Category Archives: Numeri

Numeri 23

Dit is ‘n baie humoristiese toneel wat in Numeri 23 afspeel: Die Moabietiese koning, Balak, kry die towenaar Bileam om die Israeliete te vervloek. Hulle staan op ‘n berg en kyk uit oor die vlakte waar die volk versprei is. Dit moes vir Balak angswekkend wees om so baie mense skielik in sy landsgrense te sien deurtrek.

Daarom betaal hy vir Bileam goeie geld om ‘n vloek oor die volk uit te spreek wat hulle kragte sou verminder. Die ironie is dat ons in Bileam – die bedenklike figuur – onverwagse integriteit vind. Hy is nie bereid om ‘n vloek oor die volk uit te spreek as die Here dit nie self vir hom sê om te doen nie.

Nodeloos om te sê, gaan die Here nie sy uitverkore volk laat vervloek nie. So ons sit met ‘n toneel waar Bileam met sy uitspraak begin, en Balak wat gretig sit en luister hoe sy vyande vervloek gaan word, hoor tot sy groot onsteltenis dat Bileam hulle begin seën!

Balak neem Bileam na ‘n ander uitkykpunt en vir ‘n tweede keer boemerang sy plan in sy gesig. Met sy hande in sy hare probeer hy later vir Bileam net stilkry, en sê hy “as jy nie my vyande kan vervloek nie, hou dan ten minste net op om hulle te seën!”

Die gedeelte laat my gedagtes in twee rigtings trek: Eerstens herinner Balak my aan ons eie geneigdheid om godsdiens tot ons eie voordeel – en tot nadeel van my opponente te gebruik. As ons rusie met iemand het is ons lief daarvoor om God se beskerming vir onsself toe te eien, en God se oordeel oor ons opponente toe te dig. Ons laat God in die proses as’t ware buikspreek.

Jesus skep vir ons ‘n probleem in so ‘n geval. Ons kan nie Hom annekseer en as ‘n handpop gebruik om te sê wat ons eintlik wil sê nie.

Balak vra vir Bileam: “Wat het jy my nou aangedoen? Ek laat jou kom om my vyande te vervloek en jy seën hulle!” En in die antwoord van Bileam hoor ek iets van Jesus se woorde: “Ek moes tog presies kom sê wat die Here my voorgesê het”

As ons na Jesus toe wil draai om te hoor dat ons ons vyande kan vervloek, dan kyk ons in die verkeerde rigting. Hy gaan vir ons sê dat ons hulle moet seën.

Die tweede ding waarna my gedagtes toe draai, is die beskerming wat God se kinders van Hom geniet. Niemand kon – met watter duistere kragte ook al – die volk vervloek wat God gekies het om te seën nie. En op ‘n soortgelyke wyse geniet ons die Here se beskerming. In Christus is ons “geseëndes van die Here”, en niemand – nie eers godsdientige mense – kan God van plan laat verander om ons eerder te vervloek nie.

Numeri 22

Die hoofstuk hoor Balak en Bileam maak baie vrae los: Hoe maak mens sin van iets soos Bileam se donkie wat aan die praat gaan? Hoe verstaan mens die oënskynlike weerspreking die teks? (Vers 21 sê die Here een iets net om in vers 22 iets anders te sê) En hoe verduidelik mens die feit dat die Here ‘n towenaar in sy diens gebruik?

Vandag wil ek net ingaan op die laaste vraag. Ons weet vanuit die Skrif dat om gebruik te maak van towenaars, waarsêers en fortuinvertellers, teen God se wil is. Hy wil nie hê dat ons aan hierdie sondige praktyke meedoen nie. Maar waarom verskyn die Here die dan aan Bileam? Waarom praat Hy met iemand wat booshede doen?

Daardie vraag is juis die les van die stuk: Die Here kan enige persoon as instrument gebruik om sy wil te laat geskied.

Net soos wat die Here die towenaars in Egipte gebruik het, so kan Hy ook vir Bileam gebruik. En op ‘n soortgelyke wyse kan Hy ook vandag enige persoon gebruik om sy wil totstand te laat kom.

Ons mag nooit onsself so aanmatig om die Here te probeer voorsê wie Hy kan gebruik en wie nie. Die Here kan die kwade en selfs die sonde inspan om uiting aan sy wil te gee.

Numeri 21

Vanoggend tref die volk se wisselvalligheid in hulle toewyding my opnuut.

In Numeri 21 lees ons hoe die Israeliete die streek “Gorma” oorwin. Dit word net in ‘n sin of twee bespreek, en dit is maklik om te mis dat dit dieselfde plek is waarvan ons in Numeri 14:41 gelees het – toe die volk verslaan is omdat hulle sonder God wou gaan veg. Hierdie keer doen hulle ding reg en maak hulle ‘n gelofte aan die Here.

Kan dit wees dat die volk besig is om te groei in hulle toewyding? Is hierdie nie ‘n goeie teken dat hulle ‘n belangrike les geleer het nie?

Miskien tog – maar moet nie te vinnig opgewonde raak nie. Vanaf vers 4 lees ons weer hoe die volk opstandig raak teen die Here, en hoe hulle Hom en Moses van vooraf weer begin verwyt.

Israel se storie van toewyding,  loop op en af, heen en weer. Dit is op sy beste uiterste wisselvallig. Net as dinge goed lyk, val hulle weer. 

Hulle toewyding, is eintlik maar net ‘n prentjie van my en jou toewyding. Dit help nie ons word “lam” van irritasie met die volk se toewyding nie – ons s’n lyk niks beter nie.

In kontras daarmee, staan Jesus. Sy toewyding aan ons taan nooit nie. Sy liefde vir ons het Hom getrou aan ons gehou tot die dood in die kruis – en selfs daarna. 

So in plaas daarvan om vandag nuwe voornemens oor jou toewyding te maak – net om later weer te misluk – kom ons verlustig ons in Jesus en kom ons verheug oor sý onfeilbaarheid.

Numeri 9

Daar word in hierdie hoofstuk ‘n woordprentjie aan ons geskilder van ‘n volk wat nie ‘n voet versit het as die Here nie so beveel het nie.

Of hulle verder getrek het en of hulle bly kamp het, het alles van die wolk afgehang wat God op die tabernakel laat neerdaal het. As die wolk begin beweeg het, het hulle kamp opgeslaan. As dit gaan staan het, het hulle uitgespan.

Dit moes wonderlik gewees het om op so ‘n klinkklare manier God se leiding te ervaar. Ek vra myself af op watter manier God vandag my lei? Definitief nie deur ‘n wolk nie. Maar wel deur sy Woord, deur medegelowiges, deur vrede/onrustigheid ens.

Die vraag is seker of ek ewe gehoorsaam reageer op sy leiding? Sien ek sy leiding raak – en as dit sien, gee ek gehoor of steur ek my nie daaraan nie?

Mag ek ‘n lewe kweek wat spreek van sensitiwiteit vir God se Gees – en gehoorsaamheid aan sy leiding.

Numeri 8

Dit klink dalk vir ons vreemd al die rites waardeur mense moes gaan alvorens hulle geskik was om in diens van die Here te staan. Maar mens moet onthou dat elke aksie ‘n simboliese betekenis gehad het. Al die fisiese handelinge het geestelike boodskappe oorgedra.

Die Leviete het in die tabernakel die volk van God uitgebeeld. Hulle was soos dienswerkers wat in en om die tent van ontmoeting die priesters bygestaan het in verantwoordelikhede, en gehelp het in los werkies. Hulle het die volk verteenwoordig in die heilige drama wat elke dag agter die mure van die tent van ontmoeting afgespeel het.

Omdat hulle die volk uitgebeeld het, moes hulle ook iets van die toewyding uitbeeld wat die Here by sy volk gesoek het. Vandaar die besondere klem op reinheid deur klere te was ens.

Dit bly dus ook vir ons vandag ‘n “prentjie” van toewyding. Vir ons is toewyding vandag ‘n hartsgesindheid. Maar ons sou met reg kon vra of daar nie ook plek is dat ons toewyding met fisiese gebare uitgeleef word nie? Natuurlik is daar altyd die gevaar dat toewyding wat ekstern is sonder ‘n interne hartsgesindheid,  uitloop op skeinheiligheid. Maar is toewyding aan die Here wat ‘n interne hartsgesindheid het, sonder dat mense ooit iets daarvan ekstern sien, nie dalk ewe skeinheilig nie?

Numeri 7

Ons is vandag terug in Numeri. Die hoofstuk vertel vir ons hoe die volk die tabernakel – en veral die altaar – gewy het.

Die hoofstuk bevat ‘n breedvoerige uiteensetting van hoe die volk oor ‘n tydperk van 12 dae die altaar gewy het. Elkeen van die stamme het kans gekry om hulle offers te bring.

Dit word vir ons uiteindelik ‘n prentjie van hoe heelhartig die volk die tabernakel aanvaar het – maar ook hoe toegewyd hul was in hul inwyding daarvan. Ons sien ook dat hul toewyding in konkrete terme uitgedruk word. Hulle offers was sigbaar en tasbaar.

Ek sê maklik “ek is lief vir die Here”. Ek praat maklik van ‘n “commitment vir Jesus” of om “toegewyd” te leef. Hierdie goed is baie meer as net ‘n hartsgerigtheid. Dit moet ook in my lewe op ‘n konkrete manier gestalte kry.

Dalk spel mens vandag toewyding nie meer “o-f-f-e-r-s” nie, maar “o-m-g-e-e”. Dalk spel jy deesdae liefde as “m-o-e-í-t-e”.

Van die os op die jas, die teks bevat ook ‘n interessante opmerking oor God se stem. Moses het God se stem op ‘n hoorbare manier van die verbondsark gehoor kom! (Vers 89)