net een keer sal doen?

Ek het onlangs van iemand gehoor wat nie bereid was om namens sy baas vir ander kliënte te lieg nie. Sy baas was woedend, maar hy het sy baas geantwoord: “As ek namens jou kan lieg, kan ook vír jou lieg”

Sonde se strik lê dikwels daarin dat ons vir die leuen val dat dit net een keer sal wees. Ons glo dat dit net hierdie een duistere transaksie sal wees en daarna gaan ons altyd eerlik wees. Of ons glo dat dit net een leuen of net een omkoopgeskenk gaan kos om ons uit die moeilikheid uit te kry, en dan gaan ons daarna vir altyd eerlik leef.

Maar dit werk nooit so nie. Sonde het ‘n manier om karakteriserend van jou te word. En dit is wat hier in Rigters 9 gebeur. Abimelek probeer ‘n koninkryk aan mekaar sit met geweld en rugstekery. Het hy regtig gedink dit sal daarna stop?

Jesus sou later selfs sê: “Wie leef met die swaard, sal sterf met die swaard”. Abimelek het ander ondergrawe en sy koningskap sou gekenmerk word aan agteraf pogings om hóm te onttroon. Hy moes telkens – soos die storie oor Gaäl ons wys – geweld gebruik om opstande te onderduk. Sou Jesus nie later ook sê dat ‘n koninkryk wat in homself verdeel is, nooit kan bly staan nie? Wel, dit is wat met Abimelek uiteindelik gebeur het. Hy het op ‘n veragtelike manier koning geword, en hy sou op ‘n smaadvolle manier sterf.

Laat ons nooit Sonde se “leuen van eenmaligheid” glo nie. So gou soos nóú word daardie sonde karakteriserend van ons.

Rigters 8

Die outeur van die boek Rigters kry dit meesterlik reg om ‘n groot verwagting by ons te skep, net sodat hy ons kan teleurstel. Gideon word aan ons geskets as ‘n menslike leier wat meer en meer potensiaal toon. Hy het pas ‘n reuse oorwinning behaal deur sy gehoorsaamheid aan die Here. Kan Gideon die perfekte leier wees wat Israel so dringend nodig het?

Dit wil so lyk! Hy is immers nie net ‘n goeie soldaat nie, maar ook ‘n getroue navolger van die Here. Toe die mense hom vra om hulle te lei na afloop van sy oorwinning, antwoord hy: ‘Maar hy sê vir hulle: “Ek kan nie oor julle regeer nie, ook nie my nageslag nie. Die Here regeer oor julle.” (Rigt 8:23)

Sjoe! ‘n Meer edel antwoord kry mens nie!

Maar in sy volgende sin – sy direk daaroovolgende sin – gaan hy voort om te sê: ‘Gideon het verder vir hulle gesê: “Ek wil julle egter een ding vra: elkeen van julle moet vir my ‘n oorring gee uit die buit wat julle by die Midianiete afgevat het; hulle dra mos goue oorringe.”‘ (Rigt 8:24)

Ja, ons ergste vrese word bewaarheid…“Gideon het ‘n Efodbeeld van goud gemaak en in sy stad Ofra gesit. Die hele Israel het daarheen gekom en op díe wyse ontrou geword aan die Here. Die beeld was vir Gideon en sy mense ‘n valstrik” (Rigters 8:27)

Vandag se gedeelte wys vir ons op die kortstondigheid en wisselvalligheid van ons as mense se toewyding. Gideon val van “hero” na “zero” in minder as 1 sekonde! Die een oomblik is hy die held wat die hele volk red. Die volgende oomblik is hy verantwoordelik vir die hele volk se afvalligheid.

Hierdie leier wat soveel potensiaal getoon het, is toe maar ook net soos al die ander. Maar Gideon is ‘n prentjie van my en jou. Ook ek en jy is wisselvallig in ons toewyding.

Ek word vandag herinner aan Paulus se woorde: “Wie meen dat hy staan, moet pasop dat hy nie val nie”. Of soos die ou gebed lui: “Lord, guard me against myself, my hollowest friend, my deadliest foe…”

Vandag bid ek dat die Here my daarvan sal beskerm dat ek nie my vertroue in aardse leiers sal stel nie. Maar ek bid eerstens dat Hy my teen myself sal beskerm. Mag Hy my diepte, standvastigheid en getrouheid gee.

Rigters 7

Jy sal onthou dat Gideon met baie huiwering ingestem het om die Midianiete te gaan verslaan. Hy het eers ‘n reeks eksperimente gedoen (tekens gevra) met wol en dou, voordat daar genoeg geloof in sy hart gewek was om God te vertrou.

Noudat hy optrek, om die Midianiete met 32 000 man die slag te gaan aansê, is dit asof die Here sý terme en voorwaardes neerlê: dit moes op sy manier geskied. As Gideon die Midianiete met soveel mense by hom verslaan, sou hy dink dit is vanweë sy groot leër dat hy die oorwinning behaal. Daarom moet Gideon net 300 manskappe oorhou.

Die Here is besig om met Gideon te werk. Dít waarop Gideon vetrou, vat Hy weg. Soos ‘n ui wat lagie vir lagie geskil word, word daar van Gideon weggeneem dít wat onbruikbaar of in die pad is. Sy geloof word gelouter.

Ek vind ook sekuriteit in ‘n miljuisend en tien dingetjies anders as die Here: my werk, my posisie, my huwelik, my gesondheid…hoe sou ek lyk as al daardie dinge van my weggeneem word? Wat sou van my vertroue in die Here oorbly as ek niks van bogenoemde meer het nie? Daar is nou vir my ‘n gedagte om aan te kou.

Rigters 6

Jy sal onthou dat die vorige twee dae se vertellings in Rigters daarop neergekom het dat mens onvoorwaardelik gehoorsaam moet wees en nie nie moet fokus (soos Barak) op dit wat jy nie kan nie kan doen nie, maar eeerder (soos Jael) op dit wat wel binne jou vermoë is.

Wel, vandag se hoofstuk oor Gideon sluit by hierdie tema aan. Die volk word lamgelê deur die struikrooftogte van die Midianiete. Die Here verskyn aan Gideon waar hy wegkruip en sê vir hom: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete.”

Verstaanbaar aarsel Gideon ten aanhore van hierdie opdrag. Die krag wat hy het is nie baie nie. Hy is nie eens van ‘n prominente stam nie. Wie sal na hóm luister?

Die opdrag aan hom en die verskonings wat hy aanbied, herinner baie aan God se verskyning aan Moses by die brandende braambos. Dáár het Moses byna woordeliks dieselfde soort opdrag gekry – en byna woordeliks dieselfde soort verskonings opgedis.

Dit is met ander woorde nie toevallig dat die Here vir Gideon dan in vers 16 met presies dieselfde woordkeuse antwoord as wat Hy vir Moses mee geantwoord het nie. In Hebreeus is die frase: “Ek is by jou…” ‘n verbatim herhaling van die Here se woorde aan Moses.

Die hele dialoog sluit natuurlik op ‘n ironiese wyse aan by Gideon se klagte dat die Here nie meer dieselfde wonderdade onder sy volk doen as vroeër nie (vers 13). Hierop is die Here se antwoord in effek: “Wees jy die beskikbare dienskneg, en Ék doen die wonderwerk.” Sjoe, mens moet pasop waarvoor jy wens 🙂

Die mooi van vandag se stuk lê egter in die manier waarop die Here vir Gideon aanspreek: “Die Here is by jou, dapper man” (vers 12). Dít sê Hy vir die ou wat wegkruip… Maar die wonder is dat Gideon dan juis dit wórd wat God oor Hom uitroep. Hierdie is tipies hoe die Here werk. In die brief Romeine skryf Paulus: “…God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.” (Rom 4:17). Dink mooi na oor hierdie vers: Die here skep deur sy woord.

Hy vernoem ‘n kinderlose Abram, na Abraham – die vader van die nasies. Die wankelbare Simon wat soos ‘n riet in die wind van sy oortuigings verander, word Petrus – oftewel “Rots” hernoem. Uiteindelik sterf Petrus onderstebo op ‘n kruis vanweë sy onwrikbare oortuigings. Op ‘n soortgelyke wyse noem nie Nuwe Testament my en jou nooit meer “sondaars” ná die kruis van Jesus nie. Ons word nou genoem: “heiliges”. Vêr van wat ons verdien, roep die Here in ons na vore dít wat Hy in ons totstand wil bring.

Wat noem Hy jou vanoggend? Dalk “vreeslose” een? Of miskien “geloofsreus”? Kom ons kies om te reageer op die naam wat hy ons noem.

Rigters 5

Vandag se hoofstuk bevat ‘n gedig oor gister se vertelling. Die genre van poësie verleen hom natuurlik daartoe om baie dramaties te wees, en hierdie gedig doen juis dit.

Dit sluit af met ‘n vertelling van hoe Sisera se Ma by ‘n venster staan en uit tuur, wagtend vir wanneer haar seun gaan terugkom. Sy is onbewus van die feit dat hy reeds deur ‘n vrou gedood is – ‘n skandelike dood oorgekom het. Inteendeel, sy word intussen met valse hoop deur ‘n diensmeisie vertroos: Dalk neem hy maar net so lank omdat hy ‘n groot buit saambring.

Hierdie vertelling van Sisera se Ma vind ons net hier en nie in die narratief van die vorige hoofstuk nie. Dit skets egter die nederlaag van Sisera op ‘n baie emosionele wyse, en kontrasteer dit dan met die vreugde van die oorwinning wat Israel beleef. Die gedig sluit af met: “Mag al u vyande so omkom, Here, maar mag dié wat vir U liefhet, wees soos die son wat in sy volle krag skyn.” (Rigters 5:31)

Ons kan óók hierdie sin bid: Mag die vyande van die Here faal in dít wat hulle wil doen. Mag hulle tot inkeer kom.

Ons word ook herinner aan Barak se voorwaardelike gehoorsaamheid en Jael se gewilligheid. Mag ek ook onthou om nie vas te kyk in dit wat ek níe kan doen nie (soos Barak), en eerder soek na dít wat ek wél kan doen (soos Jael).

Rigters 4

In Rigters 4 lees ons van iets uitsonderlik vir die antieke tyd: ‘n vroulike gemeenskapsleier! In ‘n samelewing wat deur mans gedomineer was, was dít iets totaal ongewoon. Tog lees ons dat mense van regoor Israel na Debora gekom het sodat sy hulle geskille kon oplos (vers 5).

Die militêre leier, Barak, het ook leiding by haar gaan vra. Haar raad aan hom was voort te gaan met die aanval op Sisera, die hoof van hulle vyamde se leër. Barak was egter huiwerig. Hy wou nie dadelik daarop reageer nie en het eers met die Here probeer onderhandel. Hy het voorgestel dat Debora saamkom. Was dit dalk sy toets om te sien of sy werklik seker is dat haar insig van die Here kom? Ons weet nie dit nie. Ons weet net dat sy “onderhandeling” op voorwaardelike gehoorsaamheid neergekom het – iets wat hom duur te staan sou kom.

Hoewel Debora ingestem het om saam met hom te gaan, het sy bygevoeg dat die “eer” van die oorwinning nie meer na hóm toe sal gaan nie, maar na ‘n vrou. Hoor dit weer: Die uitkoms wat die Here sou bring, sou uit ‘n hoogs onwaarskynlike oord kom. En dit het ook so gebeur…

Toe Sisera op die vlug slaan, het hy by die tent van Jael aangekom. Daar het hy aan die slaap geraak. Jael het toe Sisera se lewe met ‘n hamer en ‘n tentpen geneem. Nie net het die uitkoms gekom uit ‘n oord wat niemand verwag het nie (Jael was nie eers ‘n Israeliet nie), maar hy is doodgemaak met iets wat nie eers tradisioneel as ‘n wapen beskou is nie. Dit was ‘n skandelike dood vir Sisera.

Tog leer ons ook iets oor die Here se eer: Hy het werklik nie mý nódig om sy raadsplan te laat geskied nie. As ek (soos Barak) nie met gehoorsaamheid reageer nie, dan werk die Here rondom my om sy plan tot uitvoer te bring. Hy kan sy wil laat geskied deur die mees onwaarskynlike figure en instrumente te gebruik.

Hierdie wete plaas ons eie belangrikheid in ‘n nuwe lig. Niemand is onontbeerlik vir die Here nie. As jy nie aan die Here wil gehoorsaam wees nie, “snoeker” jy nie sy plan nie. Jy mis gewoon uit op die voorreg om deur die Here gebruik te word, want Hy gebruik net iemand anders wat wél gewillig is.

Kom ons verklaar ons eie klein nietigheid voor die Here en bid vandag vir ‘n diep gehoorsaamheid aan Hom.

Rigters 3

In vandag se hoofstuk van Rigters 3 val dit my op dat die volk onmiddelik weer in ontrouheid verval, sodra ‘n leier doodgaan. Beide Otniël en Ehud het tekortkominge as leiers gehad, maar ten minste het hulle leierskap die volk getrou aan die Here gehou. In beide gevalle het die volk egter afvallig geword die oomblik toe die leier tot sterwe gekom het.

Mens kan nie help om te wonder hoe diep die volk se toewyding dan regtig gelê het nie. Was hulle ooit werklik lief vir die Here of was hulle verbintenis aan Hom maar net ‘n eksternalisering van godsdiens?

Net omdat jou kind toe mond kou wanneer jy in die vertrek is, beteken dit nie dat jou kind goeie maniere het nie. Goeie maniere is eers vasgelê – deel van jou kind se mondering – as hy/sy toe mond kou as die ouer níe naby is nie.

Op ‘n soortgelyke wyse was die volk se toewyding oppervlakkig – byna kondisioneel. Net solank die leier daar is om ‘n ogie te hou, bly hulle aan die Here “getrou”. Dit is gedeeltes soos hierdie, wat profesieë soos Esegiël 11 en Esegiël 36 waar daar gepraat word van ‘n “nuwe hart” wat die volk sal ontvang, so betekenisvol maak. Hierdie “nuwe hart” het die eksterne vertoon van godsdiens met ‘n interne gesindheidsverandering verplaas.

Dit bring ons vanoggend by die vraag hoe ons toewyding lyk? Doen ek steeds wat rég is, as niemand daar is om my te sien nie? Het my verhouding met die Here al dieper gevorder as net vel-oppervlak?