Category Archives: Psalms

Ps 107

Vandag se Psalm is ‘n interessante een. Psalm 107 is die laaste in die bundel van lofpsalms (103-107). Die Psalms in hierdie groep begin almal met die oproep: “Loof die Here…”. Psalm 107 spesifiek was geoogmerk om gebruik te word as ‘n dankoffer-psalm. Dit beteken dat die Psalm voorgelees is met die samekoms van die Israeliete met die doel om waarlik dankbaarheid in hulle harte te wek wanneer hulle dankoffers bring.

Die Psalm noem ‘n rits wonderdade van die Here op en dit sou noodwendig jou geheue terugneem na die verlede waar die Here ook aan jóú goed gedoen het.

Is dit nie hoe ons almal maar is nie? Ons is nie vanself net dankbaar nie. Selfs met ons beste voornemens om nooit van God se goedheid en guns in ons lewens te vergeet nie, vergeet ons daarvan. Ons moet gelei word om weer daaraan te dink. Ons moet herinner word om dit weer op te roep en dankbaar te wees.

Miskien is dit hoekom die Here beskik dat ons juis vanoggend hierdie Psalm weer moet lees. Miskien wil Hy hê dat ons vir ‘n oomblik – voor ons vandag ons dagtaak met al sy bekommernisse aanpak – vir ‘n oomblik sal stop en dink aan hoe goed Hy vir ons is…

Psalm 103

Die Psalms bestaan mos uit bundels. Psalm 103 is die eerste Psalm in die lof-bundel:

“Ek wil die Here loof,
met alles wat in my is,
wil ek sy heilige Naam loof.
Ek wil die Here loof
en nie een van sy weldade
vergeet nie.
Dit is Hy wat al my sonde vergewe,
wat al my siekte genees,
wat my red van die graf
en my met liefde en ontferming kroon,
wat my die goeie in oorvloed
laat geniet,
my die jeugdige krag van die arend
skenk.”

Net in die eerste 5 verse verklaar die digter nie minder as 3 keer dat hy die Here wil loof nie. Maar die mooi van die Psalm is dat die lof aan die Here in konsentriese sirkels uitkring.

Dit begin by die digter (v1). Dan kring die lof uit na die groep (v10). Dan kring dit nóg verder uit na die engele (v20). Totdat die Psalm aan die einde die ganse skepping oproep tot Lof aan die Here (v22).

Die struktuur van die Psalm doen vanoggend iets aan my gemoed. Dit herinner my dat die Here groter is as my klein wêreldjie. My klein wêreldjie draai om myself. Maar inderwaarheid handel hierdie lewe oor die Here.

Psalm 91

Die Ou Testamentikus, Walter Brueggeman, meen mens kan 3 verskillende soorte Psalms onderskei.

Eerstens kry mens Psalms van oriëntasie. Dit is Psalms vir wie die lewe eenvoudig, reglynig en ondubbelsinnig is. Die goeie word altyd beloon en die slegte word altyd gestraf.

Dan kry mens Psalms van disoriëntasie. Dit is vir wanneer die lewe nie sin maak nie. Dit is wanneer daar vrae gevra en geworstel word.

Derdens kry mens Psalms van heroriëntasie. Dit is wanneer daar groei en ontwikkeling by die Psalmdigter kom. Die digter het dalk ‘n vraag waarmee hy worstel, maar tog sluit hy af met ‘n loflied.

Vandag se Psalm val duidelik in die eerste kategorie. Dit is ‘n Psalm wat eenduidige antwoorde gee. Die gelowige word van alle onheil beskerm. Hy stamp nie eens sy voet teen ‘n klip nie.

Natuurlik weet ons die lewe is nie so eenvoudig nie. Maar dit maak nie hierdie Psalm minder waar nie. Die doel van hierdie Psalm is om ‘n kompas te wees. Dit rig ons geloof op die Here.

En die waarheid wat hierdie Psalm verkondig is meer as net metafories. Dit is hierdie Psalm wat ek gelees (en vir myself toegebid) het, die dag toe ‘n kar my laatmiddag van my fiets afgery het – en ek wonder bo wonder nie ‘n skrapie opgedoen het nie.

Dit is ook dieselfde Psalm wat die Here gebruik het om vir my en Lindie bevestiging te gee dat Hy wil hê ek in 2011 Bybels na Libië toe moes smokkel en dat Hy my sal beskerm. Ja, ek was gevang, maar die Here het my tot in die leeukuil geneem en weer daaruit gehaal voordat die bek van die leeus kon toeslaan. Psalm 91 het vir my wáár geword.

Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”

Vandag voel ek dus dat ek Psalm 91 op sigwaarde kan neem en mag glo. Op een vlak is die lewe meer kompleks as wat Psalm 91 voorgee. Maar op ‘n ander vlak is dit ook so eenvoudig.

Psalm 66 & 67

Ek lees vandag se 2 Psalms en ek kan nie help om te dink aan wat die teoloog N.T. Wright in sy kommentaar oor die Psalms skryf nie.

Hy sê daar is in wese net 2 wêreldbeelde. Die eerste een is die van die Psalms. Hiervolgens is God – die monotheïstiese Skepper – intens betrokke by sy skepping, al verstaan ons nie aldag waarmee of tot in hoe ‘n mate nie.

Daarteenoor staan die wêreldbeeld van Epicurus – wat populêr gemaak is deur die Romeinse digter Lucretius. Hiervolgens is die wêreld nie geskep deur god/gode nie – en indien wel, staan hulle nou veraf en onbetrokke van die skepping.

Hierdie wêreldbeeld het tydelike verligting gebring van die alewige vrees vir straf wat mense gehad het. Maar dit het niks gedoen om hoop vir mense te gee en om sinvolheid aan hul bestaan te gee nie.

Epicureanisme beleef ‘n groot oplewing in vandag se sekulêre wêreld. Ons dink dit is hiper-modern om so te dink. Maar eintlik is hierdie wêreldbeeld so oud soos die berge.

Die Psalms – en veral vandag s’n – bring ons voor ‘n keuse te staan: Glo ek dat God inderdaad betrokke is en met ons lewens êrens heen oppad is?

Psalm 64

Dit tref my vandag hoe stokoud die leuen van sonde is. Sonde werk altyd – ALTYD – met die leuen van geheimhouding. “Niemand sal ooit weet nie” of “Niemand mag ooit uitvind nie”, is die 2 oudste truuks in die boek. Tog val ons steeds daarvoor.

In Psalm 64 sien ons dit ook in soveel woorde in die koppe van die goddelose maal: Hulle smee bose planne en kom ooreen om strikke te stel. Hulle dink niemand sien hulle nie. Hulle beplan skelmstukke en sê: “Ons het ‘n volmaakte komplot gesmee, want wat binne in ‘n mens is, wat hy uitgedink het, is ‘n geheim.” (Ps 64:6-7)

Dit herinner my vreeslik baie aan die gedeelte in Spreuke: Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang. (Spr 28:13)

Psalm 62 & 63

Hierdie twee Psalms het vanoggend baie vir my beteken…

In Psalm 62 noem die Psalmdigter 3 keer dat die Here sy rots is. Rotse staan vas. Rotse is onveranderlik. Rotse breek nie. Geen wonder die ander refrein in die Psalm is: “Net by God vind ek rus”

In aansluiting hierby roep die digter in Psalm 63 uit: “Ek soek U, o God. Ek dors na U. Ek smag na U”. Dit voel vir my of my binneste reverbereer as hierdie lees: Ek soek ook méér van God. Ek dors ook na méér van Hom. Ek smag na Hom. 

Niks bevredig soos U nie. Niks les my dors soos U nie.

Ps 42 (31 Aug)

Hierdie klassieke Psalm beteken vanoggend so baie vir my: “Uit my vertwyfeling roep ek na U” (vers7).

Die egtheid van hierdie paradoks tref my: As jy twyfel, ontbreek geloof. Tog roep die digter vanuit sy twyfel na God (wat geloof impliseer).

Elkeen van ons was al op so ‘n plek. Dit voel vir jou of jy nie genoeg krag het om meer te glo nie. Maar as jy jou weer kry dan praat jy met die Here. Dit herinner my aan die man wat vir Jesus gesê het: “Ek glo Here. Help my in my ongeloof”.

Dit is die misterie van geloof. Vanself het ons dit nie. Die Here wek dit in ons op as ons dit die minste verwag.

Ps 30 (18 Jun)

Ps 30:7-9 Toe dit goed gegaan het,het ek wel gesê:“Niks sal my ooit laat wankel nie.” Deur u goedheid het U my op ’n veilige berg laat staan, Here. Maar toe U U aan my onttrek het, het ek baie bang geword. Ek het na U geroep, Here. Ek het U om genade gesmeek.

Mens wil dit nie erken nie, maar dit is die waarheid. Moeilike tye wys die swakheid/sterkte van ons geloof uit. Ons moet dus nie moeilike tye omwens nie. Vra jouself die heel tyd af hoe jy God in hierdie tyd kan verheerlik.