Category Archives: Levitikus

Levitikus 19

Ek geniet altyd die boek Levitikus vreeslik baie. En vandag se hoofstuk is geen uitsondering nie.

Mens kan maklik verkeedelik dink dat niks in vandag se hoofstuk meer raakvlakke het met vandag se samelewing nie. Maar ons sal verkeerd wees as ons dink dat mens altyd ‘n direkte, een-tot-een, raakvlak moet vind.

Dit gaan veel eerder oor beginsels wat mens moet soek. Kom ek verduidelik…

Vandag se gedeelte begin met die bekende oproep: “Wees Heilig want Ek die Here julle God is heilig.” Lev 19:2

En dan volg daar ‘n rits bepalinge oor hoe ‘n heilige lewe behoort te lyk. Mens moet toegee, die outeur(s) het gevisualiseer dat ‘n heilige lewe baie prakties uitgeleef gaan word. ‘n Heilige lewe sou nie ‘n kloosterlewe wees, waar jy van ander mense afgesonder is nie.

‘n Heilige lewe sou een wees waar jou lewe ten diepste ge-integreer sou wees met die lewe van ander mense rondom jou – en selfs die omgewing waarbinne jy jou bevind.

Ja, die voorbeelde wat in Hoofstuk 19 opgenoem word is volksvreemd vir ons vandag. Daar is tog nie meer iets soos tempelprostitusie vandag nie.

Maar kyk ‘n bietjie wyer. Wat simboliseer die voorbeelde wat opgenoem word? Gou sal jy sien dat dit oor die verhoudinge gaan waarbinne ons staan.

Die oproep begin dus met: “Wees heilig want Ek is heilig”. En dan lyk heiligheid so…

  • Verhouding met God het ‘n effek op jou verhoudinge met medemense. (bv vers 32)
  • Verhouding met God het ‘n effek op jou verhouding met die natuur en omgewing waarbinne jy leef. (bv 23)
  • Verhouding met God het ‘n effek op jou verhouding tot die geesteswereld. (bv 31)

Die groot gedagte is dat ‘n heilige lewe waartoe ons opgeroep word, ‘n lewe is waar jou verhouding met God ten diepste ge-integreer is met elke faset van jou alledaagse lewe.

 

Levitikus 18

Vandag se hoofstuk handel oor verskillende soorte seksuele verhoudings waarvan die Israeliete hulself van moet weerhou.

Miskien is die eerste beginsel wat ons uit hierdie hoofstuk kan haal, dat ons seksuele lewe nie losgemaak kan word van ons verhouding met God nie. Vanuit die Woord sien ons dat die Here Hom die reg toe-eien, om eise aan ons te stel rakende die uitlewing van ons seksualiteit.

Die tweede ding wat ons moet raaksien, is dat die Israeliete opgeroep word om seksuele lewens te handhaaf wat baie anders lyk as die nasies rondom hulle. Vers 3 sê dat hulle lewe baie anders moes lyk as die Egiptenaars en die Kanaäniete wat hulle buurvolke was. Ons sou kon sê dit was die norme – of die kultuur – waarmee hulle baie goed bekend was.

As ons dit wil kontekstualiseer vir onsself, dan gaan ons moet sê dat, níe net het die Here ‘n appél op die seksuele lewens van sy volgelinge nie, maar die effek daarvan gaan waarskynlik wees dat ons lewens – ook op ‘n seksuele vlak – baie anders gaan moet lyk as die lewens van ander mense wat hulle in die dominante kultuur bevind.

Levitikus 17

So in hierdie tyd van Paasfees sien ons in vandag se hoofstuk van Levitikus 17, twee baie belangrike dinge. Die eerste het te make met die plek waar die offers gebring moes word, en die tweede handel oor die bloed wat daarmee gepaardgaan.

1.) Oor die plek

Ons sien hier die eerste voorloper tot die sentralisering van die offerkultus…

“Die bedoeling is dat die Israeliete nie meer diere in die veld moet slag nie, maar dit vir die Here moet bring. Hulle moet dit na die ingang van die tent van ontmoeting na die priester toe bring en daar slag as maaltydoffer vir die Here. Die priester moet die bloed sprinkel teen die altaar van die Here by die ingang van die tent van ontmoeting en ook die vet op die altaar verbrand as ’n offer wat deur die Here aanvaar word. Die Israeliete mag nooit weer diere slag vir die veldgode en só aan die Here ontrou wees nie.” Lev 17:5

Aanvanklik kon mense offers vir die Here bring op enige plek. Maar dit het gepaard gegaan met baie onreëlmatighede. Sinkretisme het ontstaan deurdat mense afgodediens met offers aan die Here vermeng het. Om dit te keer en groter beheer uit te oefen, sou die mense voortaan net offers by die tent van ontmoeting kon bring.

Later sou die tent van ontmoeting vervang word met die tempel in Jerusalem. Hoekom is dit belangrik vir ons? Want as dit nie was vir die sentralisering van die offerkultus nie, sou die betekenis van Jesus se offer in Jerusalem nie vir ons so ooglopend gewees het nie.

2.) Die bloed

Die tweede interesantheid hou verband met die verbod om bloed te eet. Die rede hiervoor is omdat daar geglo is dat bloed gelykstaande aan lewe is. Dit is nie so vergesog om dit te glo nie. As jy te lank bloei, gaan die lewe immers uit jou uit.

In baie van die afgodsdienste van die omliggende volke is daar bloed gedrink van bv bulle, en dan is daar geglo ontvang jy die krag van die bul – want die lewe van die bul is in sy bloed. Israel word dit egter verbied.

Waarom is dit vir ons betekenisvol tydens Paasfees? Want ons glo dat die bloed van die Lam ons reinig. Dit is deur die bloed van die Lam wat ons Nuwe Lewe ontvang – ons ontvang Sý Lewe.

Levitikus 16

Hmmm…vanoggend se gedeelte gee my ‘n glimlag: Môre is dit Groeie Vrydag en vandag lees ons van die jaarlikse versoendag.

Kan ons ooit besef hoe belangrike gebeurtenis hierdie vir die volk was? Die héle offerkultus het deur die jaar opgebou na hierdie punt: Een keer per jaar word daar ‘n versoeningsoffer gebring vir ál die sondes van die héle volk. Natuurlik kon die offers nie regtig sondes wegneem nie. Ons weet dit want die Bybel self sê so:

Die wet van Moses is slegs ‘n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ‘n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vry maak nie.(Heb 10:1)

Dit is asof die volk geweet het – hoe belangrik die offerkultus ook al vir hulle was – dat dit slegs heenwys na iets groter, beter, waardevoller wat nog moet kom. Jesus het op één dag, ál die sondes van die héle wêreld op Hom geneem.

Die verskil was dat Hy dit nie jaar na jaar weer hoef te doen nie. Dit was één offer vir alle tye (sien Heb 10:11-12). Dit beteken dat hier waar ek nou sit – en daar waar jy nou sit – is ons sondes vergeef en afgeskryf. Ons is vry!

Neem dit in ontvangs en maak dit jou eie. Moenie langer in die verlede dwaal nie. Leef ‘n nuwe lewe!

Levitikus 15

Vandag se hoofstuk in Levitikus handel oor soorte uitskeidings en afskeidings uit ‘n mens se liggaam. Ek kan heeltemal insien waarom mense – nadat hulle so ‘n hoofstuk gelees het – kan voel dat die Bybel vêr van hulle leefwêreld verwyderd is en selfs irrelevant is.

Daar was egter goeie redes waarom daar reinheidswette was. As jy meer wil weet oor hoe die konsepte “rein” en “onrein” gewerk het, kan jy op hierdie skakel klik. Dit vertel ook vir jou hoe ons gedeeltes soos hierdie vir vandag kan interpreteer.

Met betrekking tot vandag se hoofstuk, is dit belangrik om weet dat daar geweldige groot klem op grense geplaas is in die antieke tyd. Die liggaam het ook grense gehad. Wanneer ‘n grens gebreek word, is dit onrein – en vandaar al die stipulasies oor semen, maandstondes ens wat jou onrein maak.

Die belangrike ding om op te let, is dat die volk hierdeur iets van God wou naboots. Hulle het geglo dat God grense onderhou en duidelik tussen dinge onderskeid tref: Hy skei dag van nag, vasteland van water en diere van die mens.

Deurdat die mens dan ook groot klem lê op grense, boots hulle nie net iets van sy karakter na nie, maar word dit ook in hulle harte vasgelê dat hulle as ‘n volk “afgegrens” moet leef van ander en “anders” moet wees as die heidene rondom hulle.

Dit benodig dus ‘n lang verduideliking om te sien hoekom vandag se teks wel relevant is – maar in wese dring die teks daarop aan dat ons onsself afvra of ons lewens anders lyk as die wêreldlinge s’n rondom ons? Het ons meer liefde? Luister ons met groter begrip? Leef ons met sterker intergriteit, eerlikheid en opregtheid? Het ons ‘n dieper toewyding? Of lyk ons lewens ook maar soos ons omgewing?

Levitikus 14

Ek het ‘n paar riglyne gaan neerpen wat jou kan help met vandag se gedeelte in Levitikus. Klik gerus op die onderstaande skakel:

Hoe werk “rein” en “onrein” – en wat is die betekenis daarvan vir vandag?

Rakende Levitikus 14 is dit vir my treffend dat dit ‘n priester is wat na die “onrein” persoon toe moet gaan – buite die kamp – en dan die persoon “rein” moet verklaar. Daarna moet die persoon ‘n offer bring wat die stand van reinheid as’t ware bekragtig.

Dit stel Jesus se bediening in ‘n heel ander lig. In die Nuwe Testament het Jesus die rol van die priester ingeneem deurdat Hy byvoorbeeld melaatses in die veld genees en rein verklaar het.

Waar mense onder die ou verbond self hulle offers moes bring, het Jesus dit in die nuwe verbond namens ons kom doen. Dit sal gepas wees as ons dit juis in hierdie week onthou wanneer ons die kruisiging van Jesus vier.

Levitikus 13

Vandag se gedeelte handel oor verskillende soorte velsiektes wat mense kon opdoen. Kyk net wat moes die persoon doen wat so ‘n siekte gehad het:

Iemand wat ‘n velsiekte het wat hom onrein maak, moet geskeurde klere dra en sy hare onversorg laat. Hy moet ook die onderste deel van sy gesig bedek en uitroep: ‘Onrein! Onrein!’ Hy bly onrein solank hy die siekte het. Hy moet dan ook in afsondering lewe en buite die kampplek bly.” (Levitikus 13:45)

Hoe vernederend moes dit nie gewees het nie?

Ek besef heeltemal hóékom hulle dit moes doen. Dit was om die verspreiding van siektes te voorkom. Hulle moes op ‘n manier keer dat die persoon ander aansteek.

Maar dink net hoe verskriklik vernederend dit vir hierdie persoon moes wees! Dink net hoe erg dit moes wees vir ‘n groepsgeorienteerde persoon om uitgesluit en afgesny te word van die groep.

Dit stel Jesus se bediening in ‘n totaal ander lig. Jesus het mense genees sodat hulle weer ingesluit kon word. Waar die Wet uitsluit, het Genade kom insluit.

Mag ek ook mense deur my doen en late insluit.

Levitikus 11 & 12

Vandag lees ons ‘n fassinerende gedeelte oor watter diere “rein” of “onrein” sou wees, asook wanneer ‘n vrou na swangerskap weer “rein” sou wees. Hierdie boksies van “rein” en “onrein” is die kategorieë waarvolgens die Ou Testamentiese mens sin gemaak het van die leefwêreld wat hom/haar omring.

Ek kan nogal dink dat dit vir mense moeilik is om te verstaan. Dit is dikwels selfs vir my moeilik te begryp. Ek sal probeer om ‘n stukkie verduideliking hieroor te skryf in die week wat kom, en dan sal ek jou daarvan laat weet.

Laat dit vir nou net genoeg wees om te sê dat Jesus die spelreëls alles kom verander het. Waar reinheid in die Ou Testament bedreig kon word deur iets wat van buite af, die grens deurbreek na binne, sê Jesus dat reinheid bepaal word deur wat “binne” aangaan.

Mag dit wat “binne” aangaan in ons, dan vir Hom tot eer wees.

Levitikus 7 (26 Maart)

Levitikus 7 bevat veredere stipulasies en verfynings oor die offer. Met die klem wat weer val op die bloed wat besprinkel moet word teen die altaar, trek my gedagtes terug na 1 Pet 1:2 “Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!”

Gebed: Laat daar dankbaarheid oor jou vloei as jy weet jy met die bloed van die volmaakte offer besprinkel is, en só daardeur vir altyd geheilig is.

Levitikus 6 (25 Maart)

My vriend, dit is Goeie Vrydag. Mag hierdie Paasfees jou hart aanraak.

Lev 6:12-13 Dit is interessant om te sien hoeveel moeite die priesters moes doen om toe te sien dat die vuur op die altaar nie doodgaan nie. Die vuur het natuurlik iets gesimboliseer van die Here se teenwoordigheid – en juis daarom was dit belangrik dat dit blywend moes brand.

Die Hebreerskrywer het later hierop ingespeel en geskryf: “Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit.” (Heb 10:11-12)

Sien jy dit raak? Hy speel die 2 priesters teen mekaar af. Die ou verbond se priester teenoor die nuwe. En die sleutel van die teks is in die postuur van die priester…as ‘n teken dat die offers nooit sou kon ophou onder die ou verbond nie, moes die priesters altyd staande bly. Maar Jesus Christus het nadat Hy sy offer gebring het, gaan sit. Dit is verby. Vir altyd.

Gebed: Ek kan aan niks anders dink om vandag oor te bid, as oor die kruis nie…