Category Archives: Lukas

Lukas 24

Ons kom vandag aan die einde van die evangelie van Lukas. In hierdie laaste hoofstuk lees ons van etlike verskynings van Jesus. Één daarvan is aan die Emmausgangers.

Wat my vandag tref is Jesus se medikasie vir twyfel. Die Emmausgangers vertrek uit Jerusalem – wég van die ander volgelinge van Jesus – en geleerdes meen dit simboliseer hulle ontnugtering. Hulle gaan nou terug na dit wat hulle vroeër gedoen het. Hulle maak geen geheim daarvan dat hulle gehoop het dat Jesus die Messias sou wees nie. Maar dit is nou al die derde dag na sy dood…

Die interessante is dat Jesus nie Homself maar net aan hulle openbaar en sê: “Siedaar! Hier is Ek!” nie. Om een of ander rede dink Jesus dit is nie wat nodig is om hulle twyfel op te klaar nie. Jesus se medikasie vir hulle twyfel is die Skrif…

“Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.” (Lukas 24:27)

Is die presies die teenoorgestelde hoe ons werk nie? Wanneer ons ‘n seisoen van twyfel beleef, vermy ons juis die Skrif. Lyk my ons probeer geestelik gesond word sonder geestelike medisyne. Dalk is ons nie dan so ernstig om gesond te word as wat ons voorgee om te wees nie.

Onthou dit die volgende keer wanneer jy deur ‘n moeilike tyd gaan: Verhoog jou inname van die Skrif – moet dit nie verminder nie. Dit is op voorskrif van Jesus.

Lukas 23

Ek kom nie vanoggend verder as om na te dink oor Pilatus nie. Daar is iets humoristies in die manier waarop Jesus vir hom ‘n warm pattat word. Hy weet nie wat om met Jesus te doen nie. Hy probeer Jesus iemand anders se probleem maak en stuur Hom Herodes toe. Maar die probleem wil nie weggaan nie, want Herodes stuur Jesus terug.

Die humor verander nou in ironie. Pilatus het probeer wegkom van ‘n besluit oor Jesus, maar ons kan nooit wegkom van so ‘n besluit nie. Glo ons Jesus is Wie Hy sê Hy is? Mens kan nie daardie besluit wegskuif en hoop iemand anders maak die besluit vir jou nie. Mens moet daardie besluit sélf maak – soos Pilatus uitgevind het.

Maar dan verander die genre van ironie na die genre van tragedie. Pilatus bevind Jesus onskuldig. Hy oordeel dat Jesus wél is Wie Hy sê Hy is…maar hy is nie bereid om die gevolge van sy besluit te dra nie. As Hy deurgedruk het met sy bevinding van Jesus, dan het daar opstand uitgebreek. Dit was iets iets wat hy ten alle koste wou vermy, want dit sou op sy CV by die keiser baie sleg lyk. En daarom gaan hy teen sy gewete in en lewer Jesus uit om as skuldige gekruisig te word.

Hy kan miskien sy hande in onskuld was…hy kon dit 10 keer gewas het. Hy sal altyd in die geskiedenis onthou word as die man wat nie die moed van die oortuiging gehad het om by sy besluit oor Jesus te bly nie. Pilatus word ‘n patetiese figuur.

Die lewe van Pilatus word ‘n wekroep vir elkeen van ons. Nie net moet elkeen van ons ook ‘n besluit oor Jesus maak nie – maar ons moet ook bereid wees om met die gevolge van daardie besluit saam te leef. Vir baie van ons impliseer ‘n besluit vír Jesus, ook ‘n besluit om deur vriende verwerp te word of om kontrakte te verloor vanwë die morele vereistes wat saam met Jesus kom.

Dit help nie ons loop net halfpad nie. Mens kan nie vír Jesus kies, maar die opstand vermy en jou “hande in onskuld was nie”. Jesus eis alles of niks.

Lukas 22

Aarde…hierdie hele hoofstuk van vandag wemel weer van juwele. As ek net één mag kies sal ek sê dat die 3 verse van 24 tot 27 my geraak het:

Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Maar Jesus sê vir hulle: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien. (Luk 22:24-27)

Hierdie is waarskynlik die mees klassieke begronding vir wat ons vandag noem “servant leadership”. Wêreldse leiers probeer die leer van mag en posisie klim. Die een wil belangriker as die ander wees. Jesus sê die ironie is dat wanneer hulle bo uitkom, hulle die mense forseer om hulle “weldoeners” te noem. So asof hulle alles uit onselfsugtigheid vir ander gedoen het.

Daarteenoor is Christenleiers veronderstel om mag af te wys en voorskote aan te trek. Ons moet dienend optree. Dit roer my as Jesus op hierdie punt Homself as voorbeeld voorhou. Hy was inderdaad die verpersoonliking van God se dienskneg.

Die hartseer van dit alles is egter die konteks waarin die openingsverse afspeel: Die dissipels stry oor wie die belangrikste is, die aand voor die belangrikste gebeurtenis in die mens se geskiedenis afspeel – die kruisiging. Hulle is so opgetrek met hulleself en hulle eie egos, dat hulle blind is wat besig is om te gebeur en wat die Here gaan doen.

Is ek nie ook soms so ingesluk in myself dat ek dít wat God wil doen, mis nie? Ek kan net vanoggend bid dat die Here my sal wegkyk van myself en my eie koninkryk, en my konstant sal laat kyk na Hom en sý Koninkryk.

Lukas 8

Praat van ‘n storie vol paradokse! Die storie oor die besetene wat in die gebied van die Geraseners bevry word, draai glad nie uit soos ons verwag nie.

Die gemeenskap het hierdie besete man uitgestoot uit vrees wat hy aan hulle kan doen. Toe Jesus voet aan wal sit, word Hy deur hierdie man begroet met die woorde om asseblief weg te gaan. 

Jesus genees hierdie man tot so ‘n mate dat hy weer gereed is om in die gemeenskap ingeneem te word. En dit is hier waar alles omvergegooi word…

Die verhaal eindig met die gemeenskap wat pleit dat Jesus moet weggaan en die man – die einste man wat Jesus aanvanklik weggejaag het – smeek nou vir Jesus om te bly.

Jy sou verwag dat die gemeenskap baie bly sou wees dat hierdie man nou genees is en nie meer ‘n gevaar vir homself of vir hulle is nie. Maar die rede waarom die gemeenskap vir Jesus wil weg hê, is omdat Jesus se aanraking van die man ‘n baie negatiewe effek op hulle bates gehad het. Ál hulle varke het weggehardloop! Hulle was bang dat hoe langer Jesus in hulle midde bly, hoe groter skade hulle dalk kan lei. Hulle was sekerlik reg: Jesus keer altyd die establishment om.

Die teks lei my om myself af te vra of ek regtig Jesus by my wil hê? Wat as Jesus vandag uitgeworpenes wil herstel? Wat as dit dalk van my gaan kos? Is my eie materiële en finansiële welstand in lyn met God se koninkryk? 

Lukas 7

Johannes se volgelinge kom by Jesus aan om namens Johannes seker te maak of Jesus werklik is wie hulle gehoop het Hy is.  Miskien het hulle gedink sou Jesus al teen hierdie tyd met sy politieke veldtog begin het? Miskien is dit gewone twyfel soos wat ons almal van tyd tot tyd oorkom.

Ek is altyd verbaas hoekom Jesus nie net Johannes direk geantwoord het nie. Maar Jesus antwoord met die woorde: Luk 7: 21 “Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig“.

Wat agter hierdie antwoord sit is die Messiaanse profesieë in die Skrif. Jesus versterk nie Johannes se geloof deur sy ego te streel nie, maar deur hom weer na die Skrif toe te neem.

Is dit nie presies die teenoorgestelde wat ons vandag doen nie? Ons dink die teengif vir twyfel is nog kennis, nog boeke. Jesus se medisyne was Skrif.

Lukas 6

Ek is geraak deur die erns waarmee Jesus sy groot besluite geneem het. 

In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het. (Lukas 6:12)

Voor Hy 12 dissipels gekies het wat die wêreld moes verander, het Hy gebid oor die saak.

Ek kom ook gereeld te staan voor groot besluite. Ek benodig daagliks wysheid om ‘n fyn onderskeidingsvermoë te openbaar. Keuses tussen reg en verkeerd is dalk ooglopend. Maar dit is moeiliker as mens moet kies tussen ‘n goeie opsie en ‘n beter opsie. Watter een is dan die regte keuse?

Daarvoor het ek die Here se leiding nodig. Ek kan – soos Jesus – bid voor ek ‘n besluit moet maak, en dan gelei word deur vrede.

Lukas 5

Mysterium tremendum et fascinans“. Dit was die slagspreuk van Rudolf Otto. Hiermee het hy iets probeer verwoord van die manier waarop die mens, God ervaar. Ons Godsbelewenisse is dikwels ‘n”mysterium” (misterieuse) ervaring van gelyktydige “tremendum” (angs) en “fascinans” (verwondering).

Otto se navorsing was gebaseer op hedendaagse voorbeelde. Maar die verskynsels in die Bybel volg dieselfde patroon. Neem bv Petrus se ervaring:

Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens.” (LUKAS 5:8)

Na die visvangs beleef Petrus verwondering (oor Jesus se grootheid) en angs (oor sy eie kleinheid en sondigheid).

Die reaksie van die mense wat die genesing van die verlamde man gesien het, eggo Petrus s’n:

Almal het verbaas gestaan en God geprys en vol eerbiedige vrees gesê: “Vandag het ons ongelooflike dinge gesien.” (LUKAS 5:26)

Die enigste mense in hoofstuk 5 wat nie “oop” was om Jesus te sien vir wie Hy is nie, was die Skrifgeleerdes en Fariseërs. Hulle wettiese juistheid het die indruk geskep dat hulle vír God is. Maar inderwaarheid was hulle nie bereid om ‘n God te leer ken wat buite hul boksie opereer nie.

(Dit is dan ook Jesus se punt in vers 36-39)

Mag my vooropgestelde idees van hóé God móét wees, my nie van die geleentheid ontneem om vars ontmoetings met Hom te beleef nie. Mag ek altyd “oop” wees om deur Jesus verras te word.

Lukas 4

Dikwels word ons spanning veroorsaak deur die verwagtinge wat ander mense oor ons koester. Jy voel jy moet opleef en voldoen aan al die verwagtinge wat ander aan jou koppel. Die probleem is nie dat die mense die verwagtinge oor jou koester nie. Die probleem is dat jy jou lewe volgens ander se smake en wense begin inrig. Dít veroorsaak spanning, want jy leef nie dan eg nie.

Ek sien mense het dit ook met Jesus gedoen. Kapernaum wou hê Hy moet by hulle bly. Kyk net hier:

Teen dagbreek het Hy uitgegaan en na ‘n eensame plek toe vertrek. Die mense het Hom begin soek, en toe hulle by Hom uitkom, het hulle Hom probeer beweeg om nie van hulle af weg te gaan nie. Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek moet ook aan die ander dorpe die evangelie van die koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.” (Luk 4:43)

Jesus se antwoord is net so verstommend. Hy weet presies waarvoor Hy gekom het en waartoe Hy geroep is. Eintlik is die hele hoofstuk 4 van Lukas sprekend daarvan.

Die bevryding van die besetene in Kapernaum (vers 31-37) en die genesing van Petrus se skoonma (vers 38-41) is nie losstaande, lukrake insidente nie. 

Dit is alles die letterlike vervulling van die Jesaja teks wat Jesus in Nasaret voorgelees het (vers 18-19). Hy bewerk vrylating vir gevangenes en uitkoms vir bedruktes. Jesus was soos ‘n vlymskerp spiespunt en het presies geweet waarom Hy doen wat Hy doen.

Op ‘n persoonlike vlak is dit ook wat ek begeer vir my eie lewe. Dat ek nie van bakboord na stuurboord geslinger sal word deur die smake, voorkeure en wense van ander mense nie, maar dat ek gedryf sal word deur wat ek wéét die Here van my -vir hierdie oomblik – verwag.