Category Archives: Amos

Amos 6

Hoofstuk 6 handel oor die gevaar daarin om uitspattig te leef sonder dat die noodkreet van jou medemens jou raak nie. Jou eie gemak stomp jou af vir die nood van ander.

Amos begin deur ‘n reeks voorbeelde te noem van dinge wat die mense in die Noordryk ‘n gevoel van sekuriteit gee: Hulle lê op ivoorbeddens, strek hulle uit op rusbanke, eet lamsvleis, smeer hulle in met uitsoeksalf terwyl hulle wyn drink en musiek op die harp maak.

Dit klink of die lewe hulle goed behandel. Hulle leef gerieflik.

Geen van die voorbeelde wat genoem word is per sé verkeerd nie. Wat verkeerd is, is dat die vernietiging van “Josef” hulle onaangeraak laat. Dit traak hulle nie dat daar mense is wat ten gronde gaan terwyl hulle in weelde leef nie.

Amos se boodskap is ‘n wekroep ook vir my wat in relatiewe vrede en gemak leef, in die midde van ‘n land met baie nood. Die Here wil in my lewe sien dat ek geraak word deur die pleidooi van my medemens.

Amos 5

Ek wonder of die erns van hierdie hoofstuk ons nog tref? Hoofstuk 5 staan bekend as Amos se treurlied oor Israel. Hoor jy dit? Hoe sal jy voel as jy hoor dat God ‘n treurlied oor jou lewe sing?

In wese is dit omdat Israel van kernsake, randsake gemaak het – en van randsake, kernsake: Die beoefening van die kultus naamlik die bring van offers en die nakom van feeste is ‘n randsaak. Heeltemal tereg sê God by monde van Amos dat hulle nooit tydens hulle reis in die woestyn offers moes bring nie (5:25).

Tog het Israel intussen hierdie aspek verhef asof dit die wesenlike is wat God van hulle verwag. Dít, terwyl hulle nalaat om geregtigheid aan armes te laat geskied (vers 11).

Daarom vind daar in vers 4-6 ‘n uiters skerp teenstelling plaas tussen die kultusbeoefening en ware soeke na die wil van die Here. Mens noem hierdie vorm ‘n parallelisme

  • So sê die Here vir Israel:Vra na my wil, dan sal julle lewe!

    • Moenie in Bet-El gaan raad soek nie, moenie na Gilgal toe gaan of verbygaan Berseba toe nie.
    • Gilgal sal in ballingskap weggevoer word, en Bet-El sal tot niet gaan.
  • Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe!

Die implikasie hiervan is skokkend! Die georganiseerde beoefening van godsdiens in Amos se tyd het so ver afgedwaal van wat waarlik vir die Here belangrik is, dat die Here Homself van dit distansiëer. Dit is ‘n wekroep vir almal van ons wat vandag nog in die kerk ook is.

Hoofstuk 5:15 verwoord op ‘n treffende wyse wat die essensiële is wat die Here van ons verwag:

15Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe.

Amos 4

Mens verstaan hierdie hoofstuk amper beter as jy dit van agter af terug lees…Amos is steeds besig met sy vertoë teen Israel. Dit lyk asof hy nou die rol van Bet-El se priester inneem, want hy nooi almal uit om hulle offers te bring en aan die kultus deel te neem:

“Bring julle offers vroegmôre, julle tiendes op die derde dag. Verbrand die ongesuurde brood as dankoffer, kondig julle vrywillige offers aan, laat die mense dit hoor. So hou julle mos daarvan, Israeliete, sê die Here my God”

Sy uitnodiging is egter sarkasties bedoel. Hy sê immers:

“Kom na Bet-El toe as julle wil sonde doen, na Gilgal toe as julle nog meer sonde wil doen.”

Hy sinspeel met ander woorde daarop dat die volk “skeinheilig” is. Hulle “dien” oënskynlik die Here want hulle kom al die uiterlike gebruike van die kultus na. Maar hulle laat na om reg te geskied aan die armes.

Vandaar die inleiding van die gedeelte wat lui “julle deur wie die swakkes verdruk en die armes mishandel word”

Amos herinner ons dat dit baie maklik vir my en jou is om onsself op die skouer te klop, en te voel ons dien die Here want ons is betrokke by die kerk of ons het een of ander sigbare uitlewing van ons godsdientige oortuiging. Maar as daardie godsdienstige oortuiging nie grondvat in ons etiek nie, dien ons die Here net met ons lippetaal.