Category Archives: Jeremia

Jeremia 34

Hier is nou vir jou ‘n baie treffende gedeelte in vandag se hoofstuk op die tema van God se straf.

Net gou die konteks: Soos ons gesê het word die stad beleër deur die Babiloniërs. In hierdie tyd kondig koning Sedekia aan dat die volk hulle Hebreeuse slawe moet vrylaat.

Daar is verskeie moontlikhede hiervoor. Miskien was dit ‘n strategiese skuif, sodat as die Babiloniërs die stad binneval, dat hulle nie die mense van hoër status – die voormalige slawe-eienaars – slegter behandel as die res van die volk nie.

Of miskien het die volk gehoop dat hulle die Here van plan kon laat verander en die dreigende inval van die Babeloniërs kon afweer, as hulle hul slawe laat gaan. Dit is immers iets wat God se wet bepaal het (Eks 21:2-6).

Wat die rede ook al was, dit was van korte duur. Kort nadat hulle die slawe vrygelaat het, het hulle weer die mense gaan aankeer en van hulle slawe gemaak. Miskien is dit – toe die beleg van Jerusalem nie dadelik na die vrylating van die slawe ophou nie – dat hulle begin spyt kry het oor hulle “daad van bekering”.

Ons lees egter ook in hoofstuk 37:5-10, dat ‘n gerug die volk bereik het dat Egipte hulle gaan kom help. Miskien het hulle begin dink dat die beleg gou iets van die verlede gaan wees, en dat hulle nie dan sonder slawe wil sit nie.

Wat hulle oorweging ook al was vir hierdie vinnige terugkeer na hulle sonde maak nie regtig saak nie. Wat saak maak is dat die Here dit nie goedgekeur het nie. Dit was die finale strooi.

Die Here gaan nou voort en kondig die inval van Jerusalem by monde van Jeremia aan. Wat egter treffend van hierdie aankondiging van straf is, is dat die Here se straf nie ‘n aktiewe proses is nie. Dit is nie Hý wat aktief hulle straf nie. Dit is meer passief, in die sin dat Hy hulle nie meer gaan beskerm nie. Die Here sê:

“Daarom laat Ek julle nou vry, sê die Here, vry vir oorlog, vir pes en vir hongersnood, en Ek maak julle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik.” (Jer 34:17)

Hy laat hulle onder sy sorg vry. Hulle beweeg uit onder die sambreel van sy beskerming. Dit is hoe dit vandag nog gebeur. Ons sonde het gevolge. Ons sonde stel ons bloot aan seerkry. Dit is nie die Here wat “aktief” ons kasty nie. Dit is onsself wat onder sy beskerming uitbeweeg het.

Die groter vraag is seker hoe lyk ons bekering? Is ons bekering net so opppervlakkig soos die volk s’n? Toe hulle nie met hulle bekering vermag wat hulle wou nie, toe verander hulle van plan. Hulle bekering was met ander woorde nie vanweë waarlike berou oor sonde nie. Dit was net ‘n manier om iets af te wend of te kry wat hulle wou.

Word my bekering geken aan ware berou oor sonde?

Jeremia 33

Om die treffendheid van Jeremia 33 te hoor, moet mens miskien net weer jouself aan die konteks herinner.

Die mense van Jerusalem se lewens hang aan ‘n draadjie. Die Babiloniërs het teen hulle opgetrek. Die huise buite die stad is reeds verwoes en die mense doodgemaak. Nou beleër hulle die stad en honger hulle die inwoners uit, voordat hulle die stad gaan binneval en die mense óf doodmaak óf wegvoer…

Dit is met ander woorde nie “mooiweerspraatjies” nie. Dit is kookwatertye. Die volk is ontnugter. Hulle sekuriteit is onder hulle uitgeruk.

Dan begin Jeremia se profetiese uitspraak met die volgende…

So sê die Here, Hy wat die aarde gemaak en so gevorm het dat dit nie wankel nie, wie se Naam Here is (Jeremia 33:2)

Dit is baie veelseggend dag Hy met die belydenis begin dat die Here geskep het – en nogal tot so ‘n mate geskep het, dat die aarde nie kantel en alles in duie stort nie. Dit is veelseggend, want as die Here een maal geskep het, kan Hy ook herskep. En dit is wat Hy gaan doen. Jeremia gaan dan voort om onder andere te sê…

“So sê die Here die Almagtige: In hierdie plek wat so verwoes is dat geen mens of dier oorgebly het nie, en by al sy stede sal weer weiveld vir kuddes wees, lêplek vir kleinvee.” (Jeremia 33:12)

Die Here belowe herskepping. Maar hierdie woorde kom in ‘n tyd wat dit onmoontlik lyk of klink. Dit wil vir die volk voorkom of daar geen uitkoms is nie. Tog, omdat die Here almagtig is en kan herskep, kan Hy selfs die grootste katastrofe omdraai en in seën verander. Dit is nogal iets wat ons in gedagte moet hou.

Jeremia 32

Ons vertoef steeds by Jeremia se aankondigings van hoop, in die laaste gedeelte van die boek. Op die oomblik is die stad beleër deur die Babiloniese weermag. Koning Sedekia verkeer onder geweldig baie spanning. Wat meer is, is dat Jeremia tot nou toe net onheil aangekondig het. Dit is nie die boodskap wat Sedekia wou hoor nie. Daarom het hy Jeremia toegesluit.

Maar dit wil lyk of dit tot Sedekia begin deurdring dat Jeremia dalk die waarheid gepraat het. Want die koning kom vra weer vir hom, of daar nie dalk tog goeie nuus is nie. Waarom moet hy altyd onheil oor hom aankondig?

Jeremia noem dan ‘n rits dinge wat mens kan sien dat hy nie net pessimisties is nie. Hy glo regtig dat die Here ook ‘n einde gaan maak aan die volk se swaarkry. Maar nog nie nou al nie.

Een van die dinge wat hy opnoem, is dat daar ‘n tyd sal kom wat die Here ‘n nuwe verbond met hulle sal sluit. Alles wat hulle onder die vorige ou verbond gekort het, sal onder die nuwe verbond aan hulle bemaak word – insluitende toewyding aan die Here.

“Ek sal hulle bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek hulle verjaag het in my gloeiende toorn en in my groot woede. Ek sal hulle hierheen terugbring en hulle sal hier rustig kom woon. Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees. Ek sal hulle ’n onverdeelde hart en ’n vaste koers gee: hulle sal My altyd dien vir hulle eie beswil en vir dié van hulle kinders na hulle. Ek sal ’n blywende verbond met hulle sluit. Ek sal nooit ophou om aan hulle goed te doen nie en Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien en nie van My af weg te draai nie. Ek sal dit geniet om goed te doen aan hulle in my trou; met alles wat Ek is, sal Ek hulle weer in dié land vestig.” (Jer 32:37-41)

Op ‘n besonderse manier het dit natuurlik gebeur in die persoon van Jesus Christus. Jesus het nie net namens ons gesterf nie, maar ook namens ons kom leef. Die toewyding en gehoorsaamheid waarmee Hy geleef het, is ook vir ons beskore deur die werking van die Heilige Gees.

Ons toewyding aan die Here, is met ander woorde nie ‘n werk uit ons eie nie. Dit is iets wat God ons gee – woordeliks wat Jeremia profeteer.

Jeremia 31

Vandag se hoofstuk bevat die allerpragtigste belofte van genade.

Jeremia was nie net ‘n doemprofeet nie. Hy het nie net die volk se sonde uitgewys en hulle veroordeel nie. By die Here is daar altyd vergifnis en versoening. Daarom sê die Here by monde van sy profeet die volgende:

“So sê die Here: As die hemel daarbo afgemeet kan word en as die fondamente van die aarde daaronder vasgestel kan word, sal Ek die hele nageslag van Israel verwerp oor alles wat hulle gedoen het, sê die Here” (Jer 31:37)

Dit is natuurlik ‘n anomalie. Dit kan nooit gebeur nie. Tot vandag toe – met al ons kennis van die heelal – kan niemand die grootte van die hemel bepaal nie. Dit is ‘n manier om te sê dat die Here nooit-ooit sy kinders sal afskryf nie – selfs al het ons watter sonde ook begaan.

Ook nie vir my en vir jou nie…

Jeremia 19

Wat ‘n treffende beeld is dit darem nie…

“Jy moet dan die pot breek voor die oë van die mense wat met jou saam is, en jy moet vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige: Soos hierdie kleipot gebreek het en nie heelgemaak kan word nie, so sal Ek hierdie volk en hierdie stad breek.” (Jer 19:10-11)

Jeremia word in hierdie hoofstuk aangesê om ‘n kleipot te neem en dit te breek voor die oë van die volk. Die pot was simbolies van wat met die volk sou gebeur.

Eintlik wemel die hoofstuk van ironie: In Psalm 2:9 word gesê dat die koning ander nasies sal verpletter. Maar in hierdie hoofstuk word die rolle omgekeer. Dit is die koning – en die hele Jerusalem – wat deur die ander nasies verpletter gaan word.

Die rede is omdat hulle die stad ontheilig het deur mee te doen aan afgryslike praktyke van die afgodsdiens, soos om kinders te offer. Die Here sê by monde van Jeremia baie duidelik dat Hy nooit so iets beveel het nie (Jer 19:5). Die verdere tragiese ironie in hierdie hoofstuk vind dan plaas dat toe Jeremia se profesie in 586vC vervul geword het, het dit só beroerd in die stad gegaan dat die mense hulle eie kinders moes eet! (Klaagl 2:20; 4:10)

Hulle het hulle kinders vrywillig vermoor. Nou is die gevolg dat hulle verplig word om hul kinders te eet. Hulle afgodsdiens het met ander woorde omgedraai en hulle baie seer “teruggebyt”.

Ons afgode doen dit ook met ons. Jy jaag byvoorbeeld geld, en dan verslind dit later jou gesin op. Of ‘n lewensmaat raak vir jou só belangrik in jou lewe dat dit selfs God verplaas. En wanneer daardie lewensmaat jou verwerp, besef jy dat jy jou hele lewe op wind gebou het.

Die waarskuwing van hierdie hoofstuk is dus tweeledig: Eerstens waarsku dit ons teen die verwoestende aard van afgode. Tweede herinner dit ons aan die feit dat die Here afgode in ons lewe verafsku. Hy verdra dit nie. Dit walg Hom.